Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Elders gesien: Nuwe boek bied ’n ‘reis deur tyd en ruimte op soek na geloof, hoop en liefde’

Aardewurm, Tydboom en die Springmat is spesiaal vir kinders van 9-12 jaar oud geskryf met die doel om spontane gesprekke oor geloof los te maak. Diep geloofsvrae, waarmee jonk en oud worstel, word op ’n verstaanbare, opwindende en humoristiese manier aangepak. 

Aardewurm, Tydboom en die Springmat – ’n Reis deur tyd en ruimte op soek na geloof, hoop en liefde. Deur Siegfried Louw, Tinus van Zyl en Marileen Steyn. 60 bladsye, A5, Kategorie: Kinders 9-12 jaar oud. Verkoopprys: R70

 

Die boek is geïnspireer deur Andries Cilliers se boek Onder die blaredak: Verwonderd oor die gawe om te kan glo. Lesers wat wonder of geloof ooit sin maak, of wat hulle wil verwonder oor die lewe en liefde wat ons deur geloof ontdek, of wat dieper wil dink oor hulle geloof, kan gerus ook hierdie boek lees. Só kan verskillende generasies saam verwonderd staan oor God en geloof.

KOOP DIE BOEK MAKLIK AANLYN: HIER

Die uitgewer, Bybel-Media, vertel meer: “Fia is ’n intelligente, nuuskierige meisie op soek na sekerheid in ’n onseker wêreld. Johan is ’n avontuurlustige seun op soek na sy plek en doel in die lewe. Hulle ontmoet vir Aardewurm, ’n oranje wurm met pienk oë wat kan praat en met sy Tydboom deur tyd en ruimte kan reis. Aardewurm het ook ’n Springmat, maar hy het sy Springmat se vere (springs) verloor omdat hy baie bekommerd begin raak het oor die toekoms. Saam gaan hierdie drie avontuursoekers op reis deur die verhale van die Bybel, op soek na Springmat se sewe vere … én na geloof, hoop en liefde.”            

Wat bied die boek?

  • Aardewurm, Tydboom en die Springmat moedig kinders aan om hulle verbeelding te gebruik. Ons verbeelding help ons om oor God en ons geloof te dink.
  • Hierdie boek verduidelik vir kinders van 9-12 hoekom en hoe ons glo. Dit help hulle om verbaas en verwonderd oor God te wees.
  • Dit nooi ook die volwassenes saam om hulle oop te stel vir die misterie van die God van wie ons in die Bybel leer.

Hoe gebruik ek die boek?

Jy kan hierdie boek op verskeie maniere gebruik. Hier is ’n paar voorstelle:

  • Kinders kan die storie van Johan, Fia en Aardewurm self lees om te ontdek hoe en hoekom ons in God glo.
  • Ouers kan die stories vir of saam met hulle kinders lees. Die gesin kan dan saam oor die vrae gesels en die aktiwiteite saam doen. Dit sal die kinders op hulle geloofsreis help as hulle ouers saamgesels oor die vrae.
  • Die stories kan voorgelees word vir kategesegroepe of by ander kinderbyeenkomste. Die kinders kan dan in kleingroepe saamgesels oor die vrae wat by elke hoofstuk gegee word en die aktiwiteite saam doen.
  • Elke hoofstuk van Johan, Fia en Aardewurm se storie het ’n Bybelverhaal wat daarmee saamgaan. Die spesifieke Bybelverhaal kan as vertrekpunt gebruik word. Die stories is dan aanvullend tot die Bybelverhale en help die kinders om verder oor die Bybelverhale te dink.

 

Meer oor die skrywers

Siegfried Louw is predikant, spelterapeut en ‘n begeleier van ander predikante. Hy hou van kreatiwiteit in kinderbediening en sy twee kinders is sy eerlikste kritici.

Tinus van Zyl is ’n dominee en die pa van twee dogters. Tinus het al ’n ander kinderboek geskryf, Die avonture van Maria en Braam.

Marileen Steyn weet nie elke dag heeltemal wat sy doen nie. Sy weet ook nie elke dag heeltemal hoe om te glo nie. Maar sy hou aan soek. Soms alleen, soms saam met ander mense en soms saam met ’n Aardewurm.


  • Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is.
  • Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za. 

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top