Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Christo Jonck is die predikant in sinodale diens by die NG Kerk van Noord-Kaapland. Sy storie oor sy eerste gemeente klink so effens anders as die van meeste ander dominees want hy moes dominee wees en ook boer om die gemeente se finansies te help. Foto: Estian Mentz

Mentz se mense: Christo Jonck – die dominee met die kort vingers en groot hart


Ds Christo Jonck het in meeste kringe in die NG streeksinode van Noord-Kaapland waarskynlik nie ’n bekendstelling nodig nie. Hy is bekend as iemand wat altyd reg staan om te help waar hy kan. Dis nooit te laat, of te vroeg om hom te bel nie, skryf Estian Mentz

Meeste dominees is meestal gewillig om te help, maar as ek sê by Christo is dit nooit te laat of te vroeg, of te vêr of te naby nie, dan bedoel ek dit. Hy het dalk nie al die antwoorde nie, maar hy kom baie naby daaraan en as hy nie weet nie, gaan vind hy uit.

Ek het die voorreg om vir Christo te ken, as kollega en ook as ’n vriend duisend, soos die spreekwoord lui. Ons drink graag koffie, of ’n Coke Zero saam en dan gesels ons oor allerhande dinge. Iemand met ’n groter passie vir die NG Kerk sal jy nie sommer kry nie, en dan is hy nogal slim ook. 

Geborg

Sy storie oor sy eerste gemeente klink so effens anders as die van meeste ander dominees s’n. Sy eerste gemeente, na Kweekskool, was Hartskroon gemeente. Dit is naby Jan Kempdorp, op mens se pad Vryburg toe – amper in die middel van êrens. Tydens sy onderhoud moes hierdie onlangs getroude predikant hoor hy moet beide dominee wees en ook boer om die gemeente se finansies te help. Hy vertel baie hoe een van die ander kandidate sommer daar en dan besluit het die pos is nie vir hom nie, “hy’s geroep tot die bediening, nie om te boer nie.” Maar Christo het boerdery in sy bloed, en so het sy bedieningsreis begin. 

Lees ook: Mentz se mense | En toe vra dominee, teken vir my wat jy in jou geestesoog sien

Na 11 jaar op Hartskroon, is hy beroep na Die Oog-gemeente op Kuruman waar hy 13 jaar weer beide predikant en steeds boer was – hy het deeltyds met bees geboer op hulle familiegrond naby Reivilo. In 2023 word hy voltyds aangestel as die predikant in sinodale diens (PSD) van die Noord-Kaapland streeksinode. Vir die eerste ses maande het hy gekies om die byna 240 km te pendel van hulle huis in Kuruman na Kimberley waar die sinodale kantore is. Dit was sodat hulle jongste twee kinders die skooljaar kon klaarmaak. 

Tydens hierdie op en af geryery het ons mekaar goed leer ken. Ek kon sien al was hy lewensmoeg van die gejaag dat hy nie moed of spoed verloor vir een van die twee werke wat hy toe gehad het nie. Daardie selfde passie het net so oorvertaal na sy voltydse pos as PSD in Kimberley.

Ds Mossie Mostert, wat vir 16 jaar voor Christo in die PSD-pos was, het groot skoene gelaat om te vul. Christo kom en doen net dit. Die werk van die sinode gaan sonder fout voort, en word net al hoe sterker en sterker. 

Lees ook: Sinode Noord-Kaapland : Geld stroom in vir droogtehulp, gesprek oor kerkverband duur voort

Hoekom noem ek hom die dominee met die kort vingers? Hy het die vingers aan sy linkerhand verloor toe hy jonger was en saam met sy broer staalwerk in Kimberley gedoen het. Een of ander masjien het bo-oor sy vingers gerol en die moes afgesit word. 

Geborg

Die grap in die sinodale kantoor is dat ons gelukkig nie ons hoef te bekommer oor hy wat lang vingers kan hê nie. 

Een van die stories wat ek altyd sal onthou, en ook graag oorvertel gaan oor iets wat gebeur het by een van ons Algemene Sinodale Moderamen (ASM) vergaderings verlede jaar. Toe hierdie een vergadering afsluit, moes ons een hand in die lug opsteek om seën te kon ontvang, en die ander voor ons uitstrek om seën te kan gee. Die grap aan ons tafel was hoe Christo hierdie handeling moes voltooi. Gee hy meer seën en ontvang minder, of ontvang hy meer en gee minder. Ons klomp Noord-Kapenaars het maar gesukkel om ons gegiggel in te hou. Later het hierdie oomblik heelwat gesprek in ons groep ontlok oor seën gee en ontvang. Ek dink op ’n manier is Christo se linkerhand vir ons ’n herinnering dat ons die genade en seën wat ons ontvang, voortdurend moet gee ook. 

Vir my is hy altyd die dominee met die kort vingers en die groot hart.

  • Ds Mentz is leraar by NG Gemeente Kimberley-Harmonie. Hy skryf ook graag stories oor die mense van die Noord-Kaap. Sy e-posadres is: estian@ngkharmonie.co.za.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.