Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

In die vergadering vra ons voorsitter ds Rudi Janse van Vuuren vir ons die volgende: “As jy dink oor die Noord-Kaap NG Kerk, watter prentjie sal jy teken?”. Foto: Verskaf

Mentz se mense | En toe vra dominee, teken vir my wat jy in jou geestesoog sien

Tydens ’n onlangse sinodale vergadering in Kimberley vra die voorsitter dat die groep prentjies teken oor wat hulle sien as hulle dink oor die NG Kerk in Noord-Kaapland. Die gesegde lui immers dat ’n prent meer kan sê as ’n duisend woorde. Estian Mentz was daar en vertel meer. 

Estian Mentz

Die storie van die Noord-Kaap is, soos enige ander plek, ’n storie wat gevul word deur duisende stories van die mense wat hier was, is en nog sal wees. Dis ’n moeilike deel van ons land, ’n harde wêreld soos sommiges sê, maar hier sal ons bly, en hier sal ons oorleef.

Die storie van die NG Kerk Sinode van Noord-Kaapland is presies dieselfde, duisende mense se stories het gehelp vorm, skaaf, skuur, bou en breek om te kom waar ons vandag is. Waar ons in hierdie taai wêreld steeds kan uitroep dat God bo alles nog in beheer is, vir ons omgee en elke dag met ons is. Want, as jy regtig daaroor eerlik moet wees, hier in die Noord-Kaap het mens nie veel anders om aan vas te klou nie. 

Lees meer: Estian Mentz skryf: Waar ek bly, is mense moeg om oor eenheid en samewerking te hoor

Maar wat my tans opgewonde maak oor hierdie dorre, harde landskap en sy mense is die gesprekke wat aan die gang is binne die Sinodale gebied. Hierdie afgelope week het ons vir twee dae lank vergaderings gehou in Kimberley by die sinodale kantoor. Ons is nie soos ander sinodes in die sin dat ons ’n verkose leierskap het nie, hier is ons almal deel van die gesprek en almal op dieselfde vlak wanneer dit kom by gesprekke, besluite en rigting bepaal. Daar is egter iets uniek aan ons sinode, ons het nie ’n moderatuur nie, maar eerder deputate. Dit is nou die voorsitters van die vier kommissies (elk met ’n klompie taakspanne), die predikant in sinodale diens (PSD), en dan Caritas se direkteur wat die deputate vorm. Die deputate speel die “rol” van ’n moderatuur, sonder om dit te wees. Ons is werklik net ’n skakelbord wat al die lyne bymekaar probeer hou, en die “oproepe” in die regte gaatjie druk sodat die lyn deur die regte persoon, of taakspan opgetel kan word sodat ons werk gedoen kan word.

Hierdie groep, tesame met die ondervoorsitters en skribas van die onderskeie kommissies (SKDG en SKBO) het hierdie week bymekaargekom, en al het ons ’n formele agenda gehad om te bespreek en sekere goed wat in plek moes kom, het ons gesprek ietwat in ’n ander rigting ingeslaan. Op ’n sekere punt in die vergadering vra ons voorsitter ds Rudi Janse van Vuuren vir ons die volgende: “As jy dink oor die Noord-Kaap NG Kerk, watter prentjie sal jy teken?”. Ons kry so minuut om te dink hieroor, want hoe vang mens ’n hele sinode op in een prentjie. Dit terwyl hy weet nie een van ons is kunstenaars nie, maar tog staan die vraag nou daar vir ons. 

Die prentjies begin stadig, en dit wat uitkom uit ons geskribbel teen die blaaibord is eenvoudige goed. 

Die prentjies begin stadig, en dit wat uitkom uit ons geskribbel teen die blaaibord is eenvoudige goed. Maar uiters kragtig as die verduideliking bykom. Die eerste van die prentjies is die van trappies, met twee stokmannetjies wat aan mekaar vashou. Die verduideliking daarna oortref my verwagting. Ds. Louwtjie Louw deel met ons dat hy die ding so sien: Die “ouer” predikante en leiers in die Noord-Kaapland Sinode moet met hulle kundigheid en ervaring die jonger predikante en opkomende leiers vashou, optrek en uiteindelik laat voor loop. Die tweede prentjie is die van ’n kerkie wat lyk of hy eerder nie gebou sal kan word nie. Die kruisie op die dak sê darem dat dit wel ’n kerk is. In die middel van die kerk is daar ’n groot hart geteken. Die hart in die middel van die kerk sê vir ons dat ons in hierdie tawwe wêreld steeds ’n sinode/kerk is wat liefhet, omgee en gasvry is met mekaar.

Derdens sien ons die prentjie van ’n son wat verskyn op die blaai. “Dit raak warm hier” sê Ds. Neeltjé Fouche. Om hier te kan oorleef moet jy kan vasbyt. Jy moet “harregat” wees. Jy moet die lewe kan hanteer en deur elke moeilikheid kan kom om môre weer te kan sien. Dit is ’n feit van Noord-Kapenaars. Hulle is harde mense, wat kan en sal oorleef maak nie saak wat na hulle kant toe gegooi word nie. Ek word opeens herinner aan die Teologiese fakulteit op Stellenbosch se leuse: Sol Ijustitea Illustra Nos.  Alhoewel ek dink die woorde vrek warm moet voor die son inkom as mens oor die Noord-Kaap praat. 

Lees ook: Virtuele Red ’n plaas Camino: 92-jarige in rolstoel samel duisende in met meer as 500 keer om kerk in Noordwes

Die vierde en vyfde prentjies begin vir ons vertel van die Noord-Kaap se mense, en ook die rol wat God speel. Die eerste van die twee is ’n klomp stokmannetjies wat langs mekaar geteken staan, asook een wat bietjie verder weg staan. Dit wys vir ons iets van die mense hier, mense wat omgee, liefhet, en mense wat nooit iemand agter laat nie, al staan jy bietjie vêr weg. Die staf is volgende. Dit vorm deel van ons Sinode se embleem, en wys vir ons hoe die staf van die Here altyd naby is, altyd betrokke is op ons paaie. In die PSD se kantoor is daar ’n geweldige groot prent met Psalm 23 opgeskryf. Meerkatte in die agtergrond, en elke keer as mens daar kom word jy gevra wat vang jou oog. Op die oomblik vang die gedeelte “Hy lei my op die regte paaie” my oog.

Die laaste drie prentjies is die van ’n kameeldoringboom, ’n stokmannetjie wat hardloop en dan vier prentjies wat bo oor mekaar geteken word. Die kameeldoringboom is ’n merkwaardige ding sê ds. Keydy O’Callaghan. Hy gee baie skadu, en ook baie kos, maar as daar te veel aan een boom gevreet word dan begin skei hy een of ander stof af wat die diere eers weghou, en so kan hy aanhou skadu gee vir die wat hom nodig het. Die stokmannetjie wat hardloop, sê weer dat al gaan die lewe soms bitter vinnig, ons tog moet onthou dat ons op pad is êrens heen. 

Die laaste prentjie wat geteken word, is vier keer oor mekaar geteken. Eers is dit rofweg die buitelyne van die Noord-Kaap provinsie. Dit wil wys op die geweldige groot geografiese area waarin ons probeer kerk wees. Ons is vrek vêr uitmekaar uit, en dit maak dit baie moeilik om sommer net gou-gou bymekaar te kom, maar ons probeer. 

Die buitelyne word met ’n vierkant vervang en weereens hoor ons dat die Noord-Kaapland sinode ’n harde plek is om in te woon en te werk, en dat die siening daar buite is dat daar eenvoudig net een manier is om goed te doen en dis dit. 

Derdens word die vierkant weer vervang met ’n sirkel, ’n sirkel wat ons aan mekaar bind, waar daar nie ’n begin of ’n einde is aan ons saamwees nie.

Laastens word alles vervang met ’n groot hart, ’n groot hart in die hardste deel van Suid-Afrika, waar ons te midde van allerhande dinge steeds mekaar uiters liefhet, vir mekaar omgee en mekaar eenvoudig net nie sal los nie.

Lees ook: Dit skep hoop: Lidmate wat opstaan en roeping herken en erken …

Ons het saam gedroom oor die Noord-Kaapland sinode van die NG Kerk, en ons sal definitief nog baie moet droom, en nog saam met baie ander mense ook moet droom. Die Noord-Kaap se storie is verweef in soveel ander se stories, en daardie stories help ons weer om vorentoe te kan kyk. Hierdie plek klim onder mens se vel in, en jy kom nie sommer hier weg nie. Ons sal nog baie stories deel, baie ure saam praat en baie kilometers ry om mekaar te sien, maar hier sal ons kerk wees.

  • Ds Mentz is leraar by NG Gemeente Kimberley-Harmonie. Hy skryf ook graag stories oor die mense van die Noord-Kaap. Sy e-posadres is: estian@ngkharmonie.co.za.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top