Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Doret Niemandt gesels met Frikkie Coetzee | ‘Dissipelskap beteken dat ander deur jou lewe uitgenooi word om deel van hierdie reis te word’

Doret Niemandt ontdek ’n belangrike nuwe perspektief by dr Frikkie Coetzee in hulle gesprek oor Coetzee se PhD-tesis, getiteld “Evangelisasie en die evangelie van die koninkryk binne ’n missionale paradigma”.

Coetzee was al van die begin van sy studies betrokke by sendingprojekte en uitreike in die middestad van Pretoria. Later toe hy aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer het, was hy betrokke by Straatwerk in Kaapstad. Hy het nog altyd ’n hart vir mense buite die bestaande kerkstrukture gehad en gewonder oor evangelisasie.

Die “e-woord” word egter die meeste van die tyd in ’n negatiewe lig gesien. Evangelisasie het in baie van ons se gedagtes sinoniem geraak met “draai of braai”-praatjies en -traktaatjies. Coetzee noem dat dit selfs ’n verleentheid in baie kringe geword het en dat mense nie daaroor wil praat nie. Die meeste van die tyd spruit dit uit een of ander slegte ervaring wat hulle in die verlede gehad het.

In sy navorsing gebruik hy dan Jesaja 52:7 om evangelisasie weer af te stof en ’n vars perspektief te gee:

Hoe wonderlik klink op die berge

die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring,

wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring,

wat redding aankondig,

wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!”

Dit gaan vir Coetzee oor die goeie boodskap wat gebring word, die goeie nuus vir ’n stukkende wêreld. En dit het nie te make met ’n goeie preek of enige vorm van konfrontasie nie, maar ’n beliggaamde evangelie. Of anders gesê, wanneer die vreugde van die goeie nuus nie iets is wat jy eers in woorde hoef te sê nie, maar wanneer dit selfs in jou voetstappe gehoor kan word.

Lees ook: Die ‘verleentheid’ van die e-woord … | Die NG Kerk en evangelisasie Deel 1

Die styl van evangelisasie is krities belangrik, noem Coetzee. Dit begin by intensioneel en geloofwaardig teenwoordig wees. En dit is nou verbind aan luister, respek, menswaardigheid, diensbaarheid, en natuurlik, liefde. Dit is daarom nie iets ekstra wat bygevoeg word tot gelowiges se lewe nie, maar deel van elke gelowige se roeping. Jy moet die goeie nuus vir mense wees deur jou menswees – dit is alreeds evangelisasie. Dit is eintlik deel van ’n gelowige se indentiteit, sê Coetzee. Wanneer jy Jesus volg en ’n dissipel van Jesus is, beteken dit dat ander deur jou lewe uitgenooi word om deel van hierdie reis te word. Dit is wat dit is, ’n reis saam met die Here. ’n Avontuur saam met die Here.

Dr Frikkie Coetzee is predikant by die NG Gemeente Lux Mundi.

Die volgende twee perspektiewe is dan belangrik in die evangelisasie-avontuur:

Eerstens gaan evangelisasie nie net oor die ‘eindbestemming’ nie. As ’n mens net gefokus is op die hemel, dan mis ’n mens uit op die hier en nou. Beide is belangrik, meen Coetzee, Jesus is baie meer as net jou persoonlike verlosser en saligmaker, Jesus is die Here! Dit is ’n kernkonsep. As jy dan nou môre wakker word en jy is nie dood nie, wat dan van die lewe – hoe gaan jy lewe? Hierdie avontuur gaan daaroor om Jesus te ontdek in die hier en nou en die lewe wat Hy vir jou gegee het. ’n Nuwe lewe waar jy in die gebrokenheid van ons wêreld ook lewe gee. Dit is ’n alternatiewe lewe en ’n lewe in oorvloed, soos Jesus ons leer.

Tweedens gaan evangelisasie oor ’n gesamentlike verantwoordelikheid. Dit moet in die hart van elke gemeente wees en kan nie uitgekontrakteer word aan enkele individue nie. Dit is te erg as dit net jy is, sê Coetzee, niemand sien kans daarvoor om alleen hierdie groot taak op hulle skouers te neem nie. Dit is daarom belangrik dat gemeentes geïnspireer word om weer die goeie nuus te ontdek en dit uit te leef met vreugde na die res van die gemeenskap toe. Om deel van ’n gemeente te wees, is meer as eredienste bywoon op ’n Sondagoggend. Dit is om Sondagoggend by die erediens weg te ry en die goeie nuus te gaan wees, doen en deel daar waar jy bly, speel en werk.

Lees ook: Doret Niemandt gesels met dr Thys du Toit: ‘Roeping is jou unieke bydrae’

Coetzee se navorsing dui aan dat evangelisasie nie ’n uitgediende konsep is nie. Die ou manier werk egter nie meer nie, want ons konteks het verander. Dit is daarom so belangrik om weer opnuut na die e-woord te kyk en uit te vind hoe dit vandag kan lyk. Hoe kan ons vandag die goeie nuus ontdek, beliggaam en deel. Nie net as ’n versekeringspolis vir eendag nie, maar om nou iemand te wees wat hoop bring vir ’n stukkende wêreld. En die groot vraag is dan, wanneer jy so deur die lewe saam met die Here reis – hoe gaan jou voetstappe klink?

Dr Doret Niemandt is predikant by die NG Gemeente Valleisig.

Dr Frikkie Coetzee is predikant by die NG Gemeente Lux Mundi.

  • Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top