Kerkbode het onlangs berig oor die groot kommer by welsynsorganisasies namate prioriteite by Maatskaplike Ontwikkeling skuif. Familienuus, die nuusbrief van Oostelike Sinode, berig vandeesweek oor ‘n groot wending in hierdie storie via die jongste uitgawe aan intekenaars.
“Ek gee graag terugvoer oor hoe dit nou gaan met die CMR,” skryf Henda van der Merwe, direkteur CMR Gauteng-Oos, in die Nuusbrief wat 23 Mei uitgestuur is en waarin van der Merwe ondermeer vermeld dat alle personeel terug op kantoor en alle normale werksaamhede hervat het. Sy skryf:
- “Na aanleiding van die beplande 60% staatsubsidie vermindering was al ons kantore gesluit vanaf 24 April tot verdere kennisgewing..Dit het ongelooflik baie reaksie en skok uitgelok by die gemeenskap. Die personeel het van hul huise gewerk.
- Alle aanmeldings was verwys na die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) en rekord is gehou van alle verwysings om te voorkom dat enige gesin/kind nie hulp ontvang nie.
- Na gemeenskaplike aksie in Gauteng as geheel is daar ’n “Gauteng Care Crisis Committee” /GCCC) gestig met talle Nie-winsgewende organisasies as lede.
- Daar was baie dekking in die media oor die krisis dat die kwesbaarste groepe naamlik kinders en gesinne in nood en krisis, gestremdes en ouer persone in die gemeenskap, se subsidies drasties ingekort is. Skrikwekkende verhale is gedeel. Ons is verlede week in kennis gestel dat ons wel die volle subsidies sal ontvang en glo dit was as gevolg van die erge druk op die Premier van Gauteng (Panyaza Lesufi).
- Ons is in kennis gestel dat die subsidies weer ingestel sal word vir die termyn 2023 – 2024.
- Diensleweringskontrakte is ontvang, geteken en terug gestuur na DMO.
- Alle personeel is terug op kantoor en het alle normale werksaamhede hervat.
- Ons is dankbaar vir elkeen se ondersteuning en gebede gedurende hierdie tyd van onsekerheid. Dit het ‘n verskil gemaak in die voortgesette dienslewering aan en beskerming van die regte van kinders en kwesbare gesinne.
Ons het weereens beleef dat God groot en goed is, en het gerustheid dat die werk altyd in stand gehou sal word,” aldus van der Merwe.
- Bron: Via Nuusbrief. Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is. Sien bronverwysing onderaan die artikel.
- Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.
- Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is.
Geborg
