Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Die kerkraad wag in afhanklikheid aansoeke in vir die onderstaande pos.
VAKATURE: LERAAR – DRIE JAAR VASTETERMYNPOS
Sluitingsdatum: 31 Desember 2022.
Dienstermyn: Drie jaar.
Gemeenteprofiel: Kroonstad is op die Vrystaatse platteland geleë. Dit het ’n groot boerderygemeenskap maar ook professionele persone, ambagslui en pensioenarisse. Die gemeente se profiel weerspieël hierdie samestelling. Die dorp beskik oor ’n groot hoërskool, verskeie laerskole, gevangenis- en weermagopleidingsbasisse, goeie hospitale en ’n verskeidenheid van professionele dienste en bedrywe.
Die NG gemeente Kroonstad-Oos het vanweë ’n verskeidenheid van redes baie kleiner geword. Die vernaamste is die ontvolking van die platteland. Die gemeente bestaan tans uit 276 belydende lidmate met ’n gemiddelde ouderdom van meer as 50 jaar.
Die kerkraad en die gemeente wil graag probeer om Kroonstad-Oos weer ’n lewende en goed- funksionerende gemeente te maak. Hiervoor benodig ons ’n leraar wat sterk leiding kan neem. Dit is ’n pos vir ’n leraar wat kans sien vir groot uitdagings.
Die kerkraad glo dat deur Skrifgetroue prediking, gereelde huisbesoek/pastoraat en leierskap die gemeente weer ’n entoesiastiese geloofsgemeenskap kan word.
Leraarsprofiel: Ons bid vir ’n leraar wat in sy hart oortuig is dat hy/sy in die loop van drie jaar, Kroonstad-Oos positief kan begelei, deur:
Pligte:
• Iemand te wees wat dinamies die Woord van die Here verkondig.
• Alle ouderdomme gemaklik bedien.
• Leiding by kategese neem.
• Oor goeie en sterk bestuursvaardighede beskik.
• Baie waarde aan die gereformeerde tradisies van die kerk heg.
Vergoeding en voordele:
• Onderhandelbaar, met sinodale skaal 6 as riglyn.
• Besonderhede rakende die vergoeding kan verkry word van die voorsitter van die kerkraad.
Aansoek: Verskaf asseblief ’n volledige CV en drie referente met kontakbesonderhede.
Aansoekers moet beskikbaar wees vir onderhoude en indien moontlik ’n preekbeurt.
Stuur aansoeke aan die skriba: skriba@kroonstadoos.co.za
Diensaanvaarding: 1 Februarie 2023 of so gou as moontlik daarna.
Navrae:
Skriba: Louisa Strydom, sel: 072 027 4852.
Kerkraad: Daan Smit, sel: 082 923 2589.
Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling uit die aansoeke te maak nie.
