Op die ou saaidbord met die dowwe spieël teen die eetsaal se een muur flits ’n Kersboompie se liggies aan en af. By net twee tafels sit al mense.
Ons is nog in ons kerkklere.
’n Kelner in ’n rooi baadjie stap nader. Frans, staan op die plaatjie op sy bors.
“’n Geseënde Kersfees vir meneer-hulle,” sê hy.
“Dankie. Geseënde Kersfees vir jou ook,” sê ek en Pa byna gelyktydig. “Ons hét bespreek,” voeg Pa by.
Teen die dak maal ’n waaier se wye wit arms die bedompigheid in die vertrek in die rondte.
Frans lei ons tot by ’n tafeltjie en trek Pa se stoel vir hom uit. Onder die styselstyf servet op die kleinbordjie lê vir ons elkeen ’n klapper en daardie simpel papierkadotjie wat jy altyd saam met die klappers kry.
Iewers sing Boney M ’n Kersliedjie.
Lees ook: Dana Snyman: Vroeëre bekerings en ware bekerings
“Help uself gerus solank met die brood,” sê Frans en stap terug kombuis toe. “Ek sal nou meneer-hulle se bestelling kom vat.”
Die deur tussen die eetsaal en die kombuis het ’n silwer arm aan die bokant wat keer dat dit toeklap wanneer die kelner met borde daar in- en uitgaan. Die meganisme maak ’n ffft-geluid toe die deur agter Frans toegaan.
’n Kelner in ’n swart baadjie kom nader. Freddie.
“Enigiets om te drink, meneer?” vra hy en hou die wynlys in ’n swart omslag na Pa toe uit. Continental Hotel, staan in goue letters op die omslag.
“Ons sal die Grünberger Stein vat,” sê Pa sonder om die wynlys oop te maak.
Ek tel die stywe servet van die klein bordjie af op, vou dit oop en drapeer dit oor my skoot, maar byna dadelik gly dit weer af, tot op die bont Van Dyck-mat.
Buite die venster wieg ’n seun met lang hale op nuwe rolskaatse – moontlik ’n Kersgeskenk – in die straat verby.
Lees ook: Kerke wil graag ’n positiewe bydra maak tot die algemene verkiesing in 2024
Op die spyskaart is die gewone: Voorgereg eers sop, dan stokvis. Hoofgereg: Skaapboud of hoender, met rys, gebraaide aartappels en groente-in-seisoen, wat gewoonlik beteken dit is pampoen, boontjies, blomkool met ’n witsous – en ertjies wat uit ’n blikkie kom. Nagereg: Malvapoeding en vla. Maar as toegewing vir Kersfees is daar ook dadelpoeding en room. Nes verlede jaar en die jaar voor dít.
Ná die een Kersliedjie sing Boney M nog ’n Kersliedjie, daarna nóg een.
Frans kom weer nader, buk en tel eers my servet op die vloer op en gee dit vir my.
Ons bestel die groentesop, al is dit kokend warm buite. Vir ’n oomblik raak my en Pa se blik aan mekaar. Ons bestel sop omdat Ma sop sou bestel het, sê ons vir mekaar sonder om dit vir mekaar te sê.
Pa tel eerste ’n halwe snytjie witbrood van die bordjie in die middel van die tafel af op. Daarna lig hy die ronde deksel van die silwer bakkie langs die sout-en peperpotjie. Binne-in lê die bolletjies geriffelde botter. Sy vingers bewe toe hy met sy bottermessie op een van die geriffelde bolletjies druk.
Nog mense stap by die deur in: ’n pa, ’n ma, twee seuns en ’n dogter. ’n Gesin. In kerkklere. Hulle knik in ons rigting. “Geseënde Kersfees,” sê ons vir mekaar.
Ek lig die klapper, ’n gele, van die kleinbordjie af en hou die een punt na Pa toe uit. Ons vingers vind die kartonlelletjie in die klapper se langwerpige oor. Ons trek en, kwa!, die klapper spring oop en tussen ons op die tafel val ’n sleutelhouer met ’n klein sokkerbal aan die een punt.
Freddie bring die bottel Grünberger Stein en skink vir Pa ’n bietjie in sy glas om te proe. “Dis perfek,” sê Pa nadat hy die lekseltjie geproe het.
Boney M ken meer Kersliedjies as wat in die Halleluja-boek opgeteken is.
Frans kom weer by die kombuisdeur uit met een sopbord in die hand, die ander een rus op sy voorarm. “Ffft,” fluister die deur agter hom.
Hy sit die groentesop waarin wortelsnysels dryf voor ons neer terwyl die servet weer van my skoot afgly.
“Dalk moet ons hierdie opsit,” sê ek voordat ons begin eet.
Ek tel my papierkadotjie van die tafel af op. Pa doen dieselfde. Dit is ’n gesukkel om die ding oor jou natgeswete voorkop te kry. Maar die volgende oomblik sit ons daar met ons papierkrone op vir mekaar en glimlag.
“Kom ons maak ogies toe,” sê Pa asof ek weer vier of vyf jaar oud is.
Ons hou mekaar se hande vas terwyl hy bid. “Dierbare Vader, U weet sy is vandag in ons gedagtes, hier waar ons laasjaar nog saam geëet het …” Dan stol die woorde in Pa se mond. Vir ’n ruk sit ons met ons oë toe, sit ons net so, voordat Pa klaar bid. “Seën nou ook wat ons gaan eet, en laat ons U naam nimmer vergeet. Amen.”