“Vanoggend lui die kerkklok tot diep in my siel in. Miskien omdat dit vir die laaste keer na 77 jaar uitbasuin dat hier ’n gemeente is wat ’n hawe is vir elke moeë lewensreisiger.”
So begin ds Chris Olivier vertel van moontlik die laaste oggenddiens wat Sondag 6 Augustus gehou is by die Crosby Christengemeenskap se kerkgebou in Kilmorelaan-Oos in Johannesburg.
In ’n onlangse e-pos vertel Olivier vir Kerkbode dat hy en sy vrou, Martie die leraarspaar by hierdie gemeente was vanaf 1989 tot 1996. Hy is 34 jaar gelede in hierdie gemeente as leraar bevestig. Vars uit die universiteit en die weermag (sien onderaan 10 lewenslesse wat hy sê hulle hier geleer het)
Intussen het die gebied se demografie oor die jare verander. Hy vertel daar woon nou baie Indiërs en staan heelwat moskees.
Oor die jare het die gemeente se lidmaattal gekrimp tot so 25. Die kerkgebou gaan nou glo verkoop word. Hy hoop dit word aan ’n kerk verkoop.
Sondag se nagmaalsdiens is gelei deur nog ’n Olivier, die afgetrede ds Gert Olivier wat die afgelope 18 jaar deeltyds hier bedien het. Laasgenoemde is op 85 nou finaal afgetree.


Lees ook: Die Amalia-geval en die lot van krimpende gemeentes in die NG Kerk
Chris vertel soos hy Sondag die trappe na die diens afstap het hy onthou in Openbaring 3:8 staan God maak deure oop al is dit op ander plekke. Hy voeg by: “Maar vir nou is hierdie gemeenskap oneindig armer omdat die gemeente nie daar is nie”.
Hy sluit af met hierdie gebed: “Dankie Here dat U hierdie gemeente gebruik het om ons menswees te vorm”
Chris lys hierdie 10 lewenslesse wat hulle by die gemeente in Crosby se lidmate geleer het:
- Maak nie saak hoeveel grade jy het nie, as jy nie aan die Here verbind bly nie sal jy as leraar dit nie maak nie.
- Jou gesin is jou kosbaarste besitting. Geniet die tyd wat die kinders op plastiese scooters kerk toe ry, want binnekort ry hulle met hulle karre die wêreld vol.
- Die woordjie “mekaar” staan nie verniet in die Bybel nie. Wees daar vir mekaar.
- Pasop vir ’n klop op die skouer want hoogmoed is ’n leraar se grootste vyand.
- Maak tyd vir genoeg lag want daarin word jou optimisme oor wat God belowe ook verwoord.
- Vergewe maklik want jou eie foute is groter en meer as ander s’n.
- Onthou die woorde: “dit sal ook verbygaan”. Net God is ewig. Geniet elke oomblik.
- Kyk met ’n sagte oog na jou gemeenskap want daar is altyd iemand wat Jesus se hartklop wil hoor.
- Onthou die Kerk is nie geld nie maar mense wat deur Jesus verlos is en Hom volg.
- Benader elke sterfbed met eerbied want die laaste tree van gelowiges kan asemrowend wees.
- Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is. Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.
