Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die 18de gewone vergadering van die Algemene Sinode vind eersdaags in Boksburg plaas. Wanneer ’n mens deur die annale van die Algemene Sinode blaai, is daar by verskeie geleenthede belangrike besluite geneem. Voorbeelde hiervan was om die vrou tot die amp en kinders aan die nagmaalstafel toe te laat. Daar was egter ook besluite wat die kerk in beroering gebring het.
Die eerste keer wat besluite groot beroering in die kerk veroorsaak het, was in 1986 toe Kerk en samelewing aanvaar is. Daarmee het die sinode besluit dat die NG Kerk se lidmaatskap en eredienste oop is vir mense van alle rasse, gemengde huwelike nie meer uit die Bybel afgewys kon word nie en die kerk se aandeel in die regverdiging van apartheid is erken. Reaksie op hierdie besluite was fel. Protesvergaderings deur beswaardes het gevolg en in Junie 1987 is die AP Kerk gestig nadat duisende lidmate die NG Kerk vaarwel toegeroep het. Die skade wat hierdie gebeure aan gemeentes, gesinne en vriendekringe berokken het, is nog nooit verreken nie. Families is verdeel, gesinne uitmekaargeskeur en jarelange vriendskappe beëindig. In die woorde van prof Johan Heyns, moderator van die 1986-sinode: “Dit was van die donkerste dae in die geskiedenis van die NG Kerk”.
LEES OOK: Só deel jy jou storie van #loopvirhoop op Erfenisnaweek
Die tweede besluit deur die Algemene Sinode wat groot onmin veroorsaak het is die besluit van 2015 oor selfdegeslagverbintenisse. Grootskaalse ontevredenheid en appélle teen die besluit het gelei tot ’n buitengewone sitting van die Algemene Sinode in 2016 en ’n hofsaak teen die NG Kerk in 2018. Tydens die sitting van die Algemene Sinode van 2019 is die besluit van 2015 herroep en met ’n nuwe besluit vervang. Hierdie besluit het daartoe gelei dat daar in verskeie streeksinodes stemme opgegaan het vir uittrede uit algemene sinodale verband. Meer as 80 gemeentes van die kerk het besluit om te doleer en die Koinonia Sinode het in 2023 tot stand gekom. Alhoewel die NG Kerk kerkregtelik geen locus standi aan hierdie sinode verleen nie, is hierdie gebeure ’n aanduiding van grootskaalse weerstand teen dié besluit in die NG Kerk.
LEES OOK: #AlgemeneSinode2023: Só lyk die agenda vir saamkoms van 15-20 Oktober
Wat wag tydens die komende vergadering van die Algemene Sinode? Indien daar nie met groot liefde en verdraagsaamheid na mekaar geluister gaan word en na alle kante vir mekaar ruimte gemaak gaan word nie, is die skrif aan die muur – ’n skrif wat lidmate van die kerk en gemeentes in die tyd waarin ons leef allermins kan bekostig.
Laat ons daarom bid dat die Here die vergadering deur sy Woord en Gees so sal lei dat die huidige storms tot bedaring sal kom en dat geen nuwe storms ontketen sal word nie.
- Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.
Amen.
Ek kan net waardering uitspreek vir veral die laaste sin. Kom ons bid saam daarvoor.
Prof Johan beweer ongelukkig dat die besluite oor selfdegeslagverhoudinge gelei het tot groot onenigheid, die dolering van verskeie gemeentes en die totstandkoming van die Koinonia sinode. As dit korrek is, waarom was daar geen verslag oor SGV voor die Koinonia Sinode nie? Die kern van al die verslae voor die KS was die Algemense Sinode se stelselmatige wegbeweeg van die Bybel as Woord van God, soos ons Belydenis leer.
Die basis van die Gereformeerde Kerkreg is die belydenis dat Jesus Christus die enigste hoof van die Kerk is, en Hy die kerk deur middel van sy Woord regeer. Die wegbeweeg van die Woord, soos verskeie verslae voor die KS angedui het, is dus die hart van die huidige tweespalt in cdie kerk.
Ek bid saam die AS dit sal aanspreek – al dui die agenda op die teendeel.
Ek stem saam dat ons moet bid vir die sinode. Ons moet bid dat die Here vir ons die moed sal gee om gehoorsaam te wees aan Hom en op te hou om teen Sy bepalings te rebelleer. Dit is waarin ons eenheid is, nie in of ons as mense saam stem nie, maar of ons in ooreenstemming is met God.
Ek deel Johan van der Merwe se versugting, maar gegewe die agenda vir die vergadering stuur Algemene Sinode 2023 nog op ‘n verdere ramp af. Dr Chris van Wyk sou aanvanklik die vergadering open en lei, maar met die toepassing van ‘n verdere verbuiging van die kerk se eie reëls gaan prof Nelis Niemandt dit nou doen. Dan gaan die uittredende ASM se dagbestuur nou seker maak dat hulle beheer oor die vergadering behou en op die verdelende weg volhard deur die Kerkorde sodanig te verander dat die nuwe moderatuur eers aan die einde van die vergadering gekies word. Dit is juis die huidige moderator en sy geesgenote wat die verdeeldheid aangebring het en deel van die probleme geword het.
Alle kerke en gelowe gaan deur proses van groei en verandering. As n kerk as liggaam van Christus nie lewe nie, sal dit sterf. Deur die hele Christelike tradisie was dit nog so. die Rooms Katolieke Kerk het bv deur so n proses lewe gegaan in die 1960-tigers waar omvattende aanpassings gemaak is. Die ondersteuning van die (wit) Protestantse kerke vir die politieke beleid van apartheid, was n ernstige Christelike dwaling waarvan ons steeds die wrange vrugte pluk. Die regstelling terug na die Groot en Ewige gebod van liefde vir God en naaste land, verloop pynlik. Jesus se lewe en strewe en opstanding was gewy aan die insluiting van alle mense in God se liefde vir Sy hele skepping, en al Sy skepsels. Ek bid ook dat die NGK sitting n geleentheid sal wees wat in die teken staan van die Drie-Enige godheid van liefde, wat sigbaar word waar die vrugte van Sy Gees teenwoordig is. (lees Galasië 5:14- 26)
solank beroering beweging bewerkstellig is dit sekerlk nie ‘n slegte ding nie
Elkeen beleef en lees die geskiedenis op sy eie manier. Prof. Johan van der Merwe sê die eerste keer dat ‘n algemene sinode groot beroering veroorsaak het, was in 1986. Daarop wil ek beleefd vra: regtig?
Ek het 1982 se algemene sinode in Pretoria bygewoon (as lid van die Kerkbode se redaksie) waar vasgeskop is teen ingrypende besluite teen apartheid (deur ons susterkerk die NGSK, nou VGK, asook die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke). Die NG Kerk is as ketter bestempel!
Dit alles is voorafgegaan deur 123 kerklui se ope brief (wat nie op die sinode behandel is nie), die publikasie van die boek Storm-kompas en ‘n groot stuk onvergenoegdheid by talle lidmate oor die NG Kerk se vasklou aan apartheid.
Die aanloop en sinode self het groot persdekking geniet. Die media wou almal weet of die NG Kerk uiteindelik gaan beweeg. In daardie jaar het bykans 700 berigte, artikels en briewe in die dagblad Beeld oor kerklike sake verskyn. Dit was ‘n omvangryke openbare debat, wat natuurlik ook in die Kerkbode gevoer is.
Van hierdie Beeld-items het meer as die helfte (367) spesifiek oor die NG Kerk gegaan en 70% oor die NG Kerk en rassekwessies. Meer as 38% van die berigte, briewe en artikels oor die NG Kerk en sy standpunte was krities, terwyl 17% positief was. Dit was dus nie ‘n eensydige debat nie, maar die oorwig menings het krities teenoor die kerk se standpunte gestaan.
Ten spyte van dié sterk golf van kritiek het die algemene sinode onverstoord vasgehou aan sy ou standpunte en eerder die kerk gesien as teiken van die “totale aanslag” wat destyds deur die regering geïdentifiseer is. Kortom, die sinode het hom by die regering van die dag geskaar.
Was dit dus ‘n sinode sonder opspraak of beroering? Kwalik, maar ek gee toe dat geen opspraakwekkende besluite geneem is nie; wel is hulle juis nie geneem is nie. (Vroue is wel in die amp van diaken toegelaat!)
Prof. Johan is daarom in seker sin reg, hoewel ek nie die kerkgeskiedenis van die res van die 20e eeu en vroeër goed genoeg ken om te weet of daar regtig nooit beroeringe voor 1986 (of 1982) was nie.
Wel gee ek ook graag toe dat die belangrike deurbrake rakende apartheid eers in 1986 gekom het. Maar hou in gedagte dat die Wes-Kaapse sinode van 1983 nogal sterk besluite geneem het en daardeur die pad na die 1986-sinode voorberei het.
Naskrif: Die aangehaalde syfers kom uit my meestersverhandeling oor die kerk in Beeld in 1982. Die interpretasies is my eie en dus debateerbaar.