Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
VAKATURE VIR GEMEENTELERAAR
(ONBEPAALDE TERMYN)
In biddende afhanklikheid van die Here stel die kerkraad van Reitz-Wes bogenoemde vakature bekend en nooi met verwagting gelegitimeerde proponente en leraars van die NG Kerk uit om vir die pos aansoek te doen.
Gemeenteprofiel
Reitz-Wes is een van twee gemeentes in Reitz in die Oos-Vrystaat. Die gemeente bestaan uit 290 belydende lidmate (waarvan 85% in die ouderdomsgroep 26-65 val) asook 116 dooplidmate. Die gemeente is behoudend en gehoorsaamheid aan God en sy Woord is baie belangrik. Ten spyte daarvan dat die eredienste ’n tradisionele karakter vertoon dra die gemeente ’n karakter van ’n ontspanne atmosfeer in lofprysing en aanbidding. Op die kerkterrein is daar die kerk/kerksaal/kategesekompleks asook ’n doelmatige pastorie.
Leraarsprofiel
• ’n Opregte lewende persoonlike verhouding met God Drie-enig wat gestalte vind in suiwere Woordverkondiging, pastorale sorg aan almal in die gemeente wat insluit ’n passie vir die jeug en die gesin – eerstens ’n dienaar van God en daarna ’n dienaar in die kerk.
• Aanvaarding en nakoming van alle bedieningspligte soos uiteengesit in Artikel 9 van die Kerkorde in volkome gehoorsaamheid aan die Skrif en die belydenisskrifte van ons kerk.
• Samewerking in spanverband is belangrik met spesifieke verwysing na die kerkraad en die verskillende bedieninge in die gemeente.
• Inisiatief neem om nuwe projekte en geestelike bedieningsgeleenthede te loods vir die gemeente en in die gemeente en om voort te bou op bestaande gevestigde karakter en aksies in die gemeente soos skoling rondom doop, belydenisklas en kategese, Bybelstudies, wyksbyeenkomste, die kerkraad en vrouebediening.
• Iemand wat hierdie gemeente as deel van die Liggaam van Christus met die nodige deernis, liefde en sorg sal dien.
Vergoeding
Volgens sinodale riglyne.
Gratis inwoning in die pastorie met voordele.
Aansoeke
Indien u die Here se roepstem hoor oor hierdie betrekking, nooi ons jou uit om jou CV per e-pos te stuur na ngreitzweskantoor@gmail.com om ons te bereik nie later nie as Vrydag 17 Februarie 2023. Stuur ook vir ons besonderhede van drie referente vir wie ons kan kontak. U moet, op koste van Reitz-Wes, ook beskikbaar wees vir ’n onderhoud en moontlik ’n preekbeurt in die gemeente.
Navrae
Ds Hennie Hattingh (konsulent ) – 082 923 3910.
Gideon Benadie (leierouderling) – 083 458 4788.
Corien Nel (skriba) – 058 863 2632.
Diensaanvaarding
So gou moontlik na suksesvolle onderhandeling.
Die kerkraad behou die reg voor om nie noodwendig ’n aanstelling te maak uit die aansoeke wat ontvang is nie.
