Waar ’n wil is, is ’n weg. Die 92-jarige Jannie Roodt van Koster wou so graag iets doen vir droogtehulp dat hy in April in ses dae 504 keer met sy elektroniese rolstoel gery het rondom die Gereformeerde kerkgebou op sy dorp en so meer as R30 000 vir die projek ingesamel.
Dit kom neer op presies 166,6 km – die lengte van die RSG Red ’n Plaas Camino waaraan hy so graag wou deelneem, maar sy rolstoel sou nie hierdie Noord-Kaapse grondpaaie kon hanteer nie. Toe besluit hy om ’n virtuele saamry aan te pak … maar ek loop die storie nou vooruit.
Toe ons hom bel om sy storie te hoor begin hy ver terug. Hy en sy vrou Drienie het ’n tuisnywerheid op Koster in die Noordwes. Die afgelope paar jaar voel hy of die Here ’n passie in hom aan die brand gesteek het vir die mense van die Noord-Kaap wat so swaar kry weens die droogte. Al sy planne om mense in sy omgewing op te lei om lekkernye te maak wat vir fondse verkoop kon word wou nie uitwerk nie.
Toe hoor hy van die RSG Red ’n Plaas Camino en dat hy virtueel kan deelneem.
Oom Jannie vertel hy het ontdek as hy drie keer om die Gereformeerde Kerk in Koster gery het, het hy presies 1 km afgelê, en toe doen hy dit sommer nog 503 keer na die eerste keer. Dit het ses dae gevat, en oom Jannie het sy 166,6 km afgelê.

Dít terwyl hy ’n paar maande terug nog bedlêend was met ’n gebreekte bekkenbeen en stuitjie as gevolg van osteoporose. Hy vertel hy bid toe op ’n dag die woorde van Psalm 27 en vra vir die Here om vir hom ’n deur oop te maak sodat hy net weer ’n bietjie aan die beweeg kan kom. Daardie nag het daar mense by hom opgedaag en hulle het vir hom die elektriese rolstoel gebring, die einste een waarmee hy die virtuele camino gedoen het.
Sy gemeenteleraar, ds Danie Booyens van die Gereformeerde Kerk, vertel oom Jannie se aksie om die kerk het ’n nuwe energie by die gemeente losgemaak. Oud en jonk, uit die dorp se ouetehuis sowel as kinders so jonk as drie jaar oud, het hom vergesel op van sy rondtes om hul kerkgebou.
“Iemand soos hy wat sy geloof so fisies uitleef is ’n groot inspirasie en geweldige voorbeeld vir ons almal,” sê Booyens.
Deur ons hele gesprek sê oom Jannie herhaaldelik dat sonder die krag van God, en die inspirasie en vuur van die Heilige Gees hulle nooit hierdie ding sou kon aanpak nie, en ook nie kon voltooi het nie.
Sover kon hy reeds bykans R27 000 oorbetaal aan die Droogtehulpfonds van die NG Kerk in Noord-Kaapland. Hy skat die finale bedrag sal by R35 000 draai.
Hierna is Jannie lus vir meer avontuur … volgende jaar wil hy met sy rystoel 123 km ry van Springbok tot Pofadder – weer om fondse in te samel.
Vir mense soos oom Jannie moet ons oneindig dankbaar wees, want hy het geluister wat die Here van hom vra, en dit uitgevoer. Dit is die tipe verhale wat ons moet deel, en vertel. Want dit is wat die kerk in haar kern moet wees.
Aantal virtuele camino-stappers verras

Caritas Gemeenskapsfokus se bemarkingsbestuurder, Esté van der Merwe, vertel dit was ‘n atleet uit Springs aan die Oos-Rand, Rachel de Beer, wat haar gebel het met die voorstel hoekom skep hulle nie ’n opsie vir virtuele deelname aan vanjaar se 2023 RSG Red ’n Plaas Camino nie. Dan kan meer mense op so ’n manier die Droogtehulpfonds help net waar hulle is. Uiteindelik het individue en gemeentes regoor die land deelgeneem. “Ons het nie gedink die virtuele stapprojek gaan so groot wees nie, maar ons is dankbaar vir elkeen wat deelgeneem het,” voeg sy by.
Saam met bydraes deur donateurs trek vanjaar se fondsinsameling nou oor die R1.2 miljoen-kerf. Die fondse word die NG Kerk in Noord-Kaapland se Droogtehulpfonds gebruik veral om boere wat swaarkry te help met die betaal van hul kinders se skool- en universiteitskostes.
- Die berig is geskryf deur Estian Mentz en Heléne Meissenheimer. Ds Mentz is leraar by NG Gemeente Kimberley-Harmonie.

