Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Johan van der Merwe: Pinkster 2023 | Dit is tyd vir ’n nuwe herlewing

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Pinkster is tradisioneel tyd vir herlewing in die NG Kerk. Die wortels van hoe pinkster in die NG Kerk gevier word, strek immers vir meer as 100 jaar terug na 1861 toe die eerste groot herlewing in die Paarl plaasgevind het.

Dit het nie gebeur omdat ’n beroemde of bekende predikant vir drie of vier aande in die gemeente oor een of ander aktuele onderwerp “gesels” het nie, maar omdat lidmate van die gemeente vir twaalf dae in groepies vir herlewing gebid het.

Van 9-19 Mei 1861 is daar ernstig gebid dat die Heilige Gees op ’n kragtige wyse in die gemeente sou begin werk. Tydens Pinksterfees op Sondag 19 Mei 1861 het die plaaslike predikant, ds GWA van der Lingen, ’n visioen gesien wat hy met die gemeente gedeel het. Dit het lidmate so aangegryp dat dit tot grootskaalse herlewing in die gemeente gelei het. Die gebeure was so aangrypend dat ander gemeentes in de volgende jaar ook met Pinksterbidure begin het en so is ’n tradisie gevestig wat oor jare heen bekering en herlewing in duisende lidmate se lewe tot gevolg gehad het.

Waarom is Pinkster 2023 so belangrik? Suid-Afrika beleef ongekende chaos. ’n Bekende politieke ontleder gaan selfs so ver as om te skryf dat beurtkrag ’n verskroeideaardebeleid is wat die regering op die mense van Suid-Afrika toepas. Dit beïnvloed elke gemeente en elke lidmaat van die kerk.

Geweld, korrupsie en armoede neem by die dag toe terwyl baie lidmate hulle werk verloor weens onsinnige besluite van die regering.

In ’n tyd soos hierdie is dit nodig om terug te gryp na die kerk se gereformeerde wortels – die feit dat die Here sy kerk en elke lidmaat deur sy Woord en Gees lei om ’n verskil in hierdie wêreld te maak. Dit kan egter net gebeur as lidmate in elke gemeente opgeroep word tot verootmoediging en hernude toewyding aan die Woord van God.

Hoe ernstig hierdie saak is, word beklemtoon deur ’n jong kollega wat onlangs, nadat sy in ’n nuwe gemeente bevestig is, opmerk: “Die kinders in die belydenisklas weet nie eens wie Paulus is nie!” Miskien is dit nodig dat daar nou meer as ooit in die kerk minder “gesels” word oor aktuele onderwerpe en ’n slag weer ernstig gebid word vir herlewing wat kom deur die werking van die Heilige Gees en studie van die Bybel. Dit sal lidmate bemagtig om hulle pad deur die chaos te vind en dit sal gemeentes in staat stel om bakens van lig in ’n donker land te wees.

  • Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Johan van der Merwe: Pinkster 2023 | Dit is tyd vir ’n nuwe herlewing”

  1. Walter Sutton

    Ek wil met dit wat gedeel word aansluit by die koor van mense wat graag “Amen” antwoord op dit waarmee hul volmondig saamstem. Amen!

  2. Andries de Kock

    Prof Johan van der Merwe, Broer in Christus, Ek dank jou vir die Evangeliese boodskap ten opsigte van Pinkster soos ek dit as 12jarige seun (toe ek my hart vir die Here gegee het) en vir ‘n groot gedeelte van my jongmens dae leer ken het. Dat Pinkster die tradionele tyd van herlewing in die NG Kerk was, wat wedergeboorte en bekering en ‘n nuwe lewe van gehoorsaamheid aan die voorskrifte van Jesus, in my eie lewe en duisende lidmate se lewe tot gevolg gehad het. Ek wil ook graag die woorde van die jong vroue kollega, waarvan u aan die einde van u berig melding maak, eggo, naamlik, “Miskien is dit nodig dat daar nou meer as ooit in die kerk minder gesels word oor aktuele onderwerpe en ‘n slag weer ernstig gebid word vir herlewing wat kom deur die werking van die Heilige Gees en studie van die Bybel. Dit sal lidmate bemagtig om hulle pad deur die chaos te vind en dit sal gemeentes in staat stel om bakens van lig in ‘n donker land te wees.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.