Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
NG Kerk PE-Heideveld
Ligdraers in die wêreld
Heideveld-gemeente is geleë aan die westelike kant van Gqeberha aanliggend aan die N2-hoofweg na Kaapstad. Na 40 jaar is ons ’n hegte familie met gevestigde waardes en ’n eie styl van bediening. Ons visie stempel ons gemeente en word daagliks uitgeleef deur nederige dade van diens aan mekaar en in ons gemeenskap. Ons besef dat ons van hieruit op die drumpel van ’n nuwe toekoms staan. Nuwe mense trek voortdurend in ons woonbuurtes in en groot sake-ontwikkelinge word in ons aanliggende omgewing voorsien. Daarom is ons oop vir innovasie, groei en vernuwing.
Ons droom van ʼn gemeente waarin …
- God en sy doel met ons die fokuspunt is.
- Ons mekaar met ons gawes dien.
- Alle generasies deel voel en mekaar verryk.
- Almal wat by ons deure instap tuis en welkom voel.
- Ons saam ’n verskil maak in ons gemeenskap ter wille van God en sy koninkryk.
- Ander vir Jesus in elkeen van ons en in ons gemeente kan sien.
- Ons aanhou om as ligdraers van Christus in die wêreld op te tree deur die Woord van die lewe uit te dra (Ef 2:15-16).
In die lig hiervan vertrou ons die Heilige Gees vir ʼn leraar wat …
- ’n Passievolle, kreatiewe en entoesiastiese kommunikeerder en prediker is.
- ’n Spanspeler is wat met ’n fasiliterende en bemagtigende styl van leierskap spanne bou en lidmate bemagtig sodat elkeen met sy/haar gawes deel is van Christus se bediening in ons gemeente en gemeenskap
- Saam met ons wil soek na hoe ons verskillende generasies in die hele lewe en bediening van ons gemeente met mekaar kan integreer
- Oop is daarvoor om saam met ons oor grense hande te vat met en uit te reik na ons breër gemeenskap
- Oop is vir verandering, kan waag, innoveer en eksperimenteer en geloofsonderskeidend saam met ons soek na God se nuwe en beloofde toekoms vir ons gemeente en ons gemeenskap.
VERGOEDING EN DIENSOOREENKOMS:
Die vergoeding, aard van die pos en diensooreenkoms word vasgestel deur onderhandeling in die lig van sinodale riglyne en toepaslike reglemente van die Kerkorde. Huisvesting in ’n pastorie is beskikbaar.
AANMELDING:
As jy ’n gelegitimeerde is van die NG Kerk en ons droom jou hart warmer laat klop, kan jy gerus jou CV vir ons aanstuur. Deel kortliks jou eie hart en vaardighede met ons en gee vir ons die name van drie referente om dit te ondersteun.
Sluitingsdatum: Vrydag,1 September 2023 om 12:00.
Diensaanvaarding: DV Januarie 2024.
Adres: heideveld@telkomsa.net
Navrae: Gert Cordier (brugleraar) 083 555 6426 of 041 776 1096.
Liésl Knipe (Admin beampte) 041 371 2435.
