Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Genesing vir die mensdom se ‘oudste wond’

Gender equity and reconciliation deur William Keepin en Cynthia Brix
Uitgewer: HOHM Press, 2022
Resensent: Louis van der Riet

Die afgelope paar jaar het gesprekke, debatte en amptelike besluite oor gender, seksualiteit en lyflikheid in die geledere van ons kerke, skole en samelewing op vele maniere aandag geniet. Dit is tekenend van ’n soeke na menswaardigheid, genesing en geregtigheid vir alle mense, juis omdat gender en seksualiteit ons almal so diep raak. Hierdie bundel, ’n ryk getuienis van die genesingswerk van Gender Equity and Reconciliation International (GERI), bied hoop én insig.

Die onderskrif van die boek, Thirty years of healing the most ancient wound in the human family, gee reeds ’n aanduiding van die relevansie en omvang van hierdie werk. GERI beywer hulleself vir prosesse van genesing, waar gefasiliteerde ruimtes geskep word vir deelnemers om persoonlike verhale te vertel. So word ’n lig gewerp op saamdra-stories oor gender en seksualiteit.

Oor die laaste drie dekades het duisende mense al hierby baat gevind, veral in Suid-Afrika. Dit is juis die Waarheid- en Versoeningskommissie se beginsels waarop die werk van GERI gebaseer is. Ook in die NG Kerk het lede van die Taakspan Gendergeregtigheid (Wes-Kaapland Sinode) al deelgeneem aan toerustingsgeleenthede wat in samewerking met GERI se plaaslike vennootorganisasie, Genderworks, aangebied is.

Die boek bied ’n tydige ontleding van ons gedeelde konteks van gendergeweld en dokumenteer uiteenlopende groepe en individue se ervarings van tuiskoms en transformasie. Dit is aangrypend én bevrydend.

Dit beloof om ’n spieël op te hou vir enige leser, en ’n nuwe verlange te kweek vir ’n wêreld waar ons elkeen tot ons reg kom, juis in ons lyf.

Beskikbaar op Kindle by Amazon. Gedrukte weergawe kan direk bestel word by desiree@grworld.org.

Dr Louis van der Riet werk vir Inclusive & Affirming Ministries (IAM) en is ’n navorsingsgenoot by die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top