Verhaal van NG Kerk se ‘eerste treë na versoening’ nou ook as eboek beskikbaar

Hy was in die voorsitterstoel tydens ’n sinode van vele eerstes … Die eerste sinode wat vroue as afgevaardigdes bygewoon het. Die eerste sinode waar ’n staatshoof ongenooid opgedaag en ’n spreekbeurt gekry het … Maar “wie kon nou vir president Nelson Mandela nee sê?” glimlag ds Freek Swanepoel wanneer hy hierdie episode herroep in ’n gesprek oor Swanepoel se nuwe boek, Die NG Kerk en versoening, 1994-1998.

Die teikenmark is nie net die oues nie … inteendeel, verduidelik die 82-jarige oud-kerkleier op ’n winderige Oktobermiddag waar hy met Kerkbode gesels in die knus sitkamertjie van sy en sy vrou Marié se woonstel in die Othello-aftreeoord in ’n noordelike voorstad van Kaapstad. “Ek dink dat veral jonges dit maar moet lees. Dalk verstaan hulle dit [daardie tyd] nie mooi nie. Die verkeerde word baie beklemtoon,” vertel die afgetrede teoloog wat as voorsitter van die algemene sinodale kommissie in hierdie opspraakwekkende tyd in die land en kerk se geskiedenis “in die spervuur was van almal wat die NG Kerk van binne en buite wou aanval,” soos prof Johan van der Merwe dit stel in sy voorwoord in die boek.

Sy boek, wat ook in e-formaat beskikbaar is, is ’n voorgeskrewe boek in kerkgeskiedenis vir die NG Kerk se teologiese studente by die Universiteit van Pretoria (UP). Teologiese onderrig lê hom na aan die hart. Hy het rondom 2000 die leiding geneem in die oorgang van UP se teologiese fakulteit na ’n veelkerklike fakulteit. Die boek is dan ook gebore uit die jaarlikse praatjies wat Swanepoel, op versoek van Van der Merwe, oor die NG Kerk se “eerste treë tot versoening” aan sy teologiese studente by dié universiteit gelewer het.

Soos Swanepoel terugkyk na die “wonderlike ervarings, goed en sleg,” tydens en na 1994 se ‘sinode van versoening’ soos Frits Gaum dit toe as redakteur van Kerkbode beskryf het, staan ’n hele paar gebeure vir hom uit. Eerste is dat hy as voorsitter dit beleef het as ’n “verskriklik geseënde sinode” in die sin dat besluite wat geneem is so aanvaar is, daar was nie revisies nie. Daar was by die afgevaardigdes die besef “die kerk wat apartheid skriftuurlik gegrond het, kan nie nou swyg nie, maar [sal] sy erns vir versoening moet wys,” soos Swanepoel in sy boek skryf.

LEES OOK: Swanepoel bied eerlike vertelling uit ’n tyd van vele eerstes vir die NG Kerk

Daarom is kerkeenheid, “wat altyd laaste op die agenda was,” geskuif na die derde dag waar die besluit van een kerkorde geneem is om hiermee die voorneme tot kerkeenheid te bevestig.

Tegelyker tyd was die kerkleierskap ook goed daarvan bewus dat onder lidmate daar gemengde gevoelens was jeens die nuwe demokratiese bestel in die land. So die kerk se leierskap moes versigtig wees. Dit “was ’n sensitiewe geleentheid na baie kante toe … ons kon meer foute gemaak het … Daar was mense wat gevoel het ons moet nou nie weer naby aan die regering kom of flikflooi of iets met die regering nie … so daar was baie ander dinge op die spel,” sê hy.

By hierdie sinode het die kerk ook op ’n manier erkenning gegee aan die profetiese stem van NG kerkleiers soos prof Ben Marais en dr Beyers Naudé, wat beide ook ongenooid opgedaag het, “by die hele sinode was daar die gevoel dat ons as kerk nou oor die verlede vir mense sal moet sê ons erken ons het nie na julle geluister nie,” onthou die kerkleier wat in sy boek ook sy eie reis tot die besef dat apartheid nie uit die Bybel geregverdig kan word nie beskryf.

LEES OOK: Dié spook van die verlede mag nie herrys nie

“En dit is wat ek in die vier jaar eerlik probeer najaag het … dat in plaas van die woord waarmee ons geskei is voor ’94, dat ons bekend sou staan as die kerk van versoening wat bereid is om ’n eerste tree te gee … en ’n volgende tree … en ’n volgende tree as dit nodig is,” sê die man vir wie dit baie duidelik was nóg ’n noodsaaklike volgende tree was vir die “grootste Afrikaanse kerk in die land” om voor die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) te verskyn. Die Algemene Sinodale Kommissie het nee gesê en besluit om eerder ’n boek te skryf, Die reis met apartheid, wat vir die WVK en ander kerke gegee is, “maar dit het nie regtig die ding gedoen nie”. Toe die uitnodiging kom na die kerkeberaad in 1997 in Oos-Londen, het Swanepoel, en darem ’n paar ander ook, gevoel laat die NG Kerk dan daar wees in die persoon van Freek Swanepoel en só hy het tog gegaan, al was dit in sy persoonlike hoedanigheid. Hy is nou nog dankbaar dat hy daar was, “want hulle [WVK] het dit so nodig gehad … vir hulle was dit baie belangrik dat die NG Kerk daar uitkom. Ons het vir mekaar nodig gehad”..

Só, in sommige opsigte was die kerk versigtig, en het by tye by plekke gestop waar hy gemeen het hulle kon vorentoe gaan. So ook met kerkeenheid. Die afgetrede leraar vertel sy een groot hartseer is dat die NG Kerk nie meer gevorder het om eenheid met die VGKSA, die Reformed Church in Africa en die NGKA te laat werk nie, want “… dit sou dinge vir ons ook in die gemeenskap en rondom die regering se optrede en rondom ons pad hier baie makliker gemaak het as die kerk gesamentlik kon voor stap”.

Op die vraag dus of daar lesse vir die kerk te leer is uit wat byna 30 jaar terug gebeur het, is Swanepoel versigtig om as oud-kerkleier krities oor te kom op die huidige leierskap, maar meen wat belangrik is dat die kerk moet leer hoe kom sy besluite by sy lidmate uit. “Want dit is die lidmate via die leraars wat dit vir die kerk kan moeilik maak.”

“Daarom is sy verhaal ’n verhaal van vreugde en trane,” om weer na Van der Merwe se voorwoord terug te verwys.

* Die eerste tree: Die NG Kerk en versoening, 1994-1998 se harde kopie kan aanlyn by CLF bestel word of as e-boek by De Novo Boeke.

** Die artikel is geredigeer na dit verskyn het. Red.

Word 'n vriend van Kerkbode