Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Gerhard Mahne van Kaapstad skryf: Ek lees onlangs “I hate to confront those who … do not debate the content, just the labels.” Is jy ook al moeg om mense wat oor etikette debat voer te konfronteer? Waarom? Want dit blyk dat hierdie tipe debatvoering gewoonlik emosievol, maar sonder grondige feite geskied, dat appels met pere vergelyk word en dat teenstanders etikette om die nek gehang word. In die vorige eeu is mense wat van regeringsbeleid afgewyk het op dié manier bygekom. Agter elke bossie was ’n kommunis; nie dat kommunisme nie gevare inhou nie. Die Rooi-gevaar-etiket-debatvoering het toe oorgewaai en plek gemaak vir ’n paar nuwes, onder meer homofobie.
LEES OOK: ‘My grootste geskenk as gay bedienaar van die Woord …’
Deesdae loop jy ’n homofoob om elke hoek en draai raak. Jy’s self een as jy met die inhoud en optredes van die afgelope Pride-Maand-beweging ongemaklik gevoel het. ’n Persoon wat in die openbaar van manlik en vroulik in plaas van gender praat is homofobies. As ’n skoolhoof en beheerliggaam die reël van aparte kleedkamers vir seuns en dogters handhaaf, is hulle homofobies.
In kerklike politiek geld dieselfde. In April verskyn ’n dun boekie met die titel Die kerk met die verkeerde baas wat krities staan teenoor vrysinnige Skriftoepassing wat in sinodale besluite reflekteer. Derhalwe word die 16 skrywers ook onder meer van homofobie beskuldig. In Mei word ’n sinode met die naam Koinonia gestig. Die meer as 50 kerke (gemeentes) se 200+ afgevaardigdes is sedertdien toe ook as homofobies geëtiketteer. Etiketdebatvoering is emosiebelaai en sonder grondige feite! Gelukkig het die kommunismespook oorgewaai. Dit behoort ook met hierdie spook te gebeur.