Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die foto van dr Andrew Murray en een van sy seuns verskyn in 'Andrew Murray Letters to his children: Exposé of a vulnerable father'. Foto: A Creiner, Amsterdam

BOEK: Bundel herdruk wat Andrew Murray as ‘weerlose pa’ bekendstel

Dit is eers as mens iemand regtig ken dat jy hulle kan vertrou. Of is dit? Hoe kan ’n mens iemand as mens leer ken meer as 100 jaar na hulle dood?

So begin dr Isabel Murray die “Uitnodiging” wat sy rig in Andrew Murray – Letters to his children: Exposé of a vulnerable father. ’n Herdruk het pas verskyn van hierdie pragbundel van 542 blaaie gevul met transkripsies van handgeskrewe briewe, bondige lewensverhale van elkeen van die volwasse Murray-kinders en familiefoto’s wat sy saamgestel het.

Die boek is die vierde publikasie van die NG Kerk in SA Argiefreeks.

Sy skryf dat dit nie haar bedoeling was om nog ’n boek oor hierdie bekende teoloog en kerkleier van Wellington uit te bring nie. Sy was tevrede om te weet dat hy een van haar oupa se ooms was. Tot sy die briewe ontdek wat hy en sy agt volwasse kinders vir mekaar geskryf het. Wat sy gelees het, het haar voormalige gebrek aan belangstelling “weggeblaas”, skryf hierdie argiefnavorser oor haar vonds tussen die honderde ander briewe en dokumente in die Andrew Murray-privaatversameling by haar werkplek, die NG Kerk in SA se Argief op Stellenbosch.

Isabel skryf dit het vir haar gevoel sy hoor haar eie pa se stem in dr Andrew Murray se briewe aan sy kinders: “It seemed to me that I was listening to my father … here in my hands I held words of such presence, such reverence and ultimately so painful and full of wisdom that I could not put it down”.

Dr Andrew Murray het meer as 240 boeke geskryf waarvan sommige vandag nog herdrukke beleef. Oor hierdie invloedryke visionêre missioloog, soos sy hom omskryf, is ook talle boeke geskryf, maar sover sy kon agterkom is die verhale van die Murray-kinders nie in hierdie boeke opgeteken nie. Dit het haar daarom verras en diep geraak om te lees wat van hulle deurgemaak het. Daar was babasterftes, werksverlies, kritiek van ander en ook worsteling met roeping en selfs oor geloofsekerheid. Vier van sy dogters het gekies om ongetroud te bly en loopbane te volg “in diens van die Here”. Sy oudste seun, Haldane, wat soos sy pa predikant wou word, het weer tydens sy teologiese studies in ’n brief geskryf dat hy die “geloof van sy pa” verlaat.

Isabel skryf dit het vir haar gevoel sy hoor haar eie pa se stem in dr Andrew Murray se briewe aan sy kinders.

Sy skryf sy kon identifiseer met hierdie Murray-voorsate van haar se “brokenness and journeys of deep struggle, faith, endurance, perseverance and trust”. Sy het Kerkbode onlangs vertel dat dié ervaring haar so bemoedig het dat sy die vele lesers wat “soos ek, hom as amper onaantasbare/heilige skrywer ken” deur hierdie boek wil uitnooi om hierdie ander minder bekende sy te leer ken. Soos sy skryf in die boek as ’n “father who dared to be vulnerable before God and his children”.

Lees ook: Vars, statige interpretasie van Skotse invloed op NGK

Dit is ook juis die eerlikheid in die briewe wat mense aanraak wat die boek lees, vertel sy verder. So skryf een leser, ook ’n predikant, vir haar dat wat hom tref is die boek se subtitel, Exposé of a vulnerable father, “… because here we are not dealing with an autocratic patriarch, but indeed with a loving, vulnerable father. Although he constantly acts as a spiritual guide for his children, it is always with understanding for the specific child to whom he is addressing the letter”.

Hierdie leser het bygevoeg dat Murray se noue verhouding met al sy kinders, ook dié wat hulle “eie pad volg” hom, self ’n dominee-pa, bemoedig: “Although the majority of the Murray children followed in their parents’ footsteps, some also followed their own path. Andrew did not allow this to cloud his relationship with them – and in that there is great comfort and encouragement, also for me as a minister father”.

Meer oor die boek

Die boek is die vierde publikasie van die NG Kerk in SA Argiefreeks. Die eerste uitgawe het in Mei 2022 verskyn om saam te val met die herdenking van die koms van die Murrays se stamvader, ds Andrew Murray snr, na Suid-Afrika in 1822. Hy het 16 kinders gehad waaronder die bekende dr Andrew Murray. Een van sy broers was George, dr Isabel Murray se oupagrootjie.

Die boek is uitgegee met die finansiële ondersteuning van Clairvaux Skrywershuis en privaat donateurs. Die eerste uitgawe het uitverkoop waarna ’n beperkte oplaag onlangs herdruk is. Dit kos R600 en kan aanlyn by isabellemurray73@gmail.com bestel word.

  • Dr Isabel Murray is ’n navorsingsgenoot by die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie, Fakulteit Teologie, US.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top