Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Die kerkraad van die NG Kerk Citrusdal maak in biddende afhanklikheid die vakature van ’n voltydse leraar bekend.
GEMEENTEPROFIEL:
Citrusdal is ongeveer 175 km vanaf Kaapstad geleë en die gemeente is in 1916 gestig. Die Citrusdal-gemeente bestaan uit plaas- en dorpswyke, met ’n plattelandse dinamiek wat bepaalde uitdagings skep in die bediening. Citrusdal is ’n tipiese plattelandse dorp met groot afhanklikheid van die primêre en sekondêre landboubedryf. Die lidmaattal van ongeveer 1 000 bestaan uit 760 belydende lidmate en 260 dooplidmate. Ongeveer ’n kwart van die lidmate is ouer as 60 jaar.
Binne die gemeente se grense is Ons Huis, ’n tehuis vir bejaardes van Badisa, en nutsforum (ACT), ’n gemeenskapsontwikkelingsorganisasies wat fokus op die holistiese gesondheid van lede en die gemeenskap. Daar sal van die suksesvolle kandidaat verwag word om ten nouste met instansies te skakel.
LERAARSPROFIEL:
Gelegitimeerde leraars met sewe of meer jaar ondervinding sal voorkeur geniet.
Pligte word omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde, met die volgende fokus:
- ’n Lewende, persoonlike verhouding met God Drie-enig en sekerheid van die roeping om in God se diens te staan.
- Woordgetroue, inspirerende en verstaanbare prediking, verbind aan die gereformeerde leer en belydenisskrifte van die kerk.
- ’n Dinamiese persoon wat beskik oor tegnologiese vaardighede.
- ’n Mens-mens wat met alle generasies goeie verhoudings kan bou en handhaaf.
- ’n Energieke persoon met ’n passie vir geestelike versorging, met kreatiewe en vernuwende Skrifgetroue denke.
- ’n Hart vir die aktiewe bediening op die platteland met die doel om ’n verskil te maak in ons wyer gemeenskap, gemaklik is met huisbesoeke en persoonlike kontak met lidmate in verskillende lewenstadiums.
- Goeie interpersoonlike vaardighede toon en verbind wees tot deelnemende bestuur en moet gemaklik wees om in ’n span te werk.
VERGOEDING:
Die vergoeding sal redelikerwys bepaal word volgens sinodale riglyne. Bykomend is ’n gerieflike en ruim pastorie beskikbaar.
AANSOEKE:
Belangstellendes moet asseblief die kerkraad van ’n toepaslike CV met vermelding van bedieningsvoorkeure, persoonlikheidskenmerke, spiritualiteit en ervaring, voorsien. Sluit minstens drie kontakbare referente in.
Adres: Die Skriba, NG Kerk Citrusdal, Kerkstraat 83, Citrusdal 7340.
E-pos: info@ngkerkcitrusdal.co.za
Sluitingsdatum vir aansoeke is: 31 Januarie 2024.
Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling uit die aansoeke te maak nie.
