Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Aansoeke word ingewag vir die leraarspos by die NG gemeente van Steynsburg vir ’n termyn van drie jaar (emerituspredikante is uit die aard van die saak baie welkom om aansoek te doen). Sou omstandighede dit toelaat, kan die termyn verleng word.
Profiel
Steynsburg is in die Noordoos-Kaap geleë, tussen 70 en 120 km vanaf Cradock, Middelburg, Burgersdorp en Aliwal-Noord. Die gemeente bestaan uit 97 belydende en 20 dooplidmate en vier in 2024 sy 150ste bestaansjaar. Ons het ook ’n tuiste vir bejaardes met sowat 60 inwoners van verskillende denominasies.
Ons is ’n stabiele landbougemeenskap, hoofsaaklik veeboerdery, maar danksy die Oranje-Visrivierskema ook besproeiingsboerdery. Die naaste goeie skole is te Cradock, Burgersdorp en Middelburg. Groot sentra soos Port Elizabeth, Oos-Londen en Bloemfontein is 300 tot 350 km ver.
Leraarsprofiel
Hoewel slegs die leraar in ons diens is, moet die leraar kan aanpas by ons gemeente en ook die breër gemeenskap, wat bestaan uit lidmate van susterskerke en die Engelse kerke wat by ons aansluiting vind. Ons streef dus om ’n gemeenskapskerk binne die bedieningsraamwerk van die NG Kerk te wees.
Die leraar is ’n dinamiese persoon met goeie menseverhoudings. Inspirerende verkondiging vir oud en jonk is belangrik. Hy/sy moet bereid wees om betrokke te raak by fondsinsamelingsprojekte en gemeenskapsorganisasies, soos die plaaslike landbouvereniging, om sodoende die mense van Steynsburg te leer ken. Die leraar moet liefde uitstraal en kan aanpas en lief wees vir die platteland.
Spesifieke pligte
- Goeie en getroue Woordverkondiging en sakramentsbediening.
- Weeklikse biduur by ons tuiste vir bejaardes en pastorale versorging van bejaardes saam met die aangewese kerkraadslid.
- Wyksbyeenkomste in ons vier wyke, in vennootskap met die kerkraadslede.
- Pastorale versorging.
- Uitreik na buitestanders en kerkvervreemde persone.
- Inskakeling van jongmense.
Vergoeding
’n Basiese vergoeding van R360 000 per jaar, plus gratis behuising en ’n vervoertoelaag of die beskikbaarstelling van ’n voertuig om kerklike take te verrig. Die besonderhede van die vergoedingspakket, sowel as die jaarlikse verlof, sal met die suksesvolle kandidaat onderhandel word.
Aansoeke
Stuur asseblief vir ons ’n CV van nie meer as drie bladsye, wat u persoonlike profiel en besonderhede van vorige ondervinding, asook die kontakbesonderhede van minstens drie referente insluit. U moet ook beskikbaar wees vir ’n onderhoud en preekbeurt/e.
Stuur aansoeke aan die Voorsitter Kerkraad, Braam Aboud, by e-pos: elsaaboud@gmail.com
Aansoeke sluit op 31 Januarie 2024 en die aanstellingsdatum is 1 Maart 2024, of so spoedig moontlik daarna.
Navrae: Braam Aboud, sel: 084 884 0081 (leierouderling).
Gerard Bekker, sel: 074 699 3495 (voorsitter bou- en finanskommissie).
Die kerkraad behou die reg voor om geen aanstelling te maak uit die aansoeke wat ontvang word nie.
