Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Uit Gustav se pen: Oor wetgewing en Afrikaans as geloofstaal

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.


’n Taal is ’n tuiste en in die konteks van godsdiens word taal ook ’n geloofstuiste, skryf dr Gustav Claassen. “Taal, en spesifiek Afrikaans, is vir die NG Kerk ’n uiters belangrike voertuig om geloofswaarhede te kommunikeer en in te aanbid,” skryf die algemene sekretaris van die NG Kerk. Hieronder gee Claassen lidmate konteks vir besluitneming oor die Konsepwysigingswetsontwerp op onderwyswette (BELAB).

 

Die Konsepwysigingswetsontwerp op onderwyswette

Die Konsepwysigingswetsontwerp op onderwyswette oftewel BELAB bevat voorstelle om die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996, en die Wet op Indiensneming van Opvoeders van 1998 te wysig. Die proses het in 2017 afgeskop met die eerste konsepwysigingswetsontwerp wat op 13 Oktober 2017 gepubliseer is vir openbare kommentaar. Die minister het egter, na heelwat reaksie van die publiek, rolspelers ’n tweede kans gebied om skriftelike insette te lewer.

Dié hersiene weergawe wat gedurende Desember 2021 gepubliseer is, is ’n voorstel van die departement aan die parlement en die parlementêre wetgewende proses het daarmee ’n aanvang geneem. Die wysigingswetsontwerp is beskikbaar by die volgende skakel: https://www.fedsas.org.za/Documents/Category/Comments-on-Policy-documents

Die wysigingswetsontwerp het positiewe voorstelle soos byvoorbeeld die verpligtend maak van graad R, ’n eenvormige stel maatreëls vir die verkiesing van beheerliggame en die kriminalisering van vals inligting deur ouers.

Die BELAB-wysigingswetsontwerp op basiese onderwys, het egter ook ten doel om besluite oor skole se taal- en toelatingsbeleid te sentraliseer en in die staat se hande te plaas. Dit verteenwoordig ’n ernstige aanslag op grondvlakdemokrasie.

Tans berus die bevoegdheid om ’n skool se taalbeleid te bepaal by die beheerliggaam. Beheerliggame se bevoegdhede is gegrond op grondwetlike beginsels wat die vennootskappe tussen die staat, skoolgemeenskappe en samewerkende regering onderskryf. Hierdie grondwetlike beginsels kom die duidelikste in die gedrang in die volgende artikels van die wysigingswetsontwerp:

  • Artikel 5, wat vir provinsiale onderwyshoofde die “finale gesag” oor leerlinge se toegang tot staatskole gee.
  • Artikel 6, wat vir provinsiale onderwyshoofde die “finale gesag” oor staatskole se taalbeleid gee.
  • Artikel 13, wat aan LUR’s vir onderwys die mag gee om skole te laat saamsmelt en die nuwe naam en adres van die nuwe skool te bepaal.

Hierdie nuwe voorstelle gee aan provinsiale politieke bestuurders outoritêre burokratiese magte met ongewenste en onvoorsiene uitkomste. Die sentralisering van mag en die vermindering van ouerbetrokkenheid sal uiters negatiewe gevolge vir Afrikaanse skole inhou. Ouers en voogde het volgens huidige wetgewing die primêre verantwoordelikheid vir die onderwys van hulle kinders en hulle het die reg om daaroor deur staatsamptenare gekonsulteer te word. Eienaarskap moet in die gemeenskap gesetel wees met voldoende ondersteuning deur die staat.

Dit is veral die voorstelle rondom die plek en belang van moedertaal in die wetsontwerp wat vir die kerk uitdagings inhou.

Die NG Kerk het ’n lang en nou verbintenis met Afrikaans as moedertaal. Ons moedertaal is immers ook ons geloofstaal. Lidmate bid in Afrikaans, lees die Bybel in Afrikaans, worstel oor groot lewensvrae met die woordeskat van ons moedertaal. Tydens pastorale begeleiding word die konneksie tussen pastor en lidmaat die beste bewerk as dit in ’n moedertaal gedoen word.

Die NG Kerk was saam met ander Afrikaanse kerke instrumenteel tot die geboorte en vestiging van dié jong taal, Afrikaans. Om in eie taal te aanbid was immers een van die nalatenskappe van die Hervorming en plaaslike geloofsgemeenskappe het as gevolg daarvan tot stand gekom. Die Bybelgenootskap het in 2020 reeds sy vierde vertaling van die Bybel in Afrikaans die lig laat sien. ’n Taal is ’n tuiste en in die konteks van godsdiens word taal ook ’n geloofstuiste. Taal, en spesifiek Afrikaans, is vir die NG Kerk ’n uiters belangrike voertuig om geloofswaarhede te kommunikeer en in te aanbid.

Dit is so dat die NG Kerk met sy groeiende missionale gerigtheid ’n behoefte ervaar aan die opsie van meertaligheid ten opsigte van sy bedieninge. Die NG Kerk is nie ’n politieke party of ’n kultuurorganisasie nie, maar staan in diens van die koninkryk. Daar is ’n groeiende aantal gemeentes wat multikulturele bedieninge ontwikkel. Kerkplantings en daarmee gepaardgaande die behoefte aan meertaligheid word al hoe meer ’n werklikheid. Nietemin kan ons nie ignoreer dat meer as 95 persent van NG Kerk-lidmate steeds verkies om in hulle moedertaal, Afrikaans, bedien te word nie.

Suid-Afrika het in ons nuwe grondwetlike bedeling doelbewus wegbeweeg van die model van staatskole. In ’n staatskoolmodel besluit die staat oor alles en oefen beheer oor alles uit. Die Suid-Afrikaanse Skolewet skep egter openbare skole – skole met volle regspersoonlikheid wat deur skoolgemeenskappe beheer en deur demokraties verkose lede van beheerliggame bestuur word. Dié voorgestelde wysigings ten opsigte van taal is daarop gemik om hierdie funksie van skoolbeheerliggame in te perk en neem ons terug na ’n model waar die staat oor alles beheer uitoefen.

Die wesenlike verandering wat die wysigingswetsontwerp ten opsigte van taal voorstel, is om aan die betrokke provinsiale departementshoof die mag te gee om die taalbeleid van ’n skool te bepaal. Hierdie voorgestelde wysiging kan tot gevolg hê dat die departementshoof sy/haar magte misbruik om die taalbeleid van ’n skool te bepaal.

Artikel 29(2) van die Grondwet erken dat elke persoon onderwys kan ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelik doenlik is. Die reg op onderwys in die taal van ’n leerder se keuse sal ooglopend nie “redelikerwys doenlik” wees as net enkele leerders van ’n skool aandring op onderrig in die amptelike taal/tale van hulle keuse nie.

Die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig, veral wat die grondslag- en primêre fases van onderrig betref, word algemeen deur opvoedkundiges erken en verdedig. Vir enige moedertaal is dit ’n voorwaarde dat dit vanaf vroeëkinderontwikkeling, en daarvandaan deur kleuterskool, laerskool, hoërskool en uiteindelik tersiêre fases belangrik geag word vir die ontwikkeling van leerders. Dit is ’n voorvereiste vir leerders om te kan vorder in vakke soos wiskunde, wetenskap en abstrakte denke. Die gewenste ontwikkelingsvlak van ’n leerder se moedertaal lê ook die noodsaaklike voorvereiste vir die aanleer van ’n tweede en derde taal. ’n Argument vir moedertaalonderrig is dus nie téén meertaligheid nie maar juis ’n voorwaarde daarvoor. ’n Belangrike voorvereiste vir die hantering van meertaligheid is die geankerdheid in ’n moedertaal.

Die noodsaaklikheid en demokratiese reg van moedertaalonderrig, en dit geld nie net vir Afrikaans nie, is ononderhandelbaar, veral in die grondslag- en primêre fase. Die opsie daarvoor word ernstig deur die BELAB-wysigingsontwerp uitgedaag en die moontlike implementering daarvan kan ’n ernstige terugslag vir Afrikaans wees met verdere gevolge vir die kerk en sy bedieninge in Afrikaans.

Hierdie berig is ná publikasie vir akkuraatheid aangepas. – Red.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top