Dié spook van die verlede mag nie herrys nie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die NG Kerk het regoor die wêreld bekend gestaan as die kerk van apartheid – die kerk wat die bose beleid van apartheid teologies uit die Bybel geregverdig het. Dit was ook reg so. Dit was immers ’n NG teoloog wat in 1947 die eerste verslag oor die Bybelse fundering vir apartheid aan die Transvaalse Sinode voorgelê het. Dit was die NG Kerk wat die ver­klaring van die Cottesloeberaad, wat apartheid veroordeel het, verwerp het. Dit was die NG Kerk wat met die dokument Ras, volk en nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif (1974) ’n rassebeleid geformuleer het wat wêreldwyd veroordeel is. Dit was die NG Kerk wat as grootste Afrikaanse kerk in 1982 in Ottawa as lid van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke geskors is nadat apartheid as teologiese kettery ver­klaar is.

Die hele beleid van afsonderlike ontwikkeling of segregasie wat later apartheid genoem is, het veral na die Tweede Suid-Afrikaanse oorlog van 1899-1902, die Rebellie van 1914, die Groot Griep van 1918 en die Armblankevraagstuk van 1933 as deel van Afrikanernasionalisme ontwikkel. Dit was die swaar en die seer van Afrika­nerlidmate van die NG Kerk wat kerkleiers genoodsaak het om onder andere ’n beleid van Inwendige sending te formuleer. Hierdie beleid was gebou op piëtisme en die teologie van die Nederlandse teoloog Abram Kuyper en sou meewerk tot die Bybelse fundering van apartheid.

LEES OOK: Sáámstap op pad van restitusie gee hoop op Jeugdag

In 1986 het die NG Kerk formeel van die Bybelse ondersteuning van apartheid weggedraai toe ’n nuwe beleidsdokument Kerk en samelewing aanvaar is. Tydens die Rustenburgberaad van 1990 is daar by monde van prof Willie Jonker belydenis gedoen oor die kerk se aandeel in apartheid. Op 19 November 1997 het ds Freek Swanepoel tydens ’n spesiale dag vir kerke voor die Waarheid-en-versoeningskommissie namens die NG Kerk getuig dat die kerk verbind is tot versoening, dat die kerk dit saam met ander in die land wou aanpak en dat die kerk verbind was tot die opbou van alle mense. Hy het sy getuie­nis afgesluit met Hebreërs 12:14 – “Be­ywer julle vir vrede met alle mense.” Daarmee is die spook van apartheid begrawe.

LEES OOK: Oor rasseskeiding: ‘Ek soek ’n kerk wat jeuk’

Baie lidmate van die NG Kerk kry tans swaar as gevolg van politieke be­sluite wat hulle ekonomies benadeel. Baie lidmate van die NG Kerk het seer as gevolg van misdaad wat buite beheer is en baie lidmate is kwaad oor infrastruktuur wat uitmekaar val as gevolg van korrupsie. Die Covid-19-pandemie het op ’n bepalende ma­nier die ver­grootglas oor hierdie sake kom plaas. Die vinger word beskuldigend en mis­kien tereg ook na hulle gewys wat teen­oor ons staan. In ’n tyd soos hierdie kan dit maklik gebeur dat die spook van apartheid herrys. Die NG Kerk mag dit onder geen omstandighede toelaat nie!

  • Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Word 'n vriend van Kerkbode