Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Sluitingsdatum vir aansoeke: 24 Julie 2023.
Hoop Geloofsgemeenskap kom op ’n Sondagoggend in die skoolsaal van Curro Sitari in Somerset-Wes bymekaar. Ons gemaklike en informele styl met ’n fokus op vriendskap, verhoudings en wedersydse bediening word sigbaar uitgeleef tydens hierdie samekoms. Die gasvryheidspan staan gereed om jou sommer voor die diens al met ’n heerlike koppie koffie te verwelkom en daarna sit ons om tafels waar gespreksvrae, wat by die boodskap aansluit, gevoer kan word.
Die ongeveer 100 lidmate bestaan uit jong werkendes, ’n middelgroep ouers met kinders wat almal deel is van die diens, en senior lidmate. Die groepies om die tafels wissel spontaan elke week, en verklap iets van ons gemaklikheid om almal mekaar beter te leer ken en juis by mense anders as onsself te leer.
Ons het ’n behoefte aan ’n egte (“authentic”) leraar wat Bybelse waarhede op ’n praktiese wyse aan ons sal oordra. Nie slegs inligting en kennis nie, maar die uitwerking van die evangelie wat jy in jouself beleef en relevant tot ons daaglikse leefwêreld. Ons verwag nie dat jy huisbesoek moet doen nie, maar wel verhoudings sal bou met ons uiteenlopende ouderdomsgroepe.
Getuienis is ook een van ons kernwaardes en geleentheid word geskep vir mense om hulle stories van hoop, dankbaarheid en seer met die gemeente te deel. Gewoonlik kuier ons verder ná afloop van die erediens.
Hoop Geloofsgemeenskap het in 2019 ontstaan as ’n alternatiewe erediensbediening van Helderberg Gemeente. Ons wou ’n ruimte skep vir mense wat nie noodwendig tuis voel in die tradisionele bedieningstrukture van die NG Kerk nie. Alhoewel Hoop tans grootliks onafhanklik werksaam is, vind daar steeds samewerking plaas met die leraars en leiers van Helderberg Gemeente.
Vergoeding: Die geskikte kandidaat sal ongeveer 20 ure per week beskikbaar wees. Vergoeding is onderhandelbaar in ooreenstemming met die aantal werksure wat moontlik is. Ons huidige leraar het sy eie besigheid en het sodoende die gemeente op ’n deeltydse basis bedien.
Help ons om jou beter te leer ken deur ’n CV, van nie langer as twee bladsye nie, te stuur na mynhardtvz@gmail.com. Ons sal graag ook die name en kontakbesonderhede van drie verwysings ontvang. Ons sal jou CV deeglik oorweeg en mag dan besluit om jou te nooi vir ’n onderhoud.
Navrae: Ds Mynhardt van Zyl (076 403 1971).
