Humble: Free yourself from the traps of a narcissistic world deur Daryl van Tongeren
Uitgewer: Welbeck Publishing Group, 2022
Resensent: Jannie le Roux
Alhoewel predikante en pastore dikwels die lof van nederigheid besing, is daar ’n beduidende graad van narsisme onder baie kerkleiers!
Dit is een van die nagevorste stellings deur Daryl van Tongeren wat my nogal diep laat nadink het, want hierdie stelling kom in sy laaste hoofstuk oor ’n florerende gemeenskap. Ons land het florerende gemeenskappe nodig en leiers moet juis die voorbeeld hierin stel.

Ek het myself gevra hoe nederig ekself is of oorkom vir ander mense. En moed geskep omdat die outeur self nie te waffers hiermee gevaar het toe hy sy vrou se opinie vra nie. Hy was nogal geskok, want sy het hom maar ’n 4 gegee uit 10. Ons het almal nodig om in plaas van ’n “selfie” te neem, eerder in die spieël te kyk en werk te maak van hierdie wonderlike deug. Nederigheid help nie net gemeenskappe om te floreer nie, dit help onsself ook om te floreer.
Die navorsing wys dat mense geneig is om negatief te reageer op vernedering, maar juis positief op nederigheid. Confucius het al eeue terug gesê dat nederigheid die soliede fondasie van al die ander deugde is.
My voorstel is dat jy en ’n paar vriende of ’n selgroep hierdie uitstekende boek hoofstuk vir hoofstuk deurwerk. Die boek is opgedeel in drie dele:
“Die voordele van nederigheid”;
“Kultivering van nederigheid”; en
“Hoe nederigheid jou lewe kan verander”.
Lees dit terwyl jy Jesus se voorbeeld in Filippense 2 ook in die oog hou.
In ons huidige smeltkroes van toenemende politieke, ekonomiese, geslagtelike en godsdienstige polarisasie, is hierdie ’n móét lees vir mense wat regtig wil werk aan ’n beter toekoms vir almal.
Beskikbaar by Takealot.
- Prof Jannie le Roux gee lesings vir doktorale studente oor “human flourishing” en bied ook die MBA-modules vir “Human Resources” aan namens IBR.
