Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Vakature: Voltydse medeleraar
Gemeenteprofiel
Reebok-gemeente is ’n snelgroeiende gemeente in die skilderagtige Tuinroete, tussen George en Mosselbaai in die Suid-Kaap, met 175 doop- en 1 423 belydende lidmate (13% tussen 19-45 jaar, 13% tussen 46-59 jaar, 64% is 60 jaar en ouer). Die meerderheid lidmate is afgetredenes, maar daar is aanduidings van ’n groeiende groep wat nog aktief in die arbeidsmark is. Ons streef daarna om ’n geestelike tuiste, op ’n gasvrye en vriendelike wyse, vir bestaande lidmate en nuwe intrekkers te bied. Die visie van ons gemeente is: “Elke lidmaat deel van die lewende liggaam van Christus”. Voortvloeiend hieruit is ons besig met ’n dissipelskapreis met die tema: “Op reis saam met Jesus”. ’n Groot aantal lidmate, in ongeveer 30 kleingroepe, is betrokke by dié dissipelskapreis.
Leraarsprofiel
Ons nooi jou om op jou unieke wyse ons te help om God se vreugde oor Reebok-gemeente te vermeerder. Die volgende profiel dien as riglyn vir voornemende aansoekers:
Hierdie persoon moet iemand wees wat duidelik in die voetspore van Jesus stap – wat lief is vir die Here Jesus en vir mense, wat daartoe in staat is om oud en jonk tuis, gemaklik en veilig te laat voel.
Hierdie persoon moet:
- erns maak met sy/haar familie, ons gemeente en gemeenskap;
- die normale verantwoordelikhede soos in Artikel 9 van die Kerkorde vervat, nakom;
- hom/haar vereenselwig met die teologiese uitgangspunte van die NG Kerk;
- verkieslik ten minste vyf jaar bedieningsondervinding hê;
- bereid wees om in spanverband heelhartig met die bestaande leraars, binne die ruimte van elkeen se unieke gawes, saam te werk;
- goed kommunikeer, die Woord op ’n kreatiewe en dinamiese wyse verkondig en aanpasbaar wees in ’n formele en informele erediensstyl;
- ’n besondere liefde vir die individuele, familie- en jeugbediening hê, asook ’n hoë waardering vir die bediening aan en saam met senior lidmate;
- die nuutste tegnologie en sosiale media omarm en kan gebruik;
- hom/haar volledig vereenselwig met die visie van die gemeente en bewese ervaring in kleingroepbediening hê en,
- met oortuiging kreatief, vernuwend en toekomsgerig dink en doen.
Belangrike datums
Sluitingsdatum vir aansoeke: 22 September 2023
Diensaanvaarding: 1 Maart 2024, of so gou moontlik daarna soos ooreengekom.
Vergoeding
Ons wil jou materieel versorg met ’n pakket wat aan die sinodale riglyne voldoen.
Aansoeke en navrae
Ons wil jou beter leer ken deur ’n volledige CV wat melding maak van besondere gawes, belangstellings en motivering waarom jy aansoek doen. Sluit ook die kontakbesonderhede van drie referente in. Stuur dit aan: Die Skriba by admin@ngkreebok.co.za
’n Aanlyn onderhoud sal met kandidate op die voorlopige kortlys gevoer word. Daar kan van kandidate wat die finale kortlys haal, verwag word om ’n psigometriese toets af te lê en ’n preekbeurt in die gemeente waar te neem.
Indien jy meer inligting verlang, kontak gerus vir Ben Brink by brinkbp@gmail.com (082 057 6100) of Chris de Wet (leraar) by tcdewet1@gmail.com (083 631 9383).
Aansoekers wat nie die finale kortlys haal nie, sal vóór of op 15 Oktober 2023 in kennis gestel word.
Die kerkraad behou die reg voor om geen aanstelling uit die aansoeke te maak nie.
