Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
In afhanklikheid van die Here, nooi die NG Gemeente Waterkloof alle gelegitimeerdes met volle ampsbevoegdheid om aansoek te doen vir ’n medeleraarspos.
Gemeenteprofiel
Waterkloof-gemeente is vanjaar 65 jaar oud en het tans ongeveer 900 lidmate. Die gemeente is geleë in die ou Ooste van Pretoria wat die woongebiede Waterkloof, Nieuw Muckleneuk, Groenkloof, en dele van Waterkloofrif en Monumentpark insluit. Talle van ons lidmate is egter ook woonagtig in ander dele van Pretoria. Ons wil ’n gemeente wees waar almal hartlik welkom en tuis voel en plaas daarom ’n hoë premie op die omarming van diversiteit, gesonde menseverhoudinge, persoonlike kontak met lidmate en die sosiale instellings van die gemeente. Daar het die laaste paar jaar wesenlike demografiese veranderinge binne die gemeentegrense van Waterkloof plaasgevind en dit is ’n proses wat steeds voortduur. Een van die gemeente se huidige uitdagings – wat ons ook as ’n geleentheid beskou – is om ’n geestelike tuiste van keuse te wees vir die talle nuwe intrekkers in die omgewing, waarvan ’n beduidende hoeveelheid jong gesinne is.
Die volgende profiel dien as riglyn vir voornemende aansoekers:
- Verkieslik vyf jaar leraarsondervinding in ’n gemeente.
- Verantwoordelik vir aktuele prediking en pastorale versorging.
- ’n Belese teoloog wat in die prediking en pastoraat die Bybel op relevante en geloofwaardige wyse, lojaal aan die gereformeerde teologie, vertolk.
- Vereenselwig met die teologiese uitgangspunte van die NG Kerk en van Waterkloof-gemeente.
- Omarming van diversiteit en die vermoë om gemaklik met persone van alle ouderdomsgroepe te kommunikeer.
- Betrokkenheid by die gemeenskap, insluitende skole en aftree-oorde.
- Bewese samewerking in spanverband met die medeleraar, die personeel asook georganiseerde strukture binne die gemeente.
- ’n Inklusiewe ontwikkeling van gesonde verhoudings met lidmate en ander lede van die gemeenskap.
Ooreenkoms en vergoeding
Die aanstelling is vir ’n voltydse predikantspos soos omskryf in klousule 1.1 van Reglement 14 van die Kerkorde. Vergoeding is volgens die riglyne van die Noordelike Sinode, met ’n behuisingstoelaag.
Diensaanvaarding 1 Januarie 2024 of so spoedig moontlik daarna.
Aansoeke en navrae
Belangstellendes word versoek om ’n volledige CV, ’n video (3 min) waarin die aansoekers hulleself bekendstel en ’n motivering bied vir die aansoek, ’n skakel na ’n opname van ’n onlangse erediens, asook ten minste twee referente, elektronies te rig aan: Die Voorsitter van die Kerkraad NG Waterkloof by: ngkwater@yebo.co.za
Voornemende aansoekers wat meer inligting wil bekom, kan enige tyd vir Nina Grundelingh by ngkwater@yebo.co.za, of telefonies te 012 460 3913 of Bernice Serfontein (medeleraar) by bernice.serfontein@gmail.com kontak.
Sluitingsdatum: 25 Augustus 2023.
Kandidate moet bereid wees om tot ’n onderhoud toe te stem.
Alle aansoekers sal voor of op 15 September 2023 in kennis gestel word of hulle aansoek die kortlys van kandidate gehaal het al dan nie.
Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling te maak nie.
