Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tydens die, by tye, heftige bespreking van ’n vorderingsverslag rondom die bou van intergodsdienstige verhoudinge was ook ondermeer gehoor dat leiding waardeer sal word oor hoe om as gelowiges op te tree by intergodsdienstige geleenthede. Foto: Kerkbode

AS 2023: Gespreksgids kom as hulpmiddel vir intergodsdienstige gesprekke

“As jy my ’n paar jaar gelede gevra het of ek ooit gedink het ek sal die tafelgebed by ’n Ramadaanete doen, sou ek gesê het ‘nee nooit’ maar dit is presies wat vroeër vanjaar gebeur het deur die toedoen van my 7-jarige seuntjie.”

So vertel ds Henning Rademeyer van Randfontein-Noord by navraag vir Kerkbode tydens die onlangse Algemene Sinodesitting in Boksburg. Ons gesprek spruit voort uit ’n opmerking wat hy ’n paar dae tevore gemaak het tydens die bespreking van ’n verslag wat pleit vir die bou van verhoudings met medeburgers van ander gelowe.

Lees ook: Rampreaksie: Ekumeniese netwerk nooi wyer samewerking as ooit om Christelike getuienis te konsolideer

Tydens hierdie bespreking, asook tydens opvolgende geleenthede vir gesprek het geblyk dat veral die voorstel van gesamentlike aanbiddingsgeleenthede by sommige heftige teenkanting ontlok het. Sulke geleenthede sou op neutrale plekke kon voorkom “of in kerkgeboue kon plaasvind”, word op ’n punt voorgestel in ’n vorderingsverslag wat spruit uit ’n sinodale opdrag aan die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake (ATLAS) om intergodsdienstige verhoudings te ondersoek.

Heelwat predikante het hulle kommer uitgespreek oor hoe hierdie voorstel deur hulle lidmate aanvaar sal word. “Ons sal vure moet doodslaan,” het een opgemerk terwyl ander gemeen het die voorstel om saam met ander gelowe te aanbid is so plofbaar soos ’n landmyn.

Luister ook:

Een van die sterkste stemme teen dié verslag deur ATLAS het gekom van die moderator van die Oos-Kaapse sinode, dr Chris van Wyk, wat ook besorg was dat die goedkeuring van die voorstelle in die vorderingsverslag verreikende gevolge vir eenheid in die kerk mag hê.

Lees ook: Stemme uit die sinode: Gebed vir Gasa en Israel

Daar was egter ook afgevaardigdes wat van die vloer af gereageer het dat hulle leiding sal waardeer oor hoe om as gelowiges op te tree by intergodsdienstige geleenthede. Ander weer het gemeen dat sulke skakeling ook ’n geleentheid bied vir getuienis juis deur die samewerking met “ander mense in ons samelewing … waar anders kan ons ’n getuienis bring as deur saam te werk?” het een retories laat hoor en bygevoeg dat dit nie vreemd aan die Bybel is “dat ons saamwerk met kontekste wat vreemd is aan ons tradisie nie … daarom is dit belangrik, dit is ’n oproep dat ons moet saamwerk …”

Lees ook: TIFSA: Geloofsgemeenskappe praat saam om land se uitdagings aan te spreek 

Dit is tydens hierdie gesprek dat Rademeyer opgestaan en vertel het hoe dit gekom het dat hy teen sy eie verwagting in homself bevind het waar hy ’n einde van Ramadaan-ete* met gebed open. Hy het vertel dat hy en sy vrou – ook ’n predikant – na hierdie ete genooi is deur hulle seuntjie se beste maatjie se gesin wat Moslems is. Tydens die samekoms het die ma vir Rademeyer gevra om die ete met gebed te open, al het hulle geweet hy en sy vrou is NG predikante. Rademeyer vertel sy ervaring was dat daar groot respek bestaan vir “ons verskille – dit kon ek ook beleef hierdie dag toe hulle met die ete vra dat ek as ’n Christen die gebed daar sal doen,” en dan sluit hy ons gesprek af met die deel van hierdie seënbede: “Mag God se liefde so ’n werklikheid in jou lewe word, dat ander God in jou sal beleef.”

  • Die vastyd van Ramadaan is ’n heilige tyd op die Moslem-kalender. Tradisioneel nooi Moslems familie, bure en vriende om saam met hulle die einde daarvan te vier.

Die Algemene Sinode het die volgende besluite rondom ATLAS se verslag oor intergodsdienstige verhoudinge goedgekeur:

  • Die Algemene Sinode versoek ATLAS om die Bybelse onderskeid tussen God en afgode, godsdiens en afgodsdiens in sy volgende verslag te verreken vir die kerk se gesprek met en oor sogenaamde ander godsdienste.
  • Die Algemene Sinode spreek dank uit teenoor ATLAS vir hulle vorderingsverslag asook die kommentaar van die vloer van die AS. ATLAS word versoek om ’n opgedateerde verslag aan die 10 samestellende sinodes te bedien wat die verskeidenheid van kommentaar wat van die vloer tydens die AS gelewer is, in ag neem. Die AS verwys die opgedateerde verslag na die 10 samestellende sinodes. Die AS neem ons belydenis van die drie-enige God as vertrekpunt en verwerp alle vorme van sinkretisme.
  • Voortspruitend hieruit kan ’n gespreksgids deur ATLAS en die Taakspan vir Evangelisasie ontwikkel word wat vir Christene konkrete leiding gee in hulle omgang met mense van ander gelowe, ook in publieke ruimtes. Die AS versoek dat hierdie gespreksgids voorgelê word aan die AS in sitting in 2027. Die AS versoek ATLAS om ’n werkgroep aan te wys om ’n ondersoek te doen oor die kenmerke, oortuigings en behoeftes van mense wat hulleself nie met enige godsdiensgroepering assosieer nie met verslagdoening aan die AS van 2027.

 

Kry al die besluite geneem by die 2023 Algemene Sinode HIER.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top