Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Foto: Robert Cable

Stemme by die sinode: ‘In ons lyf is daar iets wat ons keer om net weg te loop van mekaar’

Frederick Marais skryf*: Ek sit aan ’n tafel die week van die Algemene Sinode (15-20 Oktober) met mense uit die Noord-Kaap – my grootwordwêreld. Hulle ken my broer wat ook tussen hulle boer, vind ek uit. Dan is daar stemme uit die Wes-Rand se mynwêreld, uit Gauteng en les bes uit Bloemfontein. Ek self kom uit die Wes-Kaap waar ons bid dat die somer tog nou maar moet kom. Ons voel-voel mekaar Sondag, maar soos die week aanskuif onder ons, word die voel-voel dieper. Ons deel verhale en ervarings met mekaar wat ons nie aldag by die huis deel nie. Eintlik behoort ons mekaar se opponente te wees, vertel die verhaal van die kerkstryd waarin ons is. Maar dit gebeur nie, ons word erg oor mekaar, ons kyk mekaar in die oë, hou hande vas as ons bid en sommer so tussendeur. Ons luister diep, en al dieper, sluk kort-kort emosie weg, want daar word diep gedeel – onverwags diep. Dit ontmasker my eie vooroordele. Vrydag deel ons telefoonnommers en beloof om by mekaar te kom kuier as ons op Kanoneiland of Olifantshoek of Stellenbosch of Krugersdorp of in Bloemfontein kom.

Ons begin mekaar dra met gebede

Op die vliegtuig dink ek oor wat daar tussen ons gebeur het en ek dink aan Paulus wat sê dat geloof ’n soort rasionaliteit is wat alle verstand te bowe gaan (Fil 4:7) My kollega Chris Hermans uit Nederland praat van “weak rationality”, ’n rasionaliteit wat ons “redelikheid” te bowe gaan en ons “hart bewaar”. Ons praat aan die tafel oor die goed wat mense diep verdeel, maar ons word bewaar daarvan dat dit ons verdeel, ons aanvaar mekaar se bona fides onvoorwaardelik en luister met empatie na elkeen se uitdagings. Ons begin mekaar dra met gebede en gesprekke wat ons nie geweet het in ons is nie.

LEES OOK: Streeksinode se gestoei met insluit van Belhar-belydenis lê ‘400 jaar foutlyn’ bloot

Om ons dreun dit voort in die saal soos mense oor die mikrofoon uitprake maak en onheil voorspel. Dit is asof die tafel ons daarvan beskerm, binne in die sinode is daar hierdie ronde tafel waar ons elke oggend die kers aansteek, om ons te herinner aan die teenwoordigheid van die lewende Christus. Ons ontvang Eksodus 33 en die pelgrimspsalms soos skatte wat nie vernietig kan word deur die onstuimigheid van die gesprekke nie. Dit word ’n heilige ritme van stil word, tot rus kom, oopmaak, luister en weer luister.

LEES OOK: Amptelike besluite 2023

En dan kom Vrydag en ons moet groet. Dit was ’n soort pelgrimstog van vyf dae, maar dit voel soos ’n leeftyd wat ons saam op weg is. Ons hoef nie veel te sê nie, ons hou hande vas as ons bid, sing vir oulaas saam, gee mekaar drukkies. Dit is asof daar onverwags ’n kollektiewe bewussyn in die saal kom wat ons verstand te bowe gaan. Ons ervaar hoe mense, ook in die saal, buig na mekaar in ’n stille toewyding dat ons mekaar nie gaan los nie. Harde woorde het geval, ons het ons kop gebreek oor moeilike komplekse sake waaroor ons nog nie genoeg diep gedink het nie, ons het ons kop in ongeloof geskud oor wat mense alles kan kwytraak, en tog in ons lyf is daar iets wat ons keer om net weg te loop van mekaar.

LEES OOK: Algemene Sinode: NG Kerk se ‘ruim huis’ bly staan

Soos wat ek huis toe ry wonder ek hoe ek dit vir my mense gaan verduidelik wat nie die ervaring gedeel het nie, en hulle net moet verlaat op koerantberigte en notules? Dalk maar net dat die Gees op ’n onverklaarbare manier liefde in ons hart uitstort, wat ook Facebook se algoritmes te bowe gaan. Of ons dit gaan regkry om dit by die huis te verduidelik, sal net die tyd ons leer. Maar nou gaan ek eers rus met die ervarings van ’n tafel in ’n storm waar ek tuis kon kom. Dalk moet ek meer saam met mense om ’n tafel gaan sit in die komende maande en brood neem, seën, breek en deel, sodat ons oë kan oopgaan vir mekaar.

Dr Frederick Marais is ’n predikant in sinodale diens in die Wes-Kaap.

* Die berig is deel van ’n reeks getuienisse uit die sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

4 thoughts on “Stemme by die sinode: ‘In ons lyf is daar iets wat ons keer om net weg te loop van mekaar’”

  1. Francois Malan

    Ek is so dankbaar vir daai tafel gesprekke en die rustigheid waar binne ons mekaar kon help vorm verstaan vir dinge waaroor die res van SA en ook die wereld nog lank gaan herkou.
    Mag daar tafels by huise en kerke wees waar wysheid so sal neerdaal soos by hierdie sinode sitting…

    1. Drienie Lombard

      Hier voor de rekenaar word ek ingesluit by die ronde tafel, ontmasker, buigend voor die Almagtige Teenwoordigheid en beleef ek saam met Dr Frederick Marais en die ander tafelgenote die heilige ritme van stil word, tot rus kom, oopmaak, luister en weer luister . Baie dankie dat ons tuis met die beriggewing ook ingelig kon bly en deel wees.

  2. Tinus van Zyl Snr
    Dankie vir elkeen wat net nie n rede kan vind om my broer en suster maar te laat gaan nie. Ons hoort bymekaar omdat ons nie aan onsself behoort nie. Ons is die Koning sinne. Nkosi sikelele IAfrika

Comments are closed.

Scroll to Top