Sy was stukkend na haar man Ockert se dood. Hy was haar beste vriend.
Michele Potgieter se eerste gedagte was sy dat nie sonder hom kon teruggaan na Reni, die hawedorp in Oekraïne waar hulle ’n gesin begin en saam ’n gemeente, kleuterskool en huis vir swanger vroue opgebou het oor 27 jaar, nie.
Ockert is in Oktober 2021 aan Covid dood terwyl hulle met vakansie in Suid-Afrika was. Terwyl sy die oggend na sy dood voel of sy in ’n put van moedeloosheid is, hoor sy in haar binneste dat die Here vir haar sê: “Michele, Ek is naby dié wat gebroke van hart is. Ek tel jou op en maak jou heel en sterk. Ek stuur jou terug na Oekraïne om die werk wat daar begin is klaar te maak. Ek sal by jou wees …”
So skryf Michele in haar nuwe boek, Sonneblomme en sneeu in Oekraïne, oor daardie oggend wat sy besluit om terug te gaan al het sy geweet ’n Russiese inval in Oekraïne mag gebeur.

Meer as 500 dae van oorlog later is dit waar sy wil bly. “Ek wil in Reni en die oorlog bly solank as wat die Here my hier wil hê,” skryf die 51-jarige wat eens semifinalis in die Mej Suid-Afrika-kompetisie was. Sy vertel in haar boek haar sukses met modelwerk en skoonheidskompetisies was skielik net nie meer vir haar belangrik nie. Sy het oor sendingwerk begin droom … en ’n paar maande later vir Ockert ontmoet, die lang aantreklike donkerkop regsdosent wat sy hart verloor het op die mense van Reni.
Uitdagings was daar baie vir die pasgetroude jong paartjie. Michele vertel in haar boek hoe koud en ysig die winters is (tot -24 grade). Baie huise het nog puttoilette buite gehad en was sonder badkamers. Hulle moes vinnig Russies leer praat en skryf. Dit was die middel-90’s en kort na die ontbinding van die Sowjetunie. Die KGB was agterdogtig en het gedink hulle is spioene … een aand is hulle selfs aangehou deur vyf mans van die plaaslike Mafia en met die dood gedreig.
Hulle storie gryp mense aan. Sy het onlangs in Suid-Afrika aangekom om die boek bekend te stel en haar program is vol. Die dag na ons onderhoud sou sy vlieg na Pretoria waarop nog boekbekendstellings volg by gemeentes wat haar regoor die land ondersteun.
Sy was ook al op radio en ander nuuskanale om haar storie te vertel.
Op die vraag of sy nie bang was toe die oorlog uitbreek nie, vertel sy toe die nuus breek dat die eerste bomme geval het, het sy saam met die mense van hulle kerk gebid en toe begin om al die kos in haar huis bymekaar te maak om warm sop te maak om uit te deel vir die vlugtelinge by die grens, meestal vroue en kinders want die Oekraïnse mans moes gaan veg.
“My jongste seun het gesê ‘Mamma deel al ons kos uit’, maar ek het net gesê die Here sal voorsien, ek weet nie hoe nie maar Hy sal sorg … en Hy het tot vandag toe,” vertel die ma van vyf terwyl ons gesels in ’n besige restaurant. By haar is hulle enigste dogter, Mari-Alena, wat graag volgende jaar wil begin skool gee. Hulle vier seuns, twee is getroud, bly die wêreld vol.

Michele en mense van hulle gemeente maak elke dag kos vir mense wat vlug uit gebiede wat gebombardeer word. Daar is nou al duisende vlugtelinge in Reni. Die inwonertal het met sowat 15 000 omtrent verdubbel, het Michele verneem.
Lees ook: ‘Wees Jesus se beursie in Oekraïne’
Baie van hierdie mense word na hulle kerk verwys om ’n warm ete te kry, maar hulle help ook mense met klere en blyplek as dit moontlik is. Sy kry skenkings van vriende uit Roemenië en kan ook aankope laat doen met donasies uit Suid-Afrika.
In Reni is min kos te koop. Mense staan ure tou vir ’n brood of een sakkie meel.
Die meeste van die mense wat by hulle kom het alles verloor. Familielede, besittings, huis. Hulle is stukkend. Sy vertel sommige is ook kwaad vir God.
Sy en die mense van hulle kerk gee hulle ’n warm bord kos. Dan sit hulle saam met die mense. Gesels. Luister. Bid saam.


Michele vertel sy sien die verskil wat hierdie belewenis van warmte en medemenslikheid maak. Vir die vlugtelinge, maar ook vir haar.
Sy vertel partykeer raak die gemis na Ockert so erg dat sy haar saans aan die slaap huil, maar in die oggend “voel ek die Here se Teenwoordigheid so sag by my … het ek hierdie stil wete Hy is met my. Sy Woord sê Hy is naby die hartgebrokenes en ek kan rêrig getuig dat Hy naby is”.

Daarom het sy vrymoedigheid om vir hierdie mense wat alles verloor het te vertel sy weet hoe dit voel asof jy in ’n donker put is, asof jy nie krag het vir môre nie. Sy vertel hulle daar is hoop. Partykeer neem dit maande maar dan sien sy op hulle gesig die verskil. Dat hulle weer begin glo in ’n toekoms.
Op die vraag of sy nie bang is Reni word aangeval nie, vertel Michele sy en Mari-Alena het gesien die eerste lugaanval het gebeur terwyl hulle nou op die vliegtuig na Suid-Afrika was. Dit maak haar egter nie bang nie, sy wil teruggaan as dit die Here se wil vir haar is. Sy huiwer nie, “die Here het my jare terug van vrees vrygemaak”.
- Michele Potgieter beplan om in Oktober 2023 na Reni terug te gaan. Volg haar op haar Facebookprofiel.
- Haar boek word uitgegee deur Lux Verbi. Dit kan ook bestel word by Bybel-Media se aanlynboekwinkel. Kliek HIER
