Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Jan Breytenbach van Cullinan skryf: Ek was bevoorreg en geseënd om deel van ’n groep te wees wat gedurende die laaste week van Mei en eerste week van Junie die Pelgrimstog van Hoop (Tuinroete) vanaf Uniondale tot by die ligtoring in Mosselbaai (274 km) te kon stap.
LEES OOK: Nuwe pelgrimsroete: Geloof, hoop en roosterkoek
Hieronder volg ’n uittreksel van my brief wat ek aan ds Gert Nothnagel van Herold-gemeente geskryf het. So ’n stap is ’n bykans hemelse ervaring en kan net aanbeveel word. Dankie nogmaals aan almal wat by die reëlings betrokke was:
Goeienaand broer Gert
Ek was deel van stapgroep 48 wat van 26 April 2022 tot 11 Mei 2022 bevoorreg was om die Tuinroete van Hoop te stap.
Nou, bykans twee maande na ons die roete voltooi het en genoeg tyd gehad het om oor hierdie bykans hemelse ervaring te kon besin, wil ek net graag baie dankie sê vir almal wat betrokke was om in Christus se diens hierdie staproete vir ons moontlik te maak.
Wat het dit vir my persoonlik beteken?
(i) Ek het God leer ken in die grond waarop ek geloop het, in die klippies op die pad wat ek met my stewels vergruis het en daaraan gedink hoe Jesus tydens sy kruising vergruis is, in die verskeidenheid plantegroei langs die pad, in die lug wat ons ingeasem het, in my eie liggaam wat moes aanhou as die grondpad net opdraende en opdraende en opdraende is sonder enige skadu naby.
(ii) Ek het God veral leer ken in die mense met wie ons kontak gemaak het. Dit is vir my bewonderingswaardig dat iemand na sewe (7!!) jaar se droogte nog steeds kan sê dat die Here die reën sal stuur soos Hy dit goeddink. Ek dink aan mense wat gesê het dat die Here hulle spesifiek opdrag gegee het om hulle huise vir die pelgrims beskikbaar te stel.
(iii) Ek het God leer ken in die mense wat vir ons die heerlikste geregte voorberei het.
(iv) Ek het God leer ken in my broers en susters wat saam met my gestap het en hoe wonderlik dit was om mekaar te onderskraag.
(v) Ons groep het elke dag een van die 15 Pelgrimspsalms tydens oggendstiltetyd hanteer. Na brunch het ons ’n uur in stilte gestap wanneer jy net met God mag gepraat het en gedink het oor die dag se Psalm. Saans het ons terugvoer gegee oor ons individuele geprekke met God.
(vi) Wat die 15 dae stap (insluitend een dag rus op dag 10) vir my beteken het, was dat aan die einde van hierdie stap alle hindernisse en struikelblokke wat daar in my eie lewe tussen my en God was, deur God uit die weg geruim is. Dit is uitgepraat met en deur God. Dit laat ’n onbeskryflike gemoedsrus en vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dit het die stap oor-en-oor die moeite werd gemaak.
LEES OOK: ‘Elders’ se rustelose totruskoms op Tuinroete
Nou die pad vorentoe? God het ons deur ’n wonderlike meule gesit om ons skoon te was sodat Hy ons beter kan gebruik. Ons dank God vir elkeen wat God gebruik het om hierdie roete vir ons moontlik te maak en ons bid vir julle. God gebruik ons al klaar om meer aktief in ons eie gemeenskappe te wees en ons kan nie anders as om te getuig van hoe God julle gebruik het nie. Sy seëninge is meer as strome van bo!
