Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Dit was baie spesiaal,” vertel ds Karlien Becker van Nuwerus-gemeente wat op Sondag 26 Maart haar pa, dr Jan Grobbelaar op sy 67ste verjaardag kon bevestig as die nuwe leraar van Brandvlei-gemeente. Foto’s: Hennie Becker

‘Wonderlike voorreg!’ Dogter bevestig pa as dominee

Dit gebeur nie aldag dat ’n pa deur sy eie dogter as NG leraar bevestig word nie, so dit klink gepas om te hoor dat ’n paar trane gevloei het op Sondag 26 Maart toe dr Jan Grobbelaar nie net 67 jaar oud geword het nie, maar ook as leraar in Brandvlei-gemeente bevestig is deur sy dogter ds Karlien Becker van Nuwerus-gemeente.

Daar was emosionele oomblikke, vertel sy later. “Dit was ’n wonderlike voorreg … my pappa het my al in drie gemeentes bevestig as leraar, en dié keer het ék die voorreg gehad om hom te herinner aan die take van ’n leraar en hom te bevestig en te seën. Dit was baie spesiaal.”

Lees ook: Elders gelees Ma bevestig haar seun as predikant

Pa Jan het haar al in drie gemeentes as leraar bevestig. Nou het sy die voorreg gehad om hom in sy vierde gemeente te bevestig hier in die dorre hartjie van Boesmanland in die Noord-Kaap. Voor dit was hy eers leraar by Laingsburg, toe Komga waar Karlien so 40 jaar terug gebore is en daarna ook in Springs-Noord tot sy so 12 jaar oud was. Hierna was hy vir 28 jaar betrokke by die sendingorganisasies Kinderevangeliste Opleidingsinstituut in Witrivier (later Petra Instituut vir Kinderbediening) en Feba Radio Suid-Afrika.

’n Paar jaar gelede het hy geëmeriteer (afgetree), maar in sy hart was steeds die hoop om weer agter ’n kansel te staan. Soos Karlien vertel “ek weet al vir ’n paar jaar dat hy wel graag weer predikant in ’n gemeente wil wees … so toe hy die pos (by Brandvlei) geadverteer in Kerkbode sien het hy aansoek gedoen.”

Hy kies ook nie ’n gemaklike aftree ‘joppie’ nie. Brandvlei* is een van die gemeenskappe wat hard geslaan is deur die onlangse erge droogte wat hierdie streek byna 10 jaar in ’n wurggreep gehad het. Dié swaarkry lê Jan snr na aan die hart. Hy verduidelik: “Ek wil ’n gemeente en boerderygemeenskap wat diep seergekry het as gevolg van die langdurige droogte dien … sodat hulle heling sal ervaar en as geloofsgemeenskap die koms van God se koninkryk in Brandvlei en omgewing voluit sal dien.

“… my droom is dat ons, Brandvlei se gemeente en gemeenskap, mekaar se oppassers is en mekaar moet liefhê soos die mekaar-tekste in die Bybel dit verduidelik.”

Ds Karlien Becker tussen haar ouers, Marie en dr Jan Grobbelaar.

Die Grobbelaars het drie NG predikante in hulle gesin. Dit is pa Jan, haar jongste broer, ook Jan, en dan sy, die oudste kind en eerste vrou in hulle familie om in die bediening te staan. Sy en haar broer, tans predikant op Cradock-Oos, is meer as ’n dekade terug saam gelegitimeer. Hulle middelste broer, Schalk, is ’n ingenieur wat klasgee by die Universiteit van Pretoria.

Sy spot met soveel dominees in die gesin gaan tafelgesprekke in hulle gesin meestal oor kerksake. “Ek dink my ma (Marie) het dit al so aanvaar en sy is self opgewonde om weer ‘mevrou-dominee’ te wees.”

Karlien was self eers onseker of die bediening vir haar is. Soos sy vertel, “ek het op hoërskool al oor teologie gewonder, want ek was baie betrokke by die kerk en uitreike en vakansiedienswerk, maar ek was oortuig dat ’n vrou dit nie eintlik kan doen nie.”

So toe gaan studeer sy na skool eers Arbeidsterapie vir ’n jaar. In daardie jaar het sy egter oortuig geraak dat sy teologie moet studeer, ’n besluit waarin haar ouers en vriende haar dadelik ondersteun het. Nou was sy al leraar by twee gemeentes, Melmoth en Welgemoed en is sedert 2019 leraar in die gemeente op Nuwerus op die noordelike grens van die Weskus. Sy is getroud met Hennie en geniet haar werk “en om die mense van die omgewing met die Woord te bedien en pastorale ondersteuning te gee”.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top