Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jannie van Eeden skryf: Wees bedag op die vele met gehoorprobleme

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Jannie van Eeden van Die Oog-aftreelandgoed skryf:

Een van die vyf sintuie wat veral met ouderdom verswak, maar nie altyd sigbaar is nie, is gehoor. ’n Groot deel van die aarde se bevolking ly aan een of ander vorm van gehoorverlies. Probleme wat dikwels daarmee gepaardgaan is:

  • Vinnig praat van kommentators, sprekers, omroepers, predikante, onderwysers ens. Dit wil lyk asof dit mode geword het. Hoe vinniger jy kan praat, hoe gouer kan jou boodskap en meer inligting oorgedra word. Sprekers struikel dikwels oor hulle woorde, kry soms nie eens asem gehaal nie. Vir baie hoorders, veral meer intelligente mense, kan die inligting nie so vinnig deur die brein verwerk word nie.
  • Gehoortoestelle en -toerusting is nie altyd so effektief nie. Klank trek nie so vinnig deur tot in die brein waar dit verwerk word nie.

Gehoortoestelle is ’n groot hulp, maar ons moet begrip vorm van hoe dit werk:

Die tyd wat verloop deur byvoorbeeld die klanksisteem. Mikrofoon by spreker se mond. Hiervandaan gaan dit na ’n ontvangstoestel wat dit verwerk om na byvoorbeeld die kerk se klanksisteem te stuur. Daar is ook weer ’n ontvanger waar verstellings gemaak word om dit so effektief moontlik na die luidsprekers te voer. Vanaf die luidsprekers trek die klank na die hoorders waarvan sommiges gehoortoestelle moet dra om te kan hoor. Gehoortoestelle het mikrofoontjies wat die klank opvang, dit verwerk sodat helder klanke by die oortrommel uitkom en al die fyn deeltjies in die gehoorsisteem in werking tree, die impulse na die brein stuur wat dit verwerk en sinvol interpreteer.

Hoe ouer ’n persoon word, hoe meer lêers moet deursoek en verwerk word om die inligting te interpreteer en tot sinvolle besluitneming te kom en tot aksie te kan lei.

Maar daar is ook ander probleme:

Sprekers wat harder en sagter praat. Nie alle gehoortoestelle kan outomaties en betyds die volume verstel om daarby aan te pas nie. Sommige sprekers praat onduidelik. Word die volume harder gestel, word álle klanke harder.

Akoestiek van sommige geboue veroorsaak ’n eggo-effek tussen spreker en luidsprekers.

’n Verdere probleem is wanneer jy tussen ’n groep mense is, oormekaar gepraat word met boonop agtergrondgeraas.

Die rigting van ’n klankbron is moeilik bepaalbaar. Nuwer tegnologie ondervang egter hierdie probleem grootliks, maar teen hoër koste.

Baie van gehoorprobleme het onstaan met letsels as gevolg van die Bosoorlog.

Gehoorverlies het ook ander probleme tot gevolg, soos onttrekking uit die samelewing en gevolglike vereensaming, minderwaardigheidsgevoelens, vernedering, funksioneer nie meer “normaal” nie, is maar enkele probleme wat ervaar word.

Verkeerde hoor van woorde, hoor net hier en daar ’n woord, val persone in die rede, reageer soms wat as ongemanierd ervaar word. Dit alles put die hoorder erg uit soos ook skerp en harde geluide.

Baie gebreke is sigbaar, maar gehoorverlies kan nie gesien word nie.

Hoor … hoor, almal wat kan hoor!

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top