Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

‘En ná die vuur was daar ’n stilte’ – Medelye met alle slagoffers van die Usindiso-brand in Johannesburg

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.


Die NG Kerk spreek haar opregte medelye uit met beseerdes, families en vriende van slagoffers van die ontsettende tragedie wat in die vroeë oggendure van Donderdag 31 Augustus 2023 in die middestad van Johannesburg afgespeel het. Die verlies van 76 menselewens (sover bekend), waaronder 12 kinders, is hartverskeurend.
Die skrikwekkende beelde en feite waaroor die media berig, bevestig die ontsaglike trauma van vasgekeerdes in die Usindiso-inferno, die beproewing van nooddienswerkers en die skok waardeur die hele Johannesburg-gemeenskap nou gaan. Ons innige meegevoel en gebede is met almal wat as gevolg van dié ramp ly. In tye van uiterste nood soos hierdie, is dit die nabyheid, ondersteuning en bemoediging van medemense waarin ons die troos van God beleef.

‘Ernstige wekroep’
Hierdie gebeure – soos ander insidente die afgelope maande in Johannesburg en elders in ons land – is ’n ernstige wekroep vir ons almal in alle samelewingsverbande. In plaas daarvan om te blameer, is deeglike besinning nodig oor hoe regerings- en ander instansies sulke rampe kan voorkom. Daar is ’n ernstige behuisingskrisis in ons land; dienslewering is totaal ontoereikend; bronne word nie in belang van almal beskerm en bestuur nie; misdadige elemente neem hele buurte oor; en wet en orde en volhoubare gemeenskapsontwikkeling word geminag. Die Usindiso-tragedie behoort ons almal aan te spoor om hand in eie boesem te steek en saam te werk vir ’n veilige en versorgende gemeenskap. Dit is onaanvaarbaar dat mense só hul lewe verloor, soveel te meer die weerloses, kinders, randfigure en vreemdelinge, veral as dit voorkom kon word deur verantwoordelike bestuur en effektiewe leierskap.

MES bied hulp aan vele
As NG Kerk voeg ons ons ondersteuning graag by dié van ’n netwerk van kerke, insluitende die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, wat vanaf Donderdag daadwerklike hulp begin verleen het. Uit verskillende van ons sinodes is reeds bydraes tot noodleniging gestuur. Die MES-aksie in Johannesburg assesseer tans meer as 500 slagoffers met die oog op verdere ondersteuning. Ons moedig kerke en individue aan om MES te ondersteun – kontak hul by engage@mes.org.za.

‘En ná die vuur was daar ’n stilte’
Ons bid dat daar in die stilte ná hierdie vuur – terwyl stukkende mense tot verhaal probeer kom – die sagte teenwoordigheid van God beleef sal word (1 Konings 18:12).


Hierdie persverklaring is uitgereik deur die Dagbestuur van die NG Kerk (Algemene Sinode).


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.