Sáámstap op pad van restitusie gee hoop op Jeugdag

Jeugdag vroegoggend onder ’n flou winterson het ’n groep uiteenlopende mense op Stellenbosch saamgekom vir ’n 16 km-staptog. Dr Frederick Marais vertel Heléne Meissenheimer meer hieroor.

Die staproete vorm deel van een van die eerste bene van die Pelgrimstog van Hoop – ’n pelgrimsroete van sowat 500 km deur die Kaapse Wynlande en Overberg-gebied. Die roete met beginpunte in onder meer Stellenbosch en Robertson is in 2016 deur Marais uitgelê en is soortgelyk aan die Camino in Spanje.

Die Pelgrimstog van Hoop het hande gevat met die toerismekantore van Stellenbosch en Pniël om ’n Social Justice Walk vir Jeugdag te reël. ’n Brosjure is ontwikkel wat historiese plekke op die dorp en langs die roete aandui met ’n kort beskrywing van die geskiedkundige agtergrond.

Volgens Marais was hulle oogmerk met die dag om gesamentlik ’n staptog te reël wat die verskillende gemeenskappe van hierdie wynland-omgewing nader aan mekaar kan bind om saam na te dink oor die onreg van die verlede en hoe daar saam ’n beter toekoms vir almal gebou kan word.

“Ons het toe gemeenskapsleiers genooi en tot ons groot verbasing het almal wat ons genooi het entoesiasties ingestem en kom saamstap,” vertel hy. Dit sluit nou mense in soos die Wes-Kaapse premier Alan Winde, prof Wim de Villiers, rektor van Universiteit Stellenbosch, voormalige openbare beskermer prof Thuli Madonsela, predikante en ander geestelike leiers asook leiers uit die sakegemeenskap en nieregeringsorganisasies.

“Van meet af aan was dit duidelik dat die stappers die doel van die stap verstaan en het hulle entoesiasties met mekaar begin praat soos wat ons gestap het,” sê Marais.

LEES OOK: Taizé-pelgrimstog in Kaapstad

Uitgedos met die kenmerkende rooi breërandhoede van Die Pelgrimstog van Hoop het die groep stappers agtuur die oggend vanaf die historiese Rynse Sendingkerk deur die dorp geloop tot by die Lückhoff-skool in Idasvallei. Dit was die eerste sekondêre skool wat vir bruin kinders op die dorp gebou is. Hier het De Villiers in ’n kort toespraak erken die universiteit het voordeel getrek uit die gedwonge verskuiwings tydens die apartheidsjare op die dorp. Die universiteit het hom daarom verbind tot regstelling en ontwikkeling om deel te neem aan herstellende geregtigheid.

Daarna het die stappers die steil Helshoogtepas aangedurf na die Banghoekvallei. Halfpad het tant Siena van die landelike Kylemore se heerlike roosterkoeke gesorg vir ’n feestelike atmosfeer.

“Almal het gepraat oor hoe lekker dit is om as breër gemeenskap met mekaar te konnekteer en verhoudinge te bou. ’n Pelgrimstap is ’n ideale manier om onbevange met mekaar te kan praat oor die verlede en ook oor die drome vir die toekoms. Van die pelgrims kon nog vertel hoe hulle as kinders die trauma van die verskuiwings beleef het,” vertel Marais.

Op die Zorgvliet-wynlandgoed het die groep in stilte gestaan om ’n boom waar die oorspronklike ketting waarmee slawe vasgeketting is, nog gesien kan word. “Die wreedheid van slawerny en die verknegting van mense het ons soos ’n hou in die maag geslaan,” sê hy.

’n Ketting waarmee slawe vasgeketting is, is vandag nog sigbaar aan hierdie boom op die Zorgvliet-wynlandgoed naby Stellenbosch.

Die vrolike koortjies van Kylemore se koperblaasorkes het gemoedere weer gelig en met nuwe energie is aangestryk tot by die staproete se eindpunt op Pniël – een van die oudste gemeenskappe van vrygemaakte slawe. Madonsela het die dag afgesluit met ’n kort besielende toespraak oor die betekenis van Jeugdag en hoe hierdie stap weer vir haar hoop gegee het vir die toekoms.

LEES OOK: Frederick se pad met God en sy kerk

Stellenbosch se toerismekantoor, Visit Stellenbosch, beplan in samewerking met die Pelgrimtog van Hoop om hierdie stap ook as ’n pakket aan toeriste en belangstellende groepe te bemark.

Marais vertel Eon Hendriks, ’n jong inwoner van Idasvallei wat ook samgestap het, het vir hom gesê hierdie is ’n deurbraakdag vir hom. “Dit het die potensiaal om werk te skep vir die jongmense van Idasvallei, maar meer nog omdat dit ’n projek is wat ons geskiedenis en die mooi vallei ernstig opneem. Ek droom al so lank hieroor en nou kom stap die premier en die rektor en al hierdie mense sommer op een dag deur ons valley!” het Hendriks gesê.

’n Volgende staptog word beplan vir Erfenisdag op 24 September. Kontak die Pelgrimstog van Hoop vir meer inligting.

Die groep stappers kom by hulle eindpunt aan by die Pniël Congregational Kerk. Foto: Visit Stellenbosch

One thought on “Sáámstap op pad van restitusie gee hoop op Jeugdag

  1. Janine Myburgh says:

    Dit was inderdaad ‘n awesome oomblik en eer om deel van hierdie inisiatief te wees.

Comments are closed.