Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
NG Kerk Bethulie (dolerend)
Vakature: Vastetermyn leraarspos (drie jaar)
Sluitingsdatum: 19 Maart 2024
LIGGING EN GEMEENTEPROFIEL:
Die NG Gemeente Bethulie is ’n plattelandse gemeente, geleë in die Suid-Vrystaat, ongeveer 180 km vanaf Bloemfontein. ’n Mens draai by die Springfontein-Suid aanwysing van die N1 af en ry in ’n oostelike rigting waar die R715-roete (teerpad) jou neem tot in Bethulie.
Die gemeente is in 1862 gestig en bestaan reeds deur die genade van die Here vir die afgelope 159 jaar. Die gemeente se samestelling is multikultureel en word by twee punte bedien, naamlik by die hoof kerkgebou in die middedorp en by die kerksaalgebou in Cloetespark. Eredienste word by beide bedieningspunte op Sondae gehou. Die gemeente bestaan tans uit ongeveer 192 belydende en 23 dooplidmate in die dorp en 189 belydende en 102 dooplidmate by Cloetespark. Baie van die lidmate is bejaard en sommige hulpbehoewend.
Die hoof kerkgebou gemeente is verdeel in agt dorpswyke en vier plaaswyke. Cloetespark het drie wyke en een buitewyk (die plase). In die dorp is ’n aftree-oord waarby die gemeente betrokke is.
GEMEENTE SE GELOOF- EN SKRIFORIËNTERING:
Die gemeente bely dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is wat deur die Heilige Gees geïnspireer is en ons roep tot Skrifgetroue en gehoorsame navolging van Christus. Die gemeente onderskryf ortodokse gereformeerde hermeneutiek met Skrifgesag sentraal daarbinne – die ernstige behoud en huldiging van die tradisioneel gereformeerde en ook tradisionele Bybelse Christendom.
Skrifbeskouing oor teologiese sake soos die bestaan van die duiwel, die maagdelike geboorte, die opstanding en hemelvaart en die wederkoms van Jesus Christus as die enigste Verlosser is onderhewig daaraan. Daarmee saam resorteer die heiligheid en uniekheid van die huwelik as lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou, as die enigste instelling van God, wat nie gedupliseer kan word nie. Dit kulmineer daaruit dat seksualiteit binne die huwelik hoort. In ooreenstemming daarmee verwerp die gemeente daarom ook die Algemene Sinode se besluite van 2019 en ooreenstemmende voorafgaande besluite daaroor. In kort, die gemeente onderskryf die NG Kerk se drie formuliere van eenheid (belydenisskrifte) en die Bybel, in die tradisionele tradisie en definisie daarvan.
Die NG Gemeente Bethulie is ’n dolerende gemeente sedert Oktober 2020 ten einde hierdie geloofsoriëntasie te gehoorsaam en ook te treur vir die nienakoming van Bybelse lering wat nie die toets van die gereformeerde belydenis deurstaan nie. Die gemeente neem deel aan en is ook stigterslid van Koinonia Sinode wat op 4 Mei 2023 tot stand gekom het.
LERAARSPROFIEL EN AMPSPLIGTE:
Die volgende is vir die kerkraad baie belangrik:
- Van die aansoeker word verwag om in ’n toegewyde verhouding met die Here te leef en gehoorsaam te wees aan die NG Kerk se legitimasie-eed wat hy/sy as voorvereiste vir bediening in die NG Kerk afgelê het. Daar word van hom/haar verwag om daarvolgens die roeping van die Here om as leraar diensbaar te wees, in die gemeente uit te leef.
- Van die aansoeker word Skrifgetroue Woordverkondiging en -standpunte verwag soos uitgespel in die gereformeerde tradisie van die drie formuliere van eenheid (belydenisskrifte) en die Bybel.
- Hy/sy moet dwaalleringe verwerp en die gemeente Skrifgetrou leer van “So sê die HERE”. Dit word in die legitimasie-eed van die NG Kerk voorgeskryf en is deur die applikant afgelê.
- Entoesiasme en oortuiging in die bediening van die Woord word as belangrik geag om geestelike groei te bevorder.
- Iemand vir wie die hou van wyksbyeenkomste, huisbesoek op versoek en pastorale besoeke op aanvraag belangrik is.
- Iemand wat ook lief is vir jeugbediening en aanklank vind by die jeug, nieteenstaande dat sowat 56% van die hoofgemeente se belydende lidmate bo 55 jaar oud is.
- Iemand wat lief is vir lofprysing waar gebruik gemaak word van die orrel en alternatiewe begeleiding.
- Die aansoeker moet ’n aanvoeling hê vir die plattelandse bediening in die Vrystaat en meelewend wees in die wyer gemeenskap.
- Iemand wat begrip het vir die uitdagings wat die landbou hedendaags beleef en die invloed daarvan op lidmate en die totale gemeenskap.
- Kennisname en onderskrywing van die gemeente se geloof- en Skriforiëntering asook doleerstatus.
VERGOEDING:
Pakket onderhandelbaar, wat ’n ruim pastorie, wat beskikbaar is vir inwoning, insluit.
AANSOEKE:
Aansoeke moet vergesel word van ’n CV wat nie langer as drie bladsye is nie, met kontakbesonderhede van ten minste twee verwysings sowel as ’n stem/video-opname van twee preke. Aansoekers, gekortlys vir moontlike aanstelling, mag ook versoek word om in persoon ’n diens in die kerkgebou, sowel as in die kerksaal in Cloetespark waar te neem.
Rig aansoeke aan:
Die Voorsitter: NG Gemeente, Bethulie
E-pos: junior@zipplink.co.za
Sel: 082 789 6223
Sluitingsdatum: 19 Maart 2024
NAVRAE:
- Voorsitter kerkraad: Junior Jacobs 082 789 6223
- Skriba: Ohna Beukes 082 410 1932
Die kerkraad behou hom die reg voor om geen aanstelling te maak nie.
