Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
J.A. (Arnold) Griesel van Bethulie skryf: Op 16 November 2023 skryf Jan Lubbe ʼn rubriek “Die ware kerk in wording: Een, heilig, katoliek”, waarin die eenheid van die kerk en die merktekens van die ware kerk (suiwer woord, sakramente, en tug) pragtig beskryf word met verwysing na die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) Artikel 29.
Die rubriek noem egter dat wanneer die NGB bepaal dat die ware en valse kerke “maklik” van mekaar onderskei kan word, hierdie onderskeid herken kan word deur “hoe mense met mekaar omgaan… [en] hoe hulle met mekaar praat in daardie ‘heilige vergadering’.” Geloofsinhoud en leer word egter nie genoem nie, ten spyte van die feit dat Artikel 29 (wat nie net die merktekens van die ware kerk noem nie maar ook van die valse) juis valse leer uitwys as ‘n kenmerk van die valse kerk: “[Die valse kerk] skryf aan homself en sy besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord van God…… neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.”
Die rubriek ignoreer laasgenoemde aanhaling, maar dit is duidelik dat, volgens die NGB, die inhoud van die geloof – nie slegs menseverhoudings nie, so belangrik as wat dit wel is – deurslaggewend is in die bepaling van die ware of valse kerk. So ook is die slagspreuk semper reformanda (voordurend reformerend) — waarna verwys word in die rubriek — onvoltooid en misleidend sonder die bylas secundum verbum Dei (in ooreenstemming met die woord van God). Kerkelike eenheid is iets waarna alle Christene moet streef, maar nie ten koste van die ware leer soos bepaal deur die Skrif en opgesom in die geloofsbelydenis nie.
Die fondasie van die gemeenskap van die heiliges is gemeenskaplike getrouheid aan God se woord.
