Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Elders gesien: ‘NG Kerk moet land help skryf aan ’n nuwe storie’ – Rudi Swanepoel

Hierdie Forumbydrae is geskryf en regstreeks deur 'n Kerkbode-blogger opgelaai.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Rudi Swanepoel skryf onlangs op sy facebookblad dat hy meen die NG Kerk “die hele land móét help skryf aan ’n nuwe storie deurtrek van hoop en op die rouste manier eerlik (want die waarheid maak vry)”. 

Hy verduidelik die hoekom só: “Want dis ons (NG Kerk) wat help skryf het aan ’n storie van verdeling en meerderwaardigheid en uitsluiting; van een soort lyf en kop en hart en taal. Daarom is dit óns wat moet saamskryf aan ’n storie van genesing en herstel. 

’n Hele land s’n.”

Kerkbode deel sy volledige skrywe met sy toestemming. Dit is ook op Netwerk24 gepubliseer.

Johannesburg – my Johannesburg, in die ou noordelike voorstede digby die middestad, maar ver genoeg om afgeskerm te wees van diep haglike armoede en brandende geboue, met sporadiese besoeke aan Braamfontein waar van my kinders skoolgaan – is vanoggend groen en op haar eie manier gevaarlik aantreklik.

My kar se radio praat vandag (weer) oor plaasmoorde, fase 6 en ander politiek. Kospryse styg. Die petrolprys gaan binnekort rekordhoogtes bereik. Hoe oorleef ons?

Genadiglik het ek veilig tot hier gery, want beurtkrag en moerse gate, hier en daar darem ’n duik of ’n opgrawing wat reggemaak is. Soort van.

Waar in Suid-Afrika is die lewe tans maklik, ons pad gladder, ons lywe veiliger? In die Wes-Kaap, dalk? Maar ook net ten dele, want die Vlakte en tik.

Dis ingewikkeld.

Oor ’n paar weke gaan sowat 400 verkose lidmate van die NG Kerk aan die oostekant van Johannesburg vergader. Dis ’n algemene sinode.

Onthou jy – dis daai kerk wat aan die een kant kwyn en aan die ander kant nie gans en al wil verdwyn nie. Hy/sy/hulle lewe nog, pak nog projekte aan en praat per geleentheid vernuftig gekose woorde.

Soms bly ons stil.

______________

Die ander dag kuier ek ’n meningsvormer (in die Afrikaanse media) raak. Beide van ons het ’n redelike belangstelling in geskiedenis. Die gesprek draai by hoe lande en volke – indien hulle dit enigsins doen en moontlik regkry – omgaan met kollektiewe trauma: daai gebeure wat stories en temas en uiteindelik wonings word.

Ons praat oor Noord-Ierland en Duitsland, hoe daar oënskynlik heling bewerk is. Ek noem die talle holocaust herinneringstekens (monumente, museums, uitstallings) in bv. Berlyn.

Ons gesels bereik ’n piek, ek wil weet WIE dit gedoen het: was dit die politici? Kunstenaars? Watter instellings, tog?

My gespreksgenoot vra wie dit in Suid-Afrika sou kon of moes of wou doen. Sy sê FW is destyds bietjie vinnig uit die prentjie uit, dat iemand soos hy (in teorie, ten minste) sou kon voorloop om die land te help ná ’94.

Madiba en die (destydse) ANC se reënboogverhaal was net nie genoeg nie.

Die klimaks van ons gesprek is dit: wie gaan die verhaal weer hervat, hierdie land se storie, die skryf van ’n beter en mooier storie, die hoopvolle storie van die mensdom en ons kompleksiteit en ons selfsug en ons hoogmoed en ons gierigheid en haat en diensbaarheid en omgee en durf en verdraagsaamheid en geduld en vermoë om te vergewe en liefde bo haat te kies.

Wie gaan?

Wie?

Die politici gaan nie, want al is dit voor-die-hand-liggend dat dit (soos die ANC van 1994) dié lewegewende narratief kan wees wat MILJOENE stemme kan bring), is die wantroue tans net te oorweldigend. En boonop nie net in Suid-Afrika nie.

Wie dan?

Sy sê dit moet die NG Kerk wees.

Want ons het ’n storie. Ons het ’n storie soos baie in die Bybel. Ons is geskep, ’n roeping en opdrag gehad, groot en sterk geword, die Goeie Nuus verkeerd verstaan, blind en hoogmoedig geword. Ons het onsself al verootmoedig, maar ons sukkel om in ’n verootmoedigde staat te léwe en bietjie langer te bly.

Ons wil nou eerder die huidige regering met die splinters in hulle oë help.

Maar dis nie wat ons nou moet doen nie.

Die 84% mans wat einde Oktober gaan vergader moet dalk ook twee keer dink of ons oor vroue se keuses oor hulle liggame moet praat en of ons baie tyd moet spandeer aan die beskerming van ons eie belange of wat ’n klein groep normale mense in hulle slaapkamers doen (of nie doen nie).

Kan ons nie weer die stories vertel en koester nie?

Die stories van ons almal se gebrokenheid en sonde, van erkenning en verootmoediging en keer- en draaipunte, van vergifnis en versoening en geregtigheid en uiteindelik dankbaarheid en diensbaarheid en hoop.

Want dis ook die storie van onse land. Dis nie ’n aparte storie nie, daarvoor is daar te veel raakpunte en ooreenkomste.

Die kerk kan nie die kragkrisis oplos of ’n nuwe openbare beskermer aanstel nie. Sommige gemeentes maak wel slaggate reg en hier en daar is ’n erg verdwaalde kerkganger wat noem dat ons dalk ook moet praat oor kunsmatige intelligensie en ‘singularity’ – daai naderende keerpunt in die (wordende) geskiedenis wanneer masjiene outonoom gaan begin optree.

Daar het ook onlangs ’n stem van ’n gestremde broer op Facebook opgegaan wat pylreguit vra hoekom die verteenwoordiging op leierskapsvlak deur mense soos hy so skraps is.

Die punt is dit: die kerk kan nederig help skryf aan ’n nuwe storie. Ons kan nie net nie, ons móét.

Dit móét ’n goeie nuus storie wees, dit móét deurtrek wees van hoop, dit móét op die rouste manier eerlik wees (want die waarheid maak vry).

Hoekom die NG Kerk?

Want dis ons wat help skryf het aan ’n storie van verdeling en meerderwaardigheid en uitsluiting; van een soort lyf en kop en hart en taal.

Daarom is dit óns wat moet saamskryf aan ’n storie van genesing en herstel.

’n Hele land s’n.

Al beteken dit ons moet ’n monument (of altaar) of twee oprig. 

  • Ds Rudi Swanepoel is leraar van NG Andrew Murray in Johannesburg.
  • Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is. Bron: Facebook
  • Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top