Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Namibië wil besware verder vat, Kairos maak planne

Toe die selfopgelegde spertyd vir “bande losmaak” met die NG Kerk se Algemene Sinode vandeesmaand aangebreek het, het leiers van NG Kerk Namibië by ’n buitengewone moderamenvergadering besluit om te wag tot die sitting van die Algemene Sinode (Oktober 2023) en dan wel hulle besware by daardie saamtrek ter tafel te lê.

Die Namibiërs se band met die Algemene Sinode, ’n liggaam wat vanjaar 60 jaar oud is en elke vier jaar vergader, was die hoofbesprekingspunt by dié geleentheid.

Die Sinode van Namibië is vernaam gekwel deur die besluite wat afgevaardigdes by die Algemene Sinode in 2019 gemaak het oor selfdegeslagverhoudings. “Die Sinode van Namibië vertrou dat die Algemene Sinode tot inkeer sal kom,” luidens ’n vroeëre verklaring deur dr De Wet Strauss, die voorsitter van ’n ad hoc-taakspan in Namibië, ’n streek wat sowat 44 gemeentes in Suid-Afrika se buurland verteenwoordig.

LEES OOK: Namibië-span vlieg na SA: Maratongesprek om eenheid te behou

Die besluit om wel op te saal na volgende jaar se Algemene Sinodesitting, is op Dinsdag 22 November geneem, maar dit kon ook ’n ander uitkoms gehad het. Strauss het in Maart vanjaar ’n verklaring uitgereik wat lui: “Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende ses maande uitloop op ’n vaste voorneme om bepaalde besluite te herroep nie, sal die Sinode van Namibië haar band met die Algemene Sinode losmaak ingevolge Artikel 37, wat as volg in die kerkorde verwoord is: ‘Dit staan die samestellende kerke vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, uit die Algemene Sinodale verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.’” Ses maande later wys die Namibiese Sinode op die ontmoetings en gesprekke wat intussen met verteenwoordigers van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) plaasgevind het. Ter opsomming van die 22 November-vergadering in Namibië sê Strauss “… dit is die oortuiging en bly die erns van die (Namibiese) moderamen dat die 2019-besluit (oor selfdegeslagverhoudings) – soos dit ontvang, geformuleer en toegepas word – die NG Kerk meer kwaad as goed doen”.

Die streeksinode beoog om volgende jaar ’n “duidelike getuienis in die vorm van ’n gravamen en/of beskrywingspunt voor te lê” by die sitting van die Algemene Sinode.

Intussen het Kairos Netwerk (KN) besluit om “alternatiewe kerkvergaderinge byeen te roep waar Skrifgetroue NG gemeentes in ’n atmosfeer van eensgesindheid in liefde en waarheid mekaar kan ondersteun en inspireer om draers en beskermers van die Waarheid te wees (1 Tim 3:15).” Die visie is een van ’n “eie addisionele sinode met formele afvaardiging van Skrifgetroue NG gemeentes,” luidens ’n KN-verklaring. “Die bedoeling is nie om weg te skeur van die NG Kerk af nie,” word voorts verduidelik, “… die doel is juis om mekaar te inspireer tot Skrifgetroue reformasie van binne.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top