Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

"Ek moes in 2007 oorvat (as moderator van die Algemene Sinode) in ’n woelige tyd," skryf prof Piet Strauss in die bydrae hieronder. "Die kwessie van Belhar as ’n bykomende belydenis vir die familie van NG Kerke was in die brandpunt, die eenheidsproses in hierdie familie was stram, die Algemene Sinode het opnuut gespook met ’n standpunt oor homoseksualiteit, die ANC onder Zuma het die NG Kerk beskou as ’n belangrike woordvoerder van die Afrikaner en ons moes praat, nuwe standpunte en nuwe maniere van doen het onrus in gemeentes veroorsaak en lidmate en groepe lidmate was bekommerd dat die NG Kerk die spoor byster raak." Foto: Le Roux Schoeman

Reeks: Gesprekke met moderators van die Algemene Sinode: 1962 tot op hede | Piet Strauss (2007-2011)


Eenheid van NG Kerk lê nie in ’n saamstem oor alles nie, maar wel oor kernsake – Piet Strauss

Hierdie rubriek vorm deel van ’n reeks. Die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk het in Oktober 1962 vir die eerste keer vergader. Die aanloop na die eerste sitting van die AS het reeds in 1907 plaasgevind toe die Raad van Kerke in die lewe geroep is. Hierdie Raad het die sinodes van die NG Kerk in ’n federale verband saamgebind. Vanjaar, van 15-20 Oktober, sal die Algemene Sinode van die NG Kerk weer in sitting wees en Kerkbode het met die oorlewende voorsitters van die Algemene Sinode onderhoude gevoer wat in komende uitgawes hier gepubliseer sal word.


Prof Piet Strauss, moderator: Algemene Sinode NG Kerk 2007-2011, skryf: 

My termyn as voorsitter van die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) was van die Algemene Sinode van 2007 tot die Algemene Sinode van 2011. Teen 2011 was ek al vir 17 jaar ’n lid van die ASK – by my eerste Algemene Sinode in 1994 word ek as ouderling verkies op die ASK – en die oortuiging het in my kom lê dat ek vir ander moet plek maak. My standpunt is steeds dat ’n gereformeerde kerk hom daarvan moet weerhou dat kerklike figure ’n te groot rol in sake speel of die idee skep dat hulle onmisbaar is. Boonop het sake op die tafel van die Algemene Sinode die manier om hulle te herhaal en dit neig om jou oneffektief te maak.

LEES OOK: ’n Oggend by prof Piet Strauss (71): Oor taak, groepsgevoel en die individu

Ek moes in 2007 oorvat in ’n woelige tyd. Die kwessie van Belhar as ’n bykomende belydenis vir die familie van NG Kerke was in die brandpunt, die eenheidsproses in hierdie familie was stram, die Algemene Sinode het opnuut gespook met ’n standpunt oor homoseksualiteit, die ANC onder Zuma het die NG Kerk beskou as ’n belangrike woordvoerder van die Afrikaner en ons moes praat, nuwe standpunte en nuwe maniere van doen het onrus in gemeentes veroorsaak en lidmate en groepe lidmate was bekommerd dat die NG Kerk die spoor byster raak. Hulle aanvoeling dat sinodale houdings in die NG Kerk verander en nie altyd gefundeerd is nie, was natuurlik reg. Later sou die Algemene Sinode verwarring skep oor dieselfdegeslagverhoudings.

 

Sleuteloomblik

Boonop het lidmate sogenaamde kerkleiers verdink van ’n gebrek aan konsekwentheid onder druk en dat hulle aand- en môrepraatjies nie ooreenstem nie. ’n Verslaggewer van Beeld wou by my na my verkiesing in 2007 weet of my woord as ’n lid van die Voortrekkers my eer is en of hy maar vir lidmate kan sê dat hulle my kan vertrou. Ek moes natuurlik “ja” sê! Dit was lekker om van hierdie beeld van Die Voortrekkers te hoor. Hierdie sleuteloomblik sal ek nie vergeet nie. Daarby het my standpunte nie altyd algemene goedkeuring weggedra nie. Deur middel van ons moderne middels van kommunikasie kon lidmate my egter ook verseker van hulle steun. Ek het ’n punt daarvan gemaak om “huisbesoek” by gemeentes oor die sake van die Algemene Sinode te doen. Daarom was die uitslag van die houding van gemeentes oor sake soos Belhar nie vir my verrassend nie.

Die eenheid van die NG Kerk lê nie in ’n saamstem oor alles nie, maar daarin dat die oorgrote meerderheid oor kernsake of belydeniskwessies dit eens is. Ons ken ongelukkig nie ons belydenisse as kwessies van die hart goed nie. Ons leef nie uit die troos van vraag 1 van die Heidelbergse Kategismus nie: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Daar is baie vormende faktore in hierdie posisies in die NG Kerk: Ek was vir twee termyne moderator van die Vrystaatse Sinode, moes praat met stads- en plattelandse gemeentes en die breë gemeenskap, met politieke leiers van alle kante en met talle organisasies waaronder van ons eie mense. Die besoeke aan gemeentes of “onse mense” was hoogtepunte. Kerkregtelik beskou lê ons kerkwees in ons gemeentes. Ek dink dat die geestelike status van die ASK in sy beeld en geloofwaardigheid by die gemeentes lê. Lidmate moet sinodale leiers kan vertrou. En jy is baie dankbaar as jou geloofwaardigheid hou.

Wat die toekoms betref moet die Algemene Sinode en sy kommissies erns maak met wat God met die NG Kerk wil. Natuurlik moet ons eietyds en aanpasbaar wees. Maar dan moet dit vanuit die kernwaarhede of Bybelse konstantes wees. Twee teenoorstaande standpunte kan nie albei reg wees nie.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Reeks: Gesprekke met moderators van die Algemene Sinode: 1962 tot op hede | Piet Strauss (2007-2011)”

  1. Ernst Swanepoel

    Piet Strauss was altyd een van ons kerkmense na wie ons opgesien het. Sy vertolking van “kernwaardes” is ook steeds in die hart van ons kerk. Sy kommentaar oor die Nagmaal en Doop is ook steeds “kernagtig”. Maar waar hy verkeerd is, is waar homoseksualisme en inklusiwiteit die “kern-waarheid” van die Doop (kinders uit ‘n huwelik – tussen man en vrou) en die huweliksformulier self (Woordgebonde kontrak tussen man en vrou) skielik geld vir man en man, vrou en vrou, met “ingekoopte” kinders, dan is die kernwaarhede van die NGK in gedrang. Dit sal noodwendig ‘n suiweringsproses veroorsaak waar diegene wat steeds by die kernwaardes (soos Piet dit gestel het) sal aandring daarop dat die NGK terugkeer na hulle Woordgebonde Waardesisteem. Die SGV en inklusiwiteitsbeweging in die NGK het reeds die kernwaardes gekompromiteer. Die NGK se “Droomscenario 2030”, is klinkklare bewys van die wegbreek van die kernwaardes van die NGK en arme Piet weet nie daarvan nie.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.