“Dit is om ’n ou trane in jou oë te gee na nege jaar van struggle en sukkel en droogte en als wat tot niet gegaan het en kyk nou net die wonderlike gesig!”
Só vertel Berto Archer, skaapboer van Kamieskroon in Namakwaland, vir Kerkbode na swaar reëns die droogtegeteisterde streek deurnat gelaat het.

Archer het Donderdagoggend 29 Junie ’n video en foto’s geneem om te wys hoe loop die besproeiingsdam op hulle familieplaas oor na dit die afgelope nege jaar kurkdroog was. Die dam het kapasiteit vir 295 kiloliter water. Hy vertel die vorige dag was die dam nog so leeg soos toe Kerkbode hom en sy vrou Sulene in Februarie op hulle plaas besoek het.
Lees ook: Droogte: ‘Die Here weet wie jy is, waar jy boer en waardeur jy gaan’
Archer sê hulle het binne 24 uur sowat 60 mm reën gehad. Die afgelope maand het meer as 150 mm reën reeds geval, wat beteken daar is goeie vooruitsigte vir die veld om te herstel en vir ’n goeie blommejaar.
Netwerk24 het ook berig daar was wydverspreid swaar reën oor die hele Namakwaland. Nooddienste moes inspring waar mense in hulle voertuie meegesleur is deur vloedwater en paaie het plek-plek verspoel.
Vir skaapboere soos Archer bring die reën egter hoop. Hy vertel meer: “Jy sal nie glo watter las van ’n ou se skouers afval as jy skielik vooruitsigte het nie. Ons weet daar gaan weiding vir ons diere wees. Ons hoef nie voer te koop nie. Ek kan my besproeiingstelsel herstel. Dit gee ’n ou weer purpose in die lewe.”
“Ons hart is vol dankbaarheid,” voeg hy by.
- In Februarie het Kerkbode ook gesels met Elton Vries wat 60 km noord van Springbok ’n veeplaas besit. By navraag of sy plaas ook goeie reëns gehad het, het hy laat weet hy het net 9 mm gehad.