Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
VAKATURE VIR GEMEENTELERAAR
(ONBEPAALDE TERMYN)
Die NG Gemeente Gamtoosvallei-Oos is geleë in die prentjiemooi plattelandse dorp genaamd Patensie in die natuurskoon van die Oos-Kaap. Dit is hoofsaaklik ’n sitrusproduserende gemeenskap. Die gemeente bedien die gemeenskappe van Patensie en Hankey. Die gemeente is 87 km vanaf Gqeberha en 43 km vanaf Humansdorp geleë.
Patensie bied aan sy inwoners ’n rustige plattelandse plaasatmosfeer, ’n gemeenskap wat omgee vir mekaar, ’n onstuitbare geloof en wilskrag met aansteeklike entoesiasme. Die mense van Patensie vorm die kern van die dorp.
Menseverhoudings is belangrik en ons streef na onderlinge samewerking om die hartklop van die dorpe te versterk.
Ons nooi jou graag om die volgende voltydse leraar van hierdie gemeente te word.
• Ons wil jou nie net beperk tot die pligstaat van Kerkorde Artikel 9 nie. Ons nooi jou om op jou unieke wyse ons verder te help om God se vreugde oor sy gemeente te vermeerder.
• Ons is nie so geïnteresseerd in wat jy kan doen en wat jy ons kan laat doen nie. Ons is meer geïnteresseerd in wie jy is en wat jy ons kan help om te word.
• Ons wil hê ons leraar moet van binne na buite leef. Ons soek geloofwaardigheid. Ons soek nie ’n volmaakte mens nie, maar ’n eerlike en opregte mens wat ook, soos ons, broos en weerloos kan wees.
• Ons leraar moet bewus wees van persoonlike blinde kolle en onvermoëns. Ons leraar moet bereid wees om die bediening met ander te deel, sodat ons netwerke kan skep wat die gemeente en die gemeenskap kan help om ’n volronde bediening te bereik.
• Ons leraar mag nie bang wees om dapper, kreatief, vernuwend en toekomsgerig te dink en doen nie.
• Ons soek na iemand wat, eerstens, ’n dienaar van God en daarna ’n dienaar in die kerk is. Ons soek na iemand wat van sy/ haar familie, die plaaslike gemeente en gemeenskap sy/haar prioriteit sal maak.
• Ons leraar moet oor ’n goeie gereformeerde teologie beskik en moet dit entoesiasties en verstaanbaar kan vertaal vir die daaglikse uitdagings van ons lidmate.
• Ons leraar moet besondere moeite aan die dag lê met die geloofsgesprekke (eredien ste, weeklikse byeenkomste en so meer) as ’n persoonlike en lewende getuienis wat vloei vanuit ’n eerstehandse ontmoeting met God en die Woord.
• As jy ons beter wil leer ken, kan jy gerus gaan kyk na ons gemeentevideo op ons Facebook-blad – NGK Gamtoosvallei-Oos.
Help ons om jou te leer ken deur ’n kreatiewe CV van nie langer nie as drie bladsye te stuur na ngkgamoos@gamtoos.co.za
Ons sal ook graag die name en kontakbesonderhede van drie referente ontvang.
Die sluitingsdatum vir die indiening van CV’s is 27 November 2022. Ons sal jou CV deeglik oorweeg en mag dan besluit om jou vir ’n onderhoud te nooi. Die datum vir diensaanvaarding sal met die geskikte kandidaat onderhandel word.
Ons sal jou graag materieel versorg met ’n pakket wat voldoen aan die sinodale riglyne. Ons is ook bereid om na jou behoeftes te luister en daaroor te onderhandel. Die gemeente beskik oor ’n ruim pastorie.
Doen navraag by Kevin (082 463 5143) of by die skriba Ria (060 762 9916).
(Die gemeenteraad behou die reg voor om nie noodwendig ’n aanstelling te maak uit die aansoeke wat ontvang word nie.)
