Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Ek is diep hartseer dat in my geslag ons nie kerkeenheid kon bereik nie’ – Leraar kyk terug na pad met VGK en NGK

Die stryd om Belhar het die kerk in twee kampe verdeel en hy het soms beleef dat sy wit kollegas hom as ’n verraaier sien wat saam uit een mond met die VGK praat, vertel Dawid Kuyler in hierdie terugblik na spanningsvolle tye in ons land en in die kerk.

Dr Dawid Kuyler. Foto: Verskaf

In November 2022 was dit 40 jaar sedert die tweede grootste teologiese klas aan die Universiteit Stellenbosch afgestudeer het en gelegitimeer is. In 1982 het prof Nico Smith ons finalejaarklas Nyanga, Langa en Guguletu toe geneem en is daarna deur die kuratorium tot orde geroep. Die NG Sendingkerk het ’n status confessionis verklaar en ’n konsepbelydenis, die Belydenis van Belhar, goedgekeur.

As proponente moes die meerderheid wat nog nie diensplig gedoen het nie, eers vir twee jaar verpligte diensplig aanmeld in Januarie 1983 of as jy sou weier, in detensie geneem word of as jy as gewetensbeswaarde verklaar kon word, ses jaar alternatiewe diensplig doen in die staatsdiens.

In Kerkbode moes jy aandui vir watter van die vier dele van die NG Kerkfamilie jy beroepbaar was.

Met die oorvloed van 1981 en 1982 se proponente was beroepe in 1985 skaars. Niemand kon aansoek doen nie, jy moes wag vir ’n beroep. ’n Aantal van ons het beroepe na die NG Sendingkerk en NG Kerk in Afrika aanvaar. Diegene wat na die NG Sendingkerk beroep is, is betaal volgens die skale van die NG Sendingkerk. In 1985 was dit ongeveer R1 000 per maand minder as wat jou klasmaat in ’n NG gemeente sou verdien.

Die spanning tussen die NG Kerk en NG Sendingkerk het in 1986 ’n hoogtepunt bereik toe die Belydenis van Belhar amptelik as belydenis aanvaar is. Sommige NG gemeentes wat NG Sendingkerk gemeentes finansieël ondersteun het, het hulle ondersteuning gestaak en bruin en wit leraars is daardeur geraak.

Lees ook: Belhar: Belydenis met trots en spyt herdenk

In 1986 is ’n noodtoestand afgekondig en aanhouding sonder verhoor is goedgekeur en beoefen deur die staat. Almal wat teen Apartheid was en as ’n gevaar vir die staat gesien is, is afgeluister, dopgehou en talle NG Sendingkerkleraars het in die gevangenis beland. Dit was ’n verskriklike tyd. Dit was ’n tyd van polarisasie in die kerk en samelewing.

Belhar as rigtinggewer
Vir ons klompie wit leraars in die NG Sendingkerk het ’n nuwe wêreld oopgegaan toe ons as leraars bevestig is. Mense van kleur het jou gemeente geword en jy moes hulle bedien en pastoraal begelei. Hulle lewe en stories het deel geword van jou lewe en jou onherroepbaar verander. Die verontmensliking wat hulle oor eeue beleef het, en ’n teologie wat dit goedgekeur het, en waarvan jy deel was, het jou teologies en polities gekonfronteer en gevra om keuses. Die teologie van die Belydenis van Belhar was vir my koersaanduidend en rigtinggewend. Hierdie koers het ons as wit leraars in die NG Sendingkerk verwyder van ons klasmaats saam met wie ons sewe jaar studeer het.

Na 1986 het die uittog van wit leraars begin vanuit die NG Sendingkerk en later het net ’n paar oorgebly. Nie gou weer sou wit leraars die geleentheid kry om deel te word van die NG Sendingkerk nie.

Lees ook: Belhar bly die lakmoestoets vir eenheid

In 1994 word die NG Sendingkerk en NG Kerk in Afrika een om die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika te word. Wit leraars van die NG Sendingkerk kry toe die geleentheid om deel te word van ’n nog groter spektrum van ons land se bevolking en gelowiges van ander kulture en tale.

Die onverkwiklike hofstryd wat na 1994 begin is deur diegene wat die NG Kerk in Afrika laat voortbestaan het, het die kerk negatief geraak. Hierdie hofstryd is begin en aangevuur deur wit oudleraars van die NGK in Afrika en ander NG leraars in die Vrystaat. Talle swart leraars in die Vrystaat het hulle finansiële ondersteuning van die NG Kerk verloor en moes ander planne beraam om te oorleef. Die pyn en hartseer wat hulle en hulle families moes deurgaan is moeilik om in woorde te omskrywe en het my skaam gemaak dat die kerk waarin ek grootgeword het, so ongenadig kon wees.

Apartheid: Dodelik doeltreffend
Om ’n wit leraar in ’n swart kerk te wees is nie so eenvoudig nie. Aan die een kant is jy deel van ’n wit gemeenskap en aan die ander kant bedien jy in ’n swart gemeenskap waar alles anders lyk en is as in die wit gemeenskap. Apartheid was dodelik doeltreffend om mense territoriaal en sosiaal van mekaar te vervreem. Swart mense het meer geweet wat in wit gemeenskappe aangaan as wat wit mense geweet het wat in swart woonbuurte gebeur.

In die VGKSA-gemeentes was die stryd om finansiële oorlewing aan die orde van die dag. Broodnodige fondse moes spandeer word om doelmatige kerkgeboue op te rig terwyl meer en meer gemeentes sonder leraars gesit het. Binne die gemeentes sonder vaste leraars het die bediening voortgegaan deur middel van ouderlinge en ander wat gepreek het en pastorale hulp moes verleen. Hierdie selfstandigheid het ook sy negatiewe kant. Mense het hulle eie klein koninkrykies gevestig en talle konflik het ontstaan. Leraars moes in verskeie gemeentes as konsulent optree en dit het hulle bediening in hulle eie gemeentes benadeel. Op ’n stadium was ek konsulent vir ses gemeentes. Sommige leraars het vanweë finansiële druk en die inkomste uit konsulentsfooie en reiskoste gemeentes sonder leraars verder verarm sodat hulle nie in staat kon wees om weer ’n leraar te beroep nie.

Hierdie bediening in die swart kerk het my verder vervreem van my klasmaats. Hulle het in ’n kerk gedien wat nie veel omgegee het wat met hulle broers en susters in die swart kerk gebeur nie. Dikwels was hulle ook besig met ’n oorlewingstryd en hulle energie min vir samewerking in die bediening. Die stryd om Belhar het ons in twee kampe verdeel en ek het soms beleef dat my wit kollegas my as ’n verraaier sien wat saam uit een mond met die VGK praat. Daar was ook diegene wat pro-Belhar was en wat vriende gebly het en ernstig en eerlik gesoek het na eenheid. Vir hulle sal ek altyd dankbaar bly.

Lees ook: Verhaal van NG Kerk se ‘eerste treë na versoening’ nou ook as eboek beskikbaar

Na veertig jaar in die bediening is ek dankbaar om te kan rus. Dankbaar vir dit wat ek kon leer van menswees en gelowige wees by my swart broers en susters. Ek is dankbaar vir hulle oop huise en harte. Hulle het my verander as gelowige en as Suid-Afrikaner.

Ek is diep hartseer dat in my geslag ons nie kerkeenheid kon bereik nie. Ek moet bely dalk het ons nie hard genoeg probeer nie. Die plekke waar die Tussenorde in die praktyk in werking gestel is om eenheid te bewerk, gee my ’n sprankie van hoop. Dit is lekker om te lees van VGK Melodi ya Tshwane en NGK Pretoria wat in Bosmanstraat een geword het.

Lees ook: Twee gemeentes in NG Kerkfamilie vier eenwording op Hervormingsondag

Ek is hartseer dat daar nie meer wit leraars (weinig) in die swart kerk oor is om in hulle persoon die gebrokenheid te beleef en te soek na eenheid nie.

Oudleraars soos ek moet besef ons tyd is verby. Ons het ons kanse gehad. Dalk kan ons nog êrens ’n bydrae lewer. Dalk kry ’n NG gemeente die moed om hulle leraar vir ’n maand of twee voltyds in ’n swart gemeente te laat werk en laat die swart leraar vir dieselfde tyd in hulle gemeente bedien. Dalk ontdek ons mekaar as medegelowiges en medemense.

As ons nie iets doen nie, gaan niks vanself gebeur nie.

* Dr Dawid Kuyler is ’n leraar van die Verenigende Gereformeerde Kerk en ’n voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “‘Ek is diep hartseer dat in my geslag ons nie kerkeenheid kon bereik nie’ – Leraar kyk terug na pad met VGK en NGK”

  1. Dr. I.C. Potgieter

    Baie dankie, Dawid. In die kol. Dit voel soos ‘n tragedie wat eindeloos stadig in super slomo voor ons oë afspeel, sonder enige tekens dat die kruisevangelie ter harte geneem sal word. Die kairos en kreet uit die hart van 1982-1986 is aan die einde van 2022 nog steeds net ‘n gefluisterde aanbeveling, indien dit nie te veel ongerief sou meebring nie.

    Sakkie Potgieter

Comments are closed.

Scroll to Top