Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
VAKATURE: VOLTYDSE LERAAR
Sluitingsdatum: 31 Januarie 2023.
Gemeenteprofiel: Vredefort is in die Vrystaat geleë, 15 km buite Parys. Vredefort is ’n klein plattelandse dorp in ’n uitgestrekte boeregemeenskap. Die gemeente bedien Vredefort, Parys sowel as plase in die omliggende omgewing wat hulle lewe uit saai- en veeboerdery maak. Die gemeente bestaan uit bykans 270 lidmate, waarvan ongeveer 40 dooplidmate is. Ons staan bekend as ’n gemeente wat ver gevorder het op die gebied van erediensvernuwing. Ons beskik oor die nodige tegnologie, is geseënd met ’n vaardige orrellis sowel as hardwerkende groepe wat met fondsinsamelings die gemeente staande hou. Groeiende armoede en die ontvolking van die platteland het veroorsaak dat ons sterk bedieninge in plek het om dmv barmhartigheid aan ons lidmate se behoeftes te voorsien. Ons behoefte vir die toekoms is om deur ons eredienste en lofsang die jonger geslag te behou en om nog jongmense na ons gemeente te lok. Ons wil ons kinder- en jeugbediening graag verder uitbou. Ons wil as gemeente sigbaar wees in ons gemeenskap deur meer betrokke te wees, selfs oor denominale grense.
Leraarsprofiel:
• ’n Gelegitimeerde predikant van die NG Kerk met die vaardighede en passie om jonger mense aan te spreek, veral met kleingroepe en musiek.
• Iemand wat ’n diverse gemeente kan lei en goeie verhoudings met almal kan handhaaf en bou.
• Iemand met ’n passie vir verhoudingsbou en gemeentebou om sodoende groter betrokkenheid by kerk, huisbesoeke, dienste, wyksbyeenkomste en spesiale geleenthede te verkry.
• Iemand met ’n hart vir die platteland met sy unieke bediening, wat ook die uitdaging van armoede op die platteland met empatie kan hanteer dmv kreatiewe fondsinsamelingsprojekte.
• Die ideale kandidaat vir ons gemeente sal volgens Bybelse voorskrifte handel en dit so aan die gemeente oordra – sonder om sondige gedrag of optrede as gering af te maak.
• ’n Leraar wat die woord op eenvoudige manier kan oordra. Wat in liefde optree teenoor die gemeente en ander. Iemand wat bereid is om nie net tradisioneel te wees en te preek nie maar ook om aan te pas by die nuwe generasie sodat hulle weer wil terugkom kerk toe. Iemand wat die Bybel op ’n eenvoudige wyse kan oordra sodat ieder en elk dit kan verstaan.
• ’n Leraar wat kreatief en veerkragtig kan dink en funksioneer om nuwe lidmate te bekom, huidige lidmate te behou en selfs meer betrokke te kry by die kerk.
• ’n Fyn aanvoeling en liefde vir kerkmusiek en sang sal in die aansoeker se guns tel.
Vergoeding en voordele: Vergoedingspakket ooreenkomstig sinodale riglyne (TKVI) waarby behuising en vervoer ingesluit is. Die pakket sal gestruktureer word volgens die behoefte van die leraar tot en met kerf 7.
Aansoek: ’n CV (maksimum drie bladsye) met verwysing na twee referente, ’n onlangse preek op WhatsApp of YouTube (indien moontlik) sowel as die voltooide vraelys. Stuur asb die aansoek per e-pos of slakkepos na die Skriba, NG Gemeente Vredefort, Posbus 30, Vredefort 9595. E-pos: ngvredefort@gmail.com
Ons wil u graag beter leer ken. Voltooi asb die onderstaande vraelys, wat u CV moet vergesel. (Maksimum drie bladsye asb).
Diensaanvaarding: Vroeg 2023 sodra geskikte kandidaat gevind is. ’n Kortlys van applikante sal saamgestel word. Daar sal van die kandidate op die kortlys verwag word om ’n onderhoud met die kerkraad te voer, en moontlik ’n preekbeurt waar te neem. Die kerkraad behou die reg voor om sonder opgaaf van redes nie ’n aanstelling/beroep uit enige van die aansoekers te doen nie.
Navrae: Voorsitter van die kerkraad: Heine Brussow 082 321 2413.
Skriba: Debbie Oosthuizen 083 453 5302.
Vraelys:
1. Wat is u bedieningsgawes en sterkpunte wat u graag sal wil uitlig?
2. Wat motiveer u in u bediening?
3. Vertel ons meer oor die rol wat u vervul in die bedieningskonteks waarin u uself tans bevind.
4. Vertel ons meer van u teologie en hoe dit inpas by NG Gemeente Vredefort se visie om ’n Hawe van Hulp en Hoop in die samelewing te wees?
5. Vertel ons meer oor u benadering ten opsigte van die bediening aan verskillende ouderdomsgroepe binne die gemeente.
6. Predikante word die afgelope tyd uitgedaag om hulle bedienings met aanlyn platforms aan te vul. Vertel ons meer van u digitale bediening en hoe u dit tans aanwend?
7. Vertel ons meer van u liefde vir kerkmusiek en hoe u dit sou wou aanwend in die erediens en verder?
8. Ek sal graag wil betrokke raak om die bediening as volg te bevorder, uit te brei en meer relevant te maak.
