Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

’n Beskrywingspunt oor die Belydenis van Belhar het gedien op die laaste dag van die 2023 Algemene Sinode. Foto: Robert Cable

Streeksinode se gestoei met insluit van Belhar-belydenis lê ‘400 jaar foutlyn’ bloot


Dit behoort vir ’n gereformeerde kerk altyd moontlik te wees om sy belydenisgrondslag uit te brei. As dit egter nie gebeur nie, moet mens dringend vra – waarom? Die onvermoë van ’n NG Kerk streeksinode om die Belydenis van Belhar as ’n vierde belydenisskrif te aanvaar ontbloot die kerkregtelike onuitvoerbaarheid daarvan.

Dié stand van sake is onder die aandag gebring van die Algemene Sinode deur ds Charl Stander in opdrag van die Wes-Kaapse streeksinode tydens die laaste oggend van hierdie weeklange kerkvergadering.

Lees ook: Algemene Sinode: NG Kerk se ‘ruim huis’ bly staan

Geborg

Dit kom na hierdie streeksinode in die afgelope agt jaar weens die onuitvoerbaarheid van die kerkordelike prosedure nie hulle bestaande belydenisgrondslag kon verruim met hierdie belydenisskrif van die VGK nie.

Die Wes-Kaaplandse aktuarius moes hou by ’n tydsbeperking van net 10 minute weens ’n oorvol agenda vir die laaste dag. In die tyd tot sy beskikking het hy kortliks die vergadering toegelig hoe die huidige kerkordelike voorwaardes die uitbreiding van die NG Kerk se bestaande belydenisgrondslag belemmer.

Die Algemene Sinode van 2015 het toestemming verleen dat die Belydenis van Belhar aanvaar kan word, verduidelik Stander. Hiervoor is ’n kerkordelike “meganisme” geskep met bepaalde voorwaardes wat insluit dat streeksinodes minstens ’n tweederde meerderheid stem moes kry en dat eweneens meer as 66% van die streek se kerkrade die aanvaarding van die belydenis moes goedkeur.

Lees meer: Belhar bly die lakmoestoets vir eenheid

Sedertdien het die Wes-Kaapse kerkgroep ontdek (gerugsteun deur ’n regsmening) dat hierdie meganisme meer rem as vloei. Lees meer daaroor HIER.

Stander het bygevoeg dat dit slegs in die NG Kerk is waar ’n tweederdemeerderheid in die stemprosesse vereis word terwyl slegs ’n meerderheidstem in die res van die gereformeerde wêreld genoeg was om hierdie belydenisskrif by kerke te aanvaar.

Dié stand van sake maak dit vir die kerk prakties onmoontlik om soos sy voorgangers (met verwysing na die Sinode van Dordrecht wat in 1618-1619 die Drie Formuliere van Eenheid aanvaar het) belydenisskrifte te skryf en te aanvaar.

Geborg

’n Posisie wat nie gelate aanvaar behoort te word nie, meen Stander, want by implikasie beteken dit die NG Kerk het “de facto opgehou om ’n reformerende kerk te wees. Ons maak dit vir onsself onmoontlik”. Hy het bygevoeg die gevolglike “geheueverlies en verbeeldingsarmoede maak dit vir ons onmoontlik om ’n belydeniskerk te wees”.

  • Die AS het kennis geneem van Sinode Wes-Kaapland se beskrywingspunt en het dit verwys na die Algemene Taakspan Regte vir indringende ondersoek.
  • Die Algemene Sinode het reeds bevind dat die Belydenis van Belhar nie in stryd is met die Skrif en die formuliere van Eenheid nie.
  • Die Belydenis van Belhar het in September 1982 as konsepbelydenis beslag gekry tydens die sinode van die NG Sendingkerk. By die sinode van 1986 is dié belydenis as volwaardige belydenisskrif van die NGSK aanvaar en later ook van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA), volgens eCKE.

* Artikel is aangepas na publikasie.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.