Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Henrietta Klaasing skryf: ‘Nee’ vir hierdie dokument

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: ATLAS se “Dokument vir gesprekvoering oor reproduktiewe gesondheid: Aborsie” het in April 2023 verskyn. “Die finale weergawe van die gespreksdokument sal as vorderingsverslag dien by die Algemene Sinodesitting in Oktober 2023, as deel van die ATLAS-verslag”. ATLAS verwelkom dialoog, en is bewus daarvan dat sommige lesers teleurgesteld sal wees, skryf hulle.

As toegewyde lidmaat is ek diep ontsteld oor die aanbieding, inhoud en werkswyse. Daar word bepaalde “kontoere” (kontoere veronderstel begrensing, ’n spesifieke vorm) gestel waarbinne daar “gesprek gevoer” word. Verder is dit verwarrend, want op drie plekke word sogenaamde “kontoere” gestel wat nie noodwendig met mekaar verband hou nie.

Met die Algemende Sinode van 2019 is besluit dat ATLAS oor drie dinge saamstem: (1) Ons is ernstig oor die gesag van die Skrif; (2) Ons aanvaar dat God die gewer van alle lewe is en dat God dit baie kosbaar ag; (3) Ons erken dat ’n verskeidenheid van stemme gehoor moet word in die gesprek (stemme vanuit die Skrif en tradisie, die ekumene, die mediese wetenskap, die regswese en van mense wat direk geraak word). Volgens my is min sigbaar van werklike indiepte inagneming van punte een en twee. In hoofsaak gaan die dokument oor die tradisie, die ekumene, die mediese wetenskap en die regswese en hier en daar oor die Bybel en tradisie.

Die hoek waaruit gekyk word, word aangedui onder die sambreel van “kyk na die groter landskap”. Bepaalde organisasies, gebeure en persone word aangehaal met uitgebreide kommentaar daaroor (wat dan van dialoog en gesprek?).

So word verwys na die Verenigde Nasies se 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte en word skakels gegee om te lees oor die globale konteks rakende aborsiewetgewing, beleide, gesondheidstandaarde en riglyne.

Daar word ook verwys na die 1973 Roe vs Wade hofsaak in die VSA waar daar geëis is dat vroue beheer oor hulle eie liggaam moet hê – dat elke vrou self moet kan besluit oor haar eie voortplanting. Daarna skryf ATLAS in negatiewe terme daaroor dat die uitspraak in 2022 omgekeer is met die Dobbs-uitspraak.

Relatief baie aandag word gegee aan gesprekke met ’n verpleër, ’n navorsingpsigiater en ’n maatskaplike werker teenoor dit wat in die Bybel staan.

Ook sekere emotiewe frases word tussenin gegooi soos “ou mans in rokke wat nog nooit seks met vroue gehad het nie oor vroue se voortplanting besluit en toegang tot aborsie beperk” en die “antieke raamwerk” van Bybelse uitsprake wat “ingebed (was) binne ’n groter raamwerk van hiërargie, status, patriargie, beperkte hulpbronne, en oorlewing”.

Plek-plek tussen die lyne lees ek radikale feminisme se “my body my choice”. Nêrens ’n pleidooi, ’n stem vir die stemlose oor wie hierdie “gesprek” in die eerste plek gaan: die mees weerlose van weerloses, ’n ongebore kindjie geskape na die beeld van die lewende God. Ek spreek my ten sterkste uit teen hierdie dokument.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top