“There’s a geography to grace,” het Joel van Dyke gesê. Sekere dinge word op sekere plekke geopenbaar. Van die belangrikste ontdekkings oor die dieper dinge in die lewe word gemaak buite die gemak van die klaskamer, studeerkamer en die internet. Johan Brits is iemand wat iets hiervan verstaan. Dit is nie net wát hy doen wat fassinerend is nie, maar veral die plek vanwaar hy kies om dit te doen.
As jy byvoorbeeld hoor wat die ou se day-job is, sal jy dink hy ry ’n duur kar en woon in ’n luukse huis van sy eie in ’n veilig omheinde kompleks. Maar Johan is ’n vreemde ou.
In sy matriekjaar was hy die topmatrikulant in die Vrystaat. Na skool besluit hy om aktuariële wetenskap te studeer en vandag is hy besig met groot dinge by ENB.
Maar dit is net die een kant van sy storie.
Dié boerseun, wat grootgeword het op ’n plaas naby Fauresmith, woon die afgelope meer as vier jaar in absolute eenvoud in multikulturele geloofsgemeenskappe, eers in Bloemfontein en nou in die Biko-huis in Fontainebleau, Randburg.
En ek bedoel eenvoud!
’n Tyd gelede kuier ek by Tom Smith en Schalk van Heerden by NG Fontainebleau. Hulle vra of een van die inwoners in die huis waar Johan woon saam met my terug na Pretoria kan ry. Toe ek hom gaan oplaai, maak ek ’n vinnige draai by Johan in sy kamer. Ek onthou vandag nog my eerste gedagte: “Flip, die ou het nie eens ’n hangkas nie!” Daar was net ’n bed en ’n tafeltjie en ’n tipe hangrak waaraan ’n paar stukke klere hang.
LUISTER: Kliek hier vir ‘n skakel na die podsending
Ek het Johan die eerste keer ontmoet toe hy vir ’n kort ruk in een van ons Echo-huise gewoon het. Sedert daardie tyd is hy besig om ietwat van ’n legende te word in die breër kerkgemeenskap. Dit is asof mense vandag toenemend moeg is vir missionale praatjies, en al meer honger is om iets te sien, van die radikale uitleef van die mees basiese goed waaroor Jesus so dikwels gepraat het.
“Ons het genoeg inligting, ons soek voorbeelde,” sê ’n ou nou die dag.
Johan sal die eerste een wees om uit te wys dat hy geen St Franciscus van Assisi is nie, maar sy lewenstyl het iets van dieselfde appèl op die godsdienstiges van vandag met wie sy pad kruis. Dit is lynreg teen die materialisme, verbruikersmentaliteit en individualisme waarin soveel van ons, ook in die kerk, deur die eeue dikwels vasval. En dít terwyl hy meer weet van besigheid en finansies as die meeste slim mense op aarde.
Waar het alles begin?
Hy vertel dat die teks oor die ryk jong man hom dikwels sou ontstel. “Ek het geweet dat, as ek my aktuariële studies voltooi, ek in alle waarskynlikheid binnekort ’n “ryk jong man” gaan wees. En Jesus het vir die ou gesê as jy die goeie lewe wil leef, die ewige lewe, moet jy jou goed kan weggee! Dit was vir my ’n moeilike konsep, maar ek het dit rêrig ten diepste ernstig probeer opneem. Jesus was nie ’n ou wat net mooi stories vertel het nie, Hy was die een wat dit geleef het en daar is vir my iets baie aantreklik aan dit,” sê hy.
In daardie tyd het Chris de Vries, die dominee by die studentegemeente in Bloemfontein, hom genooi om in ’n multikulturele huis vir naskoolse jongmense, almal uit ’n kindersorgagtergrond, in te trek. Johan het eers gehuiwer en hy sê sy ouers was aanvanklik erg bekommerd. Hulle was onder andere bang dis onveilig.
LEES OOK: Met Wynand Breytenbach is daar nie ’n vervelige oomblik nie
Een van die dinge wat hy geleer het is dat ons amper van nature die onbekende vrees, maar as ’n mens mekaar se stories leer ken, verander vrees en vooroordeel in respek en selfs verwondering.
“Chris de Vries het my gewys ons moet dapper wees as ons hierdie keuses maak. Dit is nie noodwendig die veiligste keuse nie, maar die goeie lewe is ten diepste daarin opgesluit. My oortuiging daarin het gradually gegroei. Daar was aan die begin baie uitdagings, maar ek het iets daar begin beleef van die goeie lewe wat Jesus vir die ryk jong man belowe het, en toe ek later Johannesburg toe trek was daai ding nog steeds binne my gewees. Ek het besluit ek wil nooit hê dit moet verdof nie, ek wil dieper in daai waarheid in leef.”
Dit val my op hoe dikwels Johan van die “goeie lewe” praat. Die goeie lewe is volgens hom duidelik iets anders as die “gemaklike lewe”, of selfs die “veilige lewe”. Dis eerder ’n “die moeite werd lewe” waar ’n mens dit waag om, soos Jesus, naby die aarde te leef.
Ek vra hom oor sy tipiese dag.
“Vir ’n lang tyd het ek elke oggend rondom 04:00 opgestaan en geswot vir my raadseksamen. Ek is baie lief vir vroeg opstaan. Nou sal ek die tyd gebruik om te lees en te draf (ek oefen vir die Soweto-maraton). Daarna gaan bid ek in ons kapel (the perks of living on the church campus!). Ek begin gewoonlik so teen 07:30 werk. Dan is dit maar die klassieke corporate rat race waaraan ek deelneem. Na werk sal ek net ontspan by die huis en kuier saam met die ouens in die huis. Ons het elkeen ’n kookbeurt op ’n aand van die week. So as dit my beurt is om te kook sal ek dit doen.”
Uiteenlopende mense uit verskillende kulture en sosiale agtergronde woon doelbewus saam in die Biko-huis, want ’n mens het die meeste om te leer by díe mense wat erg anders as jy is.
Daar is vandag wêreldwyd nuwe belangstelling in die herontdekking van ’n eenvoudige leefstyl en ’n lewe in gemeenskap met ander oor grense heen.
Ek het eenkeer die voorreg gehad om met Shane Claiborne hieroor te gesels – hy is sekerlik een van die mees prominente protestantse stemme in die neo-monastiese beweging vandag. Hy het fassinerende stories vertel oor die eenvoudige lewenstyl van die mense in hulle Simple Way Community in Amerika. Toe ek hom uitvra hieroor sê hy hierdie profound woorde: “You must understand, the simple lifestyle, is only possible in community. When everyone shares everything, everyone needs so much less”.
Dit is iets waarmee Brits ons kan help om ook in ons konteks te ontdek. Vandag, meer as ooit, het ons mense nodig wat dit regkry om te leef in die paradoks van die komparatiewe wêreld en ’n lewe van radikale eenvoud in gemeenskap.
“Tans werk ek by ENB as ’n produkbestuurder, ek help om kredietprodukte te ontwikkel vir klein besighede sodat ons kan help om SA se ekonomie te laat groei en floreer. Ek is mal daaroor. Ek is ook betrokke by FGK as ’n kerkraadslid en dink en droom saam oor hoe ons die NG Kerk op ’n plek kan kry om ’n relevante rol in ons samelewing te speel,” sê hy.
Die “missionale spasie” word dikwels gesien as die plek waarheen ons uitreik, maar vir Johan is dit veral die plek waarheen hy terugkeer, die plek waar hy tuiskom en vanwaar hy dan weer uitgaan.
Terwyl ons gesels dink ek aan die woorde van Henri Nouwen: “I did not leave the university – after twenty years – and moved in with people with disabilities at L’Arch because I wanted to help them, but because I needed better teachers …”
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeeenskappe en die NG Gemeente Villieria.
