Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Bernhard Ficker van Somerset-Wes skryf: Ek en andere het onlangs teruggekeer van die eerste Koinonia Sinode van NG gemeentes wat saam op weg is na kerkreformasie wat van 3-4 Mei in Vanderbijlpark gehou is.
Op pad soontoe het ek gewonder watse besprekings oor die duiwel se bestaan, al dan nie, by hierdie sinode sou plaasvind. Veral na die besprekings wat dit uitgelok het by die onlangse Vrystaatse Sinode en die daaropvolgende klomp skrywes in die koerante se briewekolomme.
Die Koinonia Sinode se agenda was ’n deeglike reeks verslae en aanbevelings van 100 bladsye. Nêrens kon ek voorstelle of aanbevelings aangaande die duiwel vind nie en gevolglik was niemand die duiwel in by hierdie sinode nie. Dit is seker omrede daar so ’n besonderse groot mate van eenstemmigheid op alle gebiede by die sinode was en niemand in Lucifer se letterlike bestaan getwyfel het nie.
Die formele geloofsverklaring wat aanvaar is meld immers die volgende: “11.4 Satan: Ons aanvaar die Bybel se duidelike getuienis oor die persoonlike aard van die duiwel wat rondloop soos ’n brullende leeu op soek na wie hy kan verslind (1 Pet 5:8). Ons getuig teen alle sinodale besluite wat ruimte maak vir die dwaalleer dat Satan slegs ’n onpersoonlike of bose mag of krag is”.
Dit blyk nou dat alle NG lidmate wat in die letterlike bestaan van die duiwel glo by die dolerendes behoort aan te sluit wat onder die Koinonia Sinode resorteer, terwyl al die liberales wat die letterlike bestaan van die duiwel ontken en glo hy is maar net nog ’n mitologiese figuur, maar by die oorblywendes moet aanbly wat onder die Wes-Kaapse Sinode, Vrystaat Sinode en ander streeksinodes resorteer waar dit opsioneel is om in die duiwel te glo.
