Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Die kerkraad van Kempton-Hoogland wag in afhanklikheid aansoeke in vir die onderstaande pos.
VAKATURE: VOLTYDSE MEDELERAAR
Sluitingsdatum: 31 Oktober 2022.
Gemeenteprofiel: NG Kempton-Hoogland is ’n familiekerk met ’n innooi-kultuur. Ons fokus op kinders en die gesin, en ons probeer ’n gasvrye, vriendelike omgewing skep vir gemeentelede en besoekers. Die gemeente het jong, werkende lidmate, gesinne met klein kinders, skoolgaande jeug en ook ouer lidmate wat deel vorm van die gemeente.
Ons beskryf ons roeping met vier woorde: Lig. Liefde. Lewe. Lof.
Ons bronteks is Matteus 5:13-16 wat ons so leef: Julle is hier om te wees – om God se kaleidoskoop van kleure aan die lewe te gee, om die lewe in te kleur met die kleure van God se liefde en goedheid, om ’n prisma te wees wat die lig wat God gee, opbreek in ligstrale wat mense se lewe in ’n veelheid van kleure ophelder. So help julle mense om die God-kwaliteit van hulle lewe te leef.
Leraarsprofiel:
• Moet ’n gelegitimeerde predikant binne die NG Kerk wees.
• Toepaslike ondervinding van vorige gemeente(s).
• ’n Geesvervulde, energieke leraar wat oud en jonk passievol kan bedien.
• Iemand wat ook graag broodbreek saam met andersdenkendes.
Pligte:
Die uitvoer van die bediening van die amp van leraar, in navolging van Christus, en soos vervat in Artikel 9 van die Kerkorde met hoofsaaklik ’n fokus op die volgende:
• Begeleiding, versorging en uitbreiding van die gesinsbediening.
• Gesinsgeoriënteerde prediking en toerusting.
• Pastorale versorging en ondersteuning van lidmate.
• Neem verantwoordelikheid vir die organisering en funksionering van die jeug en kinderbediening.
• Ander pligte soos met kollegas en kerkraad ooreengekom.
Die volgende sal in die aansoeker se guns tel:
• Fokus op, en ondervinding van, geestelike toerusting, en jeug- en gesinsbediening.
• Iemand wat nuut kan dink oor kerkwees binne die konteks van NG Kempton-Hoogland
gemeente.
• Missionale gerigtheid op die gemeenskap.
• Waardes van eenvoud, egtheid, inklusiwiteit en diensbaarheid.
• Kreatiewe, vernuwende en aktuele prediking.
• Die vermoë om verandering te bestuur.
Die volgende behoefte is ook verder by ons geïdentifiseer, en alhoewel dit nie ’n vereiste is nie, sal dit in die kandidaat se guns tel as hy of sy een of beide hiervan kan aanspreek:
• Musiek- en aanbiddingsleier by ons oggenddiens en hulp by ons aanddiens (indien ons volgende jaar ’n aanddiens gaan aanbied).
• Vaardig in die gebruik van sosiale en multimedia.
Vergoeding en voordele:
• Onderhandelbaar, met sinodale skaal as riglyn.
• Pastorie met munisipale dienste, selfoontoelae.
Aansoek:
• Aansoeke moet vergesel word van ’n CV, asook die name en kontakbesonderhede van drie referente.
• Stuur vir ons ’n kort video om jouself aan ons voor te stel. Hoe lyk jou gesin, troeteldiere of jou boekrak? (2 minute of korter).
• Aansoeker moet beskikbaar wees vir ’n onderhoud (in persoon of via Zoom), asook ’n preekgeleentheid.
Diensaanvaarding: 1 Maart 2023.
Navrae:
• Kontak mnr Dries van den Berg (voorsitter van die kerkraad) by 082 467 5314 of ds Jeanine Hepburn by 083 390 3858 vir navrae.
• Rig aansoeke per e-pos aan hoogland@mweb.co.za
Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling uit die aansoeke te maak nie.
