Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Promosie: Praat saam oor kerkwees in ’n samelewing op breekpunt

Ons samelewing word dikwels beskryf as een wat “on edge” is, naby breekpunt. Hetsy jy praat oor ongelyke welvaart, armoede, werkloosheid of korrupsie, staatskaping en gebrek aan dienslewering. Voorvalle soos die onlangse rasgedrewe swembadgeval by Maselspoort wys hoe gebroke ons samelewing ook nog is. Al hierdie dinge raak ook die kerk. Breek ons as gelowiges saam met die res of oorbrug ons die geskille?

“Being church on the edge” is die tema van ’n aanlyn gespreksforum waar geloofsleiers en akademiese kenners beplan om juis hieroor te praat. Die NG Gemeente Hugenoot van Bloemfontein bied hierdie gratis geleentheid aan van 18:00-20:00 op 23 Februarie namens die Ring van Bloemfontein-Noord.

Willem Ellis, mede-organiseerder, vertel meer. “Die NG Kerk en ander kerkgenootskappe moet besin oor die rol wat die kerk kan speel om te help om die samelewing weg van die afgrond te lei. Bo en behalwe Woordverkondiging en die lewering van sekere sosiale dienste moet die Kerk ’n rol speel as morele leier, vredesbouer, fasiliteerder van gesprekke en drywer van transformatoriese prosesse. Dit gaan oor leierskap en insette wat die Kerk op soveel gebiede kan lewer op die oomblik – nou meer as ooit.”

Kundiges soos die bekende ekonoom prof Philippe Burger en die skrywer en politieke analis prof Theo Neethling (beide van die Universiteit van die Vrystaat) gaan ’n oorsig bied oor die ekonomiese en politieke uitdagings van die dag terwyl ds Adrie Potgieter van NG Kerk Senekal-Noord sal bydra oor wat die rol van die kerk kan wees. Pastoor John Matuhle, stigterslid van die Senekal Matswabeng Community Forum gaan vertel van hulle werk om mense in Senekal en ander gemeenskappe nader aan mekaar te bring.

Hierna is die gesprek oop vir deelnemers om met voorstelle en idees te kom. Ellis verduidelik mense kan ook tydens die seminaar vrae elektronies vra wat deur die fasiliteerder ds Nico Mostert van die Vrystaat Sinode hanteer word.

Enigeen kan die gespreksgeleentheid bywoon. Jy kan vooraf registreer (daar is geen koste aan verbonde nie) of net op 23 Februarie inskakel deur om 18:00 op die skakel te kliek of die QR-kode te gebruik. Die skakel vir deelname verskyn in hulle advertensies (sien onder). Die tegniese webinaarproses word gefasiliteer deur Jenwil BlouSter.

  • Willem Ellis is die voorsitter van die kerkraad by Hugenoot NG gemeente en is betrokke by die Sentrum vir Gender- en Afrikastudies by die Universiteit van die Vrystaat.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top