Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Die NG Gemeente Gamtoosvallei is geleë in die prentjiemooi plattelandse dorp Patensie in die Oos-Kaap. Dit is hoofsaaklik ’n sitrusproduserende gemeenskap en is 87 km vanaf Gqeberha en 45 km vanaf Jeffreysbaai geleë.
Patensie bied aan sy inwoners ’n rustige plattelandse plaasatmosfeer, ’n gemeenskap wat omgee vir mekaar, ’n onstuitbare geloof en wilskrag met aansteeklike entoesiasme. Die mense van Patensie vorm die kern van die dorp.
Menseverhoudings is belangrik en ons streef na onderlinge samewerking om die hartklop van die dorpe te versterk.
Ons nooi jou graag om die volgende leraar/diensleraar van hierdie gemeente te word.
- Ons wil jou nie net beperk tot die pligstaat van Kerkorde Artikel 9 nie. Ons nooi jou om op jou unieke wyse ons verder te help om God se vreugde oor sy gemeente te vermeerder.
- Ons is nie so geïnteresseerd in wat jy kan doen en wat jy ons kan laat doen nie. Ons is meer geïnteresseerd in wie jy is en wat jy ons kan help om te word.
- Ons wil hê ons leraar moet van binne na buite leef. Ons soek geloofwaardigheid. Ons soek nie ’n volmaakte mens nie, maar ’n eerlike en opregte mens wat ook, soos ons, broos en weerloos kan wees.
- Ons leraar moet bewus wees van persoonlike blinde kolle en onvermoëns. Ons leraar moet bereid wees om die bediening met ander te deel, sodat ons netwerke kan skep wat die gemeente en die gemeenskap kan help om ’n volronde bediening te bereik.
- Ons leraar mag nie bang wees om dapper, kreatief, vernuwend en toekomsgerig te dink en doen nie.
- Ons soek na iemand wat, eerstens, ’n dienaar van God en daarna ’n dienaar in die kerk is.
- Ons soek na iemand wat van sy/ haar familie, die plaaslike gemeente en gemeenskap sy/haar prioriteit sal maak.
- Ons leraar moet oor ’n goeie gereformeerde teologie beskik en moet dit entoesiasties en verstaanbaar kan vertaal vir die daaglikse uitdagings van ons lidmate.
- Ons leraar moet besondere moeite aan die dag lê met die geloofsgesprekke (eredienste,weeklikse byeenkomste en so meer) as ’n persoonlike en lewende getuienis wat vloei vanuit ’n eerstehandse ontmoeting met God en die Woord.
- Ons jeug en werkende jongmense vorm ’n groot deel van die gemeente en is vir ons ’n prioriteit.
- In ons omgewing is samewerking tussen beide NG gemeentes (Gamtoosvallei en Gamtoosvallei-Oos) vir ons belangrik en ons leraar gaan in ’n span saamwerk met die voltydse leraar van NG Gemeente Gamtoosvallei-Oos.
Help ons om jou te leer ken deur ’n kreatiewe CV van nie langer nie as drie bladsye te stuur na ngkgamtoos@lantic.net
Ons sal ook graag die name en kontakbesonderhede van drie referente ontvang.
Die sluitingsdatum vir die indiening van CV’s is 30 September 2023. Ons sal jou CV deeglik oorweeg en mag dan besluit om jou vir ’n onderhoud te nooi. Die datum vir diensaanvaarding sal met die geskikte kandidaat onderhandel word.
Vergoeding is onderhandelbaar, met sinodale skaal 3 as riglyn.
Doen navraag by Jansie Both 076 834 0760 of by Grewar Oosthuizen 071 607 6850.
Die gemeenteraad behou die reg voor om nie noodwendig ’n aanstelling te maak uit die aansoeke wat ontvang word nie.
