Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die Slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinodesitting.

Slypskool 2023: Blootstelling aan nood swaai gemeente se bediening

Die NG Kerk Parow-Welgelegen is al vir 23 jaar betrokke by ’n sentrum vir dwelmverslaafdes in ’n naburige armer gemeenskap. Alwyn Carstens vertel hoe wat as uitreike begin het gelei het tot ’n integrale deel van die gemeente se bediening oor geloofs- en kultuurgrense heen.

In ’n tyd van ekonomiese en politieke onstuimigheid is die versoeking (en werklikheid) vir baie NG kerke om ter wille van oorlewing op selfinstandhouding te fokus. So ’n ingekeerdheid veroorsaak dat diensbaarheid na buite afgeskeep word.

Die Taakspan Navorsing van die Algemene Sinode herinner in 2023 die kerk aan haar roeping soos volg: “Ons is geroep om ’n netwerk van inklusiewe gemeentes te vorm, wat op voetsoolvlak, vanuit God se liefde, diensbaar in ons gemeenskappe is.”

Lees ook: Slypskool 2023: Geloof, gemeenskappe en geloofsgemeenskappe

Gedurende 2000 het studente van die destydse Northlink Kollege, wat deur die NG Kerk Parow-Welgelegen bedien is, na die Tehillah-sentrum uitgereik. Die Tehillah-sentrum fokus op verslaafde en verwaarloosde inwoners in Elsiesrivier.

Die aanvanklike uitreike het behels om die sentrum se geboue oor te verf wat met graffiti bedek was.

Na hierdie eerste paar sessies is daar verslag aan die gemeente gedoen. Hierdie inligting het daartoe bygedra dat van die ander gemeentebedienings uitreike na die sentrum onderneem het. Die uitreike vind na 23 jaar steeds plaas.

Die junior jeugbediening het uitgereik deur eenvoudig net met die junior jeug by Tehillah te gaan speel. Die gevolg van hierdie uitreike was dat die gemeenteraad Tehillah gaan besoek het.

Hierdie blootstelling het daartoe gelei dat uitreike na Tehillah meer gekoördineerd geraak het:

  • ’n Jaarlikse begroting, wat onder andere kos- en sopprodukte insluit, is opgestel.
  • ’n Klerepojek is begin.
  • Lidmate dra finansieel tot die projek by en hierdie gelde en ander deur die gemeente begroot, word direk aan Tehillah oorbetaal.
  • Tehillah stuur tweeweekliks ’n bussie om produkte wat deur lidmate (wat gereeld daaraan herinner word) geskenk is, te kom haal.
  • Jaarliks word gedurende die Kersseisoen ’n verskeidenheid produkte ingesamel en gedurende Januarie (wanneer skenkings van ander instansies skaars is) aan Tehillah oorgedra.

Dit was gedurende die Covid-19-tydperk dat die gemeente in die besonder na Tehillah uitgereik het. Lidmate het baie meer as voor die pandemie op ’n weeklikse basis kos, klere, komberse en kontant geskenk.

Lees ook: Slypskool 2023: Sterwende Oos-Kaapse stadsgemeente vind nuwe lewe

Die bediening aan Tehilla is ook nie eensydig van aard nie. Suster Magda Kleyn van die sentrum en haar span het die gemeente ook al waardevolle inligting in verband met hulpbehoewendes gegee. Hulle het ook gehelp met die opname van straatmense wat onder die gemeente se aandag gekom het.

Sy kommunikeer nou op ’n gereelde basis met die gemeente. Hierdie kommunikasie vind gedurende die eredienste of via video in die eredienste plaas.

Die bediening aan Tehillah is reeds 23 jaar oud en vorm ’n integrale deel van die gemeente se bediening oor geloofs- en kultuurgrense heen.

Tans beplan die gemeente (veral die senior jeug) hoe om verder prakties na hierdie besondere gemeenskap uit te reik.

  • Ds Alwyn Carstens is al 24 jaar predikant by NG Kerk Parow-Welgelegen.
  • Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinodesitting.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top